Die spookagtige beelde van die drie mans wie se oë deur die openinge in die maskers gloei, is nie iets wat gou vergeet sal word nie.

Veral Victoria (44) was baie geskok en verpletter oor die voorval en hoe naby die drietal daaraan gekom het om hulle huis binne te dring.

Daivd (44) is glo self baie ontsteld omdat hy hoë tegnologiemaatreëls in plek het om die eiendom te beskerm, maar dat selfs dit nie voldoende was om die inbrekers te ontmoedig nie.

Die herehuis met ’n geraamde waarde van £6 miljoen is een van die gesin se eiendomme waar hulle graag naweke met hul vier kinders, Brooklyn (19), Romeo (16), Cruz (13) en Harper (7) spandeer.

Die Beckhams is in hierdie stadium in Australië vir ’n gesinsvakansie, maar ook om vir prins Harry met die Invictus-spele te ondersteun en is nie van plan om huis toe te haas in die lig van die poging tot inbraak nie. Daar is wel intussen ekstra veiligheidsmaatreëls op die eiendom aangebring, waaronder gereelde patrollies en waghonde.

View this post on Instagram

Love these two! ??

A post shared by Meghan Markle (@hrhofsussex) on

Net ’n klein entjie van die Beckhams spandeer prins Harry en Meghan naweke in ’n huis op die Great Tew Estate wat hulle glo vir die volgende twee jaar gehuur het.

Ander bure sluit in die omstrede Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson en die voormalige Britse eerste minister David Cameron. Die nabygeleë Soho Farmhouse (waar Meghan ook haar henneparty gehad het) is ook ’n gunstelingbestemming vir bekendes soos die model Kate Moss, akteurs George Clooney, Eddie Redmayne en Cara Delevingne.

Hoe hanteer jy die emosionele impak van ’n inbraak?

Elke mens reageer anders op die trauma van ’n inbraak, hetsy die misdaad suksesvol was of nie. Maar van die algemeenste simptome is die gevoel van skok en ongeloof. Dis ook nie ongewoon om afgestomp of woedend te voel nie.

Ontkenning mag volgende intree omdat jy “sterk” is, maar intussen is jy in alle waarskynlikheid net besig om die werklikheid op die agtergrond te skuif.

’n Gevoel van verlies kan volg. Wanneer iets fisies van jou gesteel word, is dit die verlies van iets waaraan jy waarde geheg het. Laat jouself toe om oor die verlies te treur.

Maar daar is ook meer van jou gesteel: jou gevoel van sekuriteit en veiligheid, selfs al was dit net ’n poging tot inbraak.

En dan die vrees . . . Gaan die inbreker dalk terugkom?

Moenie huiwer om vriende en familie, en selfs professionele hulp te vra wanneer jy die slagoffer van ’n inbraak is nie. Jou gevoelens en ervaring is werklik en jy moet verhoed dat dit ondermyn word deur goedbedoelde kommentare soos “gelukkig was jy nie tuis nie” of “gelukkig het jy nie seergekry nie”.

Volstaan by jou roetine wat in plek was voor die voorval om jou jou emosionele ewewig te help herwin. Werk sagkens met jouself, maar waak teen selfbejammering.

Omring jouself met mense wat vir jou omgee en moenie huiwer om vir ondersteuning te vra nie. Soms al is dit selfs net ’n oproep en ’n vriendelike stem aan die ander kant van die lyn . . .

Bronne: yourlocalsecurity.com, metro.co.uk, harpersbazaar.com, safoptions.co.uk, mirror.co.uk