’n Speelse knyp aan die boud hier; drukkies en soentjies daar – en dit sommer in die openbaar. Kyk ’n mens die openlike gekafoefel tussen Zara en Mike Tindall so, wonder ’n mens nogal wat die Britse koningin van haar kleindogter se gedrag dink.

Protokol bepaal dan dat die koninklikes skaars in die openbaar by mekaar mag inhaak, wat nog te sê liefdevol of selfs stuitig raak.

Dis byna ondenkbaar dat prins William en Kate so, wel, gewoon sou optree, wat nog te sê van koningin Elizabeth en prins Philip.

Die jong koninklikes wil dalk, maar volgens die voorskrifte van die koninklike etiketboek kan hulle hoogstens met hande vashou wegkom.

Blykbaar steur Zara, prinses Anne se dogter, haar min aan dié voorskrifte.

’n Vryerige oomblik die afgelope maand. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is immers doodtevrede daarmee om maar die 18de aanspraakmaker op die troon te wees, en sy kan met ’n bietjie meer as haar neefs en niggies wegkom.

Deesdae het sy en haar man koninklike aanhangers skoon op hol met hul vryerigheid. Dis moeilik om te glo die egpaar het hul tweede kind minder as drie maande gelede verwelkom.

Duidelik het die slapelose nagte en vuil doeke nie die romanse geblus nie, want die twee kan maar net nie hul hande van mekaar afhou nie.

Mike (39), ’n gewese Engelse rugbyspeler, is onlangs gekiek toe hy parmantig sy vrou se boud knyp by ’n perdrybyeenkoms in Gatcombe Park in Engeland.

Mike voer die Engelse rugbyspan aan in die Wêreldbekerrugbytoernooi van 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Glimlaggende Zara (37), wat informeel in ’n hemp en kortbroek geklee was, het dadelik die gebaar beantwoord deur oor te leun vir ’n soen. Net ’n paar dae later was die twee weer doenig, dié keer op ’n seiljag by die Isle of Wight-fees.

In bypassende reënbaadjies het die twee teen mekaar aangevly, duidelik van plan om die kort rukkie weg van hul dogters, Mia (4) en Lena (2 maande), behoorlik te benut.

Al is hulle al 15 jaar bymekaar, waarvan sewe getroud, kan die twee blykbaar skaars genoeg kry van mekaar. Sy is dalk nie die bekendste lid van die koninklike familie nie, maar Zara is beslis die mins bekrompe een.

’n Vryerige oomblik die afgelope maand. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het dalk gehelp dat sy nie met dieselfde beperkings as haar niggies en neefs grootgeword het nie.

Met haar geboorte het haar ouers, prinses Anne en Mark Phillips, die wenkbroue laat lig toe hulle die koningin se aanbod van die hand wys om vir hul kind ’n koninklike titel te gee.

Aangesien Anne die koningin se dogter is, was dit as’t ware vanselfsprekend dat Zara en haar ouer broer, Peter, titels sou kry, nes die geval met prins Andrew se dogters, Beatrice en Eugenie; dié twee het prinsesse geword.

Prinses Anne geniet dit om betrokke te wees by haar kleindogter Mia se lewe. Mike en Zara se tweede dogter, Lena, is in Junie vanjaar gebore. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar Zara is bly haar ouers het voet by stuk gehou. “Ons kon ’n effens normaler opvoeding kry,” het sy voorheen in ’n onderhoud gesê.

“Sodra jy ’n titel het, is dit baie moeilik om daarvan weg te kom. Ek is so bly albei my ouers het besluit om nie die titel te gebruik nie, en ons het grootgeword en al die dinge gedoen wat dit ons die geleentheid gegee het om te doen.”

Danksy haar niekoninklike status kon sy ’n suksesvolle ruiterloopbaan hê. As lid van Brittanje se driefaseruiterspan het sy in 2012 ’n silwermedalje op die Olimpiese Spele in Londen gewen.

Zara in 2012 met haar Olimpiese silwermedalje. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit gee haar ook die vryheid om haar toegeneentheid teenoor haar man in die openbaar te betoon. Terwyl in stugge Engelse kringe vraagtekens hang oor of sulke vatterigheid vir ’n koninklike gepas is, meen die Britse raadrubriekskrywer Bel Mooney alle paartjies kan daarby baat vind om Mike en Zara se flirterige voorbeeld te volg.

“Sulke gebare sê: ‘Weet jy, ek dink jy is wonderlik – en ek is hier vir jou. Altyd.’ Dis wat ek in die Tindalls se lyftaal lees. Die man is duidelik steeds dol oor sy vrou, en sy oor hom,” skryf sy in ’n rubriek in die dagblad Daily Mail.

Bel sê sulke interaksies is baie belangrik in ’n verhouding, want dit smee pare saam en maak dit vir hulle makliker om swaarkry te oorkom.

“Honderd klein betonings van teerheid en besorgdheid versag die hart,” voeg sy by.

“Dit is die klein kerse wat die donkerte verlig.”

En dis nou maar seker: Al is die Tindalls so ryk en bevoorreg, het hulle hul aandeel swaarkry beleef. Skaars weke ná hul troue in 2011 moes Mike bontstaan met ’n verduideliking nadat hy afgeneem is toe hy ’n onbekende blondine in ’n kroeg in Nieu-Seeland betas en soen terwyl hy Engeland in hul Wêreldbekerveldtog aangevoer het.

Ten spyte van die vernederende skandaal het Zara by haar man gestaan en het hulle baba Mia ’n paar jaar later verwelkom. Die tweede wagtyd vir die ooievaar het nie glad verloop nie.

Zara het twee traumatiese miskrame beleef. Die eerste een was op Oukersaand in 2016 toe sy vier maande swanger was. “Dit was ’n tyd toe my familie na vore gekom en ek hulle nodig gehad het. Ek moes voortgaan om die baba te kry, want ek was so ver swanger,” het sy in ’n onlangse onderhoud onthul.

’n Paar maande later het sy weer swanger geraak en ’n tweede miskraam gehad, maar dié een het al vroeg gebeur. “Jy moet ’n tydperk deurmaak waarin jy nie daaroor praat nie, want dis te rou, maar soos met alles is tyd ’n goeie geneser,” sê sy.

Gelukkig is baba Lena toe op 18 Junie gebore, gesond en alte oulik. Dis duidelik die Tindalls geniet deesdae die lewe en dat hulle dinge soos ’n gewone gesin doen.

Hopelik kan Will en Kate en Harry en Meg hulle ook buite die openbare oog so sorgeloos gedra . . .

Bronne: TIMES.CO.UK, EXPRESS.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK