Ntando (25) en haar man, Khaya (31), het die naweek die groot nuus in die sosiale media gedeel dat hul eersteling op pad is.

Die paartjie het op 2 Desember 2017, net drie maande nadat hulle begin uitgaan het, afgehaak.

Khaya het vroeër vanjaar in ’n onderhoud met Huisgenoot se susterstydskrif DRUM behoorlik oor sy vrou gekoer. "Ek is lief vir haar omdat sy haarself en ander respekteer. Buiten haar prestasies is sy ’n wonderlike persoon. God het my gehelp om ’n vrou te kry wat lief is vir God en familie. Sy is ’n gedissiplineerde vrou met sterk familiewaardes," het hy toe vertel.

Ntando het vroeër vandeesmaand ’n foto gedeel van haar en man wat smoorverlief lyk terwyl hulle hul huweliksherdenking vier.  "’n Jaar gelede het ek ja gesê vir hierdie man. Vandag sê ek steeds ja. Môre sal ek weer ja sê," het sy toe geskryf.

Khaya, wat in 2012 die agtste seisoen van die sangkompetisie Idols gewen het, het die naweek ook ’n foto van hom en Ntando, wat in 2016 as die mooiste vrou in die land gekroon is, op Instagram gedeel. Op die kiekie glimlag die twee breed van opgewondenheid terwyl hulle Ntando se groeiende babamagie vashou.

"Dankie dat jy een van die grootste geskenke in my lewe dra! Mag God hierdie nuwe reis seën, lief vir jou @mthethwa_ntando. Is dit ’n seun of dogter?” vra die sanger.

Ntando straal omtrent en het ook foto’s van haar groeiende bababoep met haar 157 000 Instagram-volgers gedeel.

View this post on Instagram

iNtandoyenkosi #NewManagement

A post shared by Ntandoyenkosi Kunene-Mthethwa (@mthethwa_ntando) on

Onder die gelukwensinge wat ingestroom het was van Liesl Laurie (27), wat in 2015 die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het. "Jy verdien alles en meer,” skryf Liesl, wat destyds tydens die 58ste Mej. Suid-Afrika-kompetisie by Carnival City aan die Oos-Rand die kroon aan Ntando oorhandig. 

"Swangerskap het nog nooit so goed gelyk nie," laat nog een van Ntando se volgers hoor. "Baie geluk, jy is pragtig en sal ’n wonderlike ma wees," sê nog een.

Ntando kan duidelik nie wag om ma te word nie. By een kiekie waar sy haar bababoep vashou en glimlag vir die kamera skryf sy: "Die mooiste deel van die lewe".