Vele het hom beny toe hy die kans gekry het om in die eerste seisoen van The Bachelor South Africa met ’n groep skoonhede uit te gaan, maar nou gaan ’n nuwe boek die katterigheid onthul wat agter die skerms afgespeel het.

The Truth Behind the Rose sal na verwagting al die drama, leuens en manipulering in die eerste Suid-Afrikaanse seisoen van dié gewilde afspraakprogram ontbloot.

View this post on Instagram

Fearlessly be yourself.????_ Shot by @byronlkeulemans .?? __ #quotestoliveby #LeeThompsonModel #raw #photography #model

A post shared by ?????? ?????? ???????????????? (@leethompson52) on

Dié boek deur Lee Thompson, wat verlede jaar ingestem het om The Bachelor te wees, delf in hoe die program se vervaardigers Lee glo beïnvloed het om tydens die roosplegtigheid vroue te kies en hoe die verfilming van die program hom geestesgesondheidsprobleme laat ontwikkel het.

“Ek het lank hieroor gedink,” sê Lee. “Ek wil hê mense moet die waarheid weet oor wat agter die skerms van die program aangegaan het; oor die vroue, die manipulering, die valsheid en die speletjies wat gespeel is.”

Tydens die program het die sakeman en model van Kaapstad ’n uiteenlopende groep van 24 aantreklike en suksesvolle vroue met goeie wyn en etes bederf.

Weke lank was kykers voor die kassie vasgenael terwyl hulle Lee se romantiese reis gevolg het. Op die ou end het hy die Johannesburgse grimeerkunstenaar Gina Myers gekies, maar die twee se verhouding was van korte duur.

“Toe M-Net my vra om The Bachelor te wees, het ek werklik geglo ek sou die een vrou vir my vind. Ek was uiters optimisties oor die situasie,” sê hy.

Foto: Instagram/@leethompson52
Foto: Instagram/@leethompson52

“Maar nadat ek op die program was en meer geleer het oor wat agter die skerms aangaan, sou ek ander keuses gemaak het. Daar was kere dat ek deur die vervaardigers gemanipuleer is om sekere vroue wat ek wou uitgehad het op die program te hou.”

In die boek word die gerugte ook aangeroer dat Lee Gina met die naaswenner Jozaan Digue verkul het.

“Ek sal in die boek oor van die vroue praat en baie van die vals gerugte weerlê wat die ronde gedoen het. Ek sal ook praat oor die geestesgesondheidsprobleme wat dit my laat ontwikkel het en vertel hoe ek dit oorwin het,” sê hy.

Al beweer Lee hy is nie berading aangebied nie, sê M-Net hulle bied hulp aan vir alle deelnemers wat aan hul werklikheidsprogramme deelneem, beide tydens vervaardiging en nadat die program voltooi is.

Op die vraag of die program staged is, sê ’n woordvoerder vir die kanaal: “Alle werklikheidsprogramme word geregisseer om die gehalte van vervaardiging, en nie die manipulering van die uiteinde nie, te bestuur”.

Foto: Instagram/@leethompson52
Foto: Instagram/@leethompson52

Lee skryf sy boek met die hulp van ’n redakteur en dit sal na verwagting in die nuwe jaar bekendgestel word.

“Dit gaan alles in my eie woorde wees,” sê hy. “Van die hoogte- en laagtepunte in my kinderjare, vorige verhoudings en my gesinslewe tot by sport, modelwerk en betrokke raak by sakewaagstukke. My boek sal ’n reuselas van my skouers af neem wat ek nou al ’n hele ruk saamdra.”

Al het hy nie op The Bachelor SA gevind waarna hy gesoek het nie, is Lee (31) nou smoorverlief. Hy gaan al ’n paar maande met ’n 36-jarige oogarts van Kaapstad uit.

Lee en en sy liefie. Foto: Instagram/@leethompson5
Lee en en sy meisie. Foto: Instagram/@leethompson52

Die verhouding is so ernstig dat hy ’n aanbod van die hand gewys het om aan The Bachelor Summer Games deel te neem. Met dié uitloperreeks word Bachelors en Bachelorettes van oral in die wêreld byeengebring om in sportuitdagings mee te ding. Die reeks is intussen ook vanweë die covid-pandemie van die baan af.

“Die dag dat ek haar gevra het om my meisie te wees, het ek daardie aanbod dadelik opsygeskuif,” sê hy. “Ek is ten volle toegewy net aan haar.”

Die twee het in Januarie ontmoet toe Lee haar genader en haar foonnommer gevra het. Al was sy eers huiwerig, het sy voor sy sjarme en aantreklikheid geswig. 

“Ons het begin gesels, ’n paar afsprake en ’n paar braaie gehad, en die een ding het tot die volgende gelei,” sê hy. “Sedertdien verloop ons verhouding baie goed. Ons het mekaar innig lief.”

Hulle het maar drie maande uitgegaan toe die inperking afgekondig is, maar Lee en sy meisie het saam ingetrek. Hy erken die verhouding is nog jonk en hy is nog nie reg om haar naam bekend te maak nie, maar die paartjie praat reeds oor met ’n gesin begin, en hulle het ’n Chinese keeshond met die naam Skyler gekoop “om ouerskap te oefen”.

Lee en Skyler. Foto: Instagram/@leethompson52
Lee en Skyler. Foto: Instagram/@leethompson52

Hy is verheug dat hy sy pasmaat gevind het. “Ek skop nou nes en is gretig om met ’n gesin te begin,” sê Lee, wat beplan om sy meisie se familie in Desember te ontmoet.

“Ek sien daarna uit om ’n ring aan haar vinger te sit en sake verder te voer wanneer die tyd aanbreek.”