David en Victoria Beckham moes egter tot hul skok uitvind dat dit nie sommer alledaagse kwaaddoeners is nie. Dis glo ’n geharde spul misdadigers wat aan ’n reisende bende behoort.

Luidens berigte is dié bende, wat al langer as 30 jaar aan ’n string inbrake, moorde, afpersing en dwelmhandel gekoppel word, na bewering in die weste van Engeland gebaseer. Die verdagtes is glo ’n familie wat met ernstige misdade verbind word. "Hulle is die hoofverdagtes vir die Beckham-inbrake," sê ’n bron. 

Die Beckham-gesin se herehuis in Great Tew, Oxfordshire, in Engeland, is op 19 Oktober die eerste keer deur gemaskerde rowers geteiken terwyl hulle in Australië was terwyl David (43) daar onder meer vir prins Harry (34) tydens die Invictus-spele ondersteun het.  

David het vanuit Australië werk gemaak van die situasie en gereël dat alle bestaande veiligheidsmaatreëls by die herehuis van sowat £6 miljoen onmiddellik opgeskerp word met die toevoeging van gereelde patrollies en waghonde.

Net ses weke later, terwyl die gesin weer nie tuis was nie, het daar weer rowers op hul huis toegeslaan. 

Die twee waghonde en sewe veiligheidsmanne het egter daarin geslaag om die "ongenooides" die skrik op die lyf te jaag.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

"Dit voel nou soos ’n aanhoudende poging om die huis te teiken wanneer hulle weg is," sê iemand na aan die gesin.

David is glo woedend omdat selfs die verbeterde veiligheidsmaatreëls te kort geskiet het. Hy wil baie graag 'n normale lewe probeer lei met sy gesin, wie se veiligheid en beskerming sy hoogste prioriteit is.

Die herehuis in Great Tew, Oxfordshire, is een van die Beckhams se gunsteling-eiendomme waar David, Victoria (44) en hul kinders, Brooklyn (19), Romeo (16), Cruz (13) en Harper (7), graag naweke saam spandeer.

Bronne: metro.co.uk, marieclaire.com, msn.com, dailymail.co.uk