Marc Buckner, ’n voormalige deelnemer aan die M-Net-werklikheidsreeks The Bachelor SA, het in ’n openhartige inskrywing op Instagram gevra vir heinings langs die Seepunt-promenade in Kaapstad. 

Marc en sy vriendin, Marisia van Wyk, wat ook aan The Bachelor SA deelgeneem het, se twee honde, Luna en Siobhan, is Sondag deur ’n motor getref. Albei honde het op pad na die veearts aan hul wonde beswyk. 

“Ek is nie gewoonlik iemand wat my gevoelens in ’n openbare plek soos dié deel nie, maar ek sien hoe Luna en Si so baie lewens aangeraak het,” het Marc op die sosialmediaplatform oor die voorval geskryf.

Marc en Marisia, wat gereeld met hul honde op die promenade gaan stap het, is oorval met ondersteunende en simpatieke boodskappe van aanhangers. 

“Ek is so dankbaar teenoor die honde vir alles, hulle het ons deur so baie gehelp, hulle het liefde, vreugde en lewenslesse gebring. Si en Luna was so gelukkig en so vry. Hulle was vol lewe en ek het hulle in soveel opsigte bewonder.”

In die inskrywing doen Marc ook ’n beroep op enigiemand wat hom kan help om die bal aan die rol te sit om ’n heining tussen die pad en die gras van die promenade te laat oprig. 

“Ons wil graag voorspraak maak vir ’n heining of afgekampte area langs die Seepunt-promenade. Baie diere en kinders is al op Beachweg raakgery en ons almal weet baie bestuurders slaan nie ag op die spoedbeperkings nie. Ek is oorval met stories hieroor, so as enigiemand ’n idee het oor hoe om te help of hierdie saak te bevorder, stuur asseblief vir my ’n e-pos,” vra Marc. 

Marc het vir Luna in 2018 aangeneem en sy het kykers se harte vermurwe toe sy ook in ’n episode of twee van die maatsoekreeks te sien was. Sy het boonop haar eie Instagram-blad gehad met meer as 4 000 volgelinge. Marc het gereeld mooi foto’s van hom en Luna op die blad gedeel.

Marc en Marisia het verlede jaar vir Siobhan, of Si, soos hulle haar genoem het, aangeneem.

“Ons het gister gaan stap in die area waar Luna en Si gesterf het, en ons het elke keer ineengekrimp wanneer ’n kar verby gevlieg het en ek opgemerk het hoe kinders en diere tot in die pad spring. Dit laat alles weer terugkom. Dit kon verhoed word deur ’n eenvoudige heining,” skryf Marc verder op sy Instagramblad.

“Ons sal wil seker maak dat dit nie alles verniet was nie, en dat hulle nie vergeefs gesterf het nie, soos baie ander wat al in dié straat seergekry het. Ek blameer niemand nie, veral aangesien ek so skuldig voel omdat ek hulle vry laat rondhardloop het. Maar ek moet aanhou om vir myself te sê dat dit ’n area is vir diere en kinders om vry rond te hardloop. Die meeste diere was nie aan ’n leiband nie,” lui die inskrywing. 

Hy en Marisia voel albei sterk oor die saak, sê Marc aan Huisgenoot. “Ons wil regtig probeer om iets goeds te doen, en hopelik kan daar iets goeds hieruit spruit,” sê hy. “ ’n Mens dink nie so iets kan so vinnig gebeur tot dit met jou gebeur nie.”

Baie mense het al vir hom e-posse met voorstelle gestuur, laat val hy.

“Dit is natuurlik baie sleg dat ’n tragedie soos hierdie gebeur het,” het Seepunt se DA-raadslid, Nicola Jowell, oor die voorval gesê. 

“Ek weet uiteraard nog nie wat die kans op sukses van so ’n aansoek sal wees nie, maar dit is beslis iets wat bespreek kan word. Die voorstel sal dan aan die Stad Kaapstad se departement van parke en ontspanning voorgelê moet word, waarna dit ook aan die publiek voorgelê moet word vir openbare deelname,” verduidelik sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe