Michelle Gildenhuys Adams

Dié ma van drie reis gedurig met haar en haar sanger-man, Emo Adams, se drie seuns van onderskeidelik een, twee en ses. Sy sorg dat alles altyd vlot verloop om die rit vir haar en haar kleingoed plesierig te maak.

Soos elke ma natuurlik reeds weet, verg dit sommer baie geduld om met kleingoed te reis, vertel Michelle.

“Probeer om te ontspan en nie te hard op jouself en jou kinders te wees nie,” vertel sy aan Huisgenoot. “Lang vlugte of ritte bring die ergste uit in sowel grootmense as kinders. Probeer soveel moontlik in dieselfde roetine te bly, en geniet die reis. Dis waar baie herinnerings gemaak word.”

Michelle se wenke

  • Ek pak altyd die basiese medikasie – iets vir maagpyn, pyn en ook koors.
  • Pak hul gunstelingpeuselhappies in – en sommer baie daarvan.
  • Ek het altyd ’n leë drinkkoppie of bottel vir sap en water terwyl ons reis.
  • Elkeen van my seuns kry ’n klein rugsak om hul gunstelingspeelgoed in te pak.
  • As daar ’n tyd is wanneer elektroniese toestelle nuttig is, is dít die tyd. Interaktiewe en pret apps kan afgelaai word.
  • Siende dat ek met seuns van verskeie ouderdomme reis, maak ek gebruik van oorfone en ’n draagbare DVD-speler sodat hulle hul gunstelingflieks kan kyk.
  • Ek hou by hul normale roetine. As ons in die kar reis, laat ek hulle steeds hul middagslapie vat soos wat hulle dit by die huis doen. Dis wanneer ek hul elektroniese toestelle afvat en hulle in hul sitplekke laat slaap.
  • Neem altyd hul gunstelingkombers saam met hulle.

Breakfast with my Boys #AdamsFamily #AdamsBoyz

A post shared by Michelle Gildenhuys Adams (@michellegildenhuys) on

Cindy Nell-Roberts

Beskou ’n reisuitstappie as opwindend, nie stresvol nie, raai dié voormalige Mej. Suid-Afrika en ma van twee aan.

Cindy en haar man, Clive, se spruite, Ethan (6) en Aenea (5), is gereeld saam met hulle op die pad. Sy deel haar topwenke oor hoe om vir die langpad voor te berei.

So maak jy

  • Maak seker dat jy genoeg medikasie ingepak het.
  • Maak seker peuselhapies, inkleurboeke en ’n pasjmina is ingepak. Die pasjmina kan as ’n kombers of kussing gebruik word of om braaksel af te vee.
  • Pak lig, maar pak wel ekstra klere vir die kleingoed.
  • Hou ’n klein geskenk byderhand waarmee jy hulle mee kan beloon vir goeie gedrag.
  • Maak tyd om legkaarte met jou kleingoed op die langpad of op vlugte te bou. Karspeletjies is ook ’n opsie om die kleingoed mee besig te hou.
  • Sing lekker saam. “My kinders is tans mal oor The Bare Necessities (uit die fliek The Jungle Book), so ons luister en sing dit oor en oor saam,” vertel Cindy.
  • Wees voorbereid. Lees baie blogs om jouself voor te berei.

Sy voeg ook by dat dit belangrik is dat ouers as man en vrou vir mekaar tyd moet maak.

“Pa’s, maak ’n nota daarvan, want ma’s het ’n bietjie ekstra bevestiging en liefde oor hierdie tydperk nodig. Ma’s vat baie meer aan in hierdie besige tyd,” sê Cindy.

Sy vertel dat die klein dingetjies soos aandete en ’n kinderversorger, blomme uit die veld of ’n paar skulpies by die see met ’n klein nota om dankie te sê, baie tel.

Ten slotte voeg sy by dat dit ’n tydperk is waar jy ’n sterker band met jou kinders kan bou, en ’n mens moet onthou om herinnerings saam te maak.  

Elana Afrika-Bredenkamp

Die glanspersoonlikheid en ma van twee het twee pragtige dogters van drie en een jaar oud.

“My raad is, reis wanneer babas nog nie kruip nie of wanneer hulle oud genoeg is om te kan onthou wat hulle gesien het.”

Volgens Elana is babas en kinders maar woelig op ’n reis of vakansie, maar dis ook hope pret.

Sy neem graag haar kleingoed saam op die langpad of op oorsese vakansies. “Weet net, jy gaan moet hardloop en vashou,” het sy bygevoeg.

  • ’n Nuttige wenk op die vliegtuig is om hul speelgoed aan ’n tou vas te maak. As dit val, trek sy net aan die tou en alles kom weer by haar uit.
  • Sy pak ook happies, genoeg doeke en ekstra klere vir die kleingoed in.
  • Vir medikasie maak sy seker dat sy tandesalf en iets vir ’n omgekrapte magie byderhand het.
  • Pak speelgoed en bottels water in.
  • Pak tydskrifte en koerante, want volgens Elana hou kleingoed daarvan om dit uitmekaar te skeur.
  • Maak seker dat die gastehuis of hotel in kennis gestel is dat die kinders saamkom. “Soms maak hulle voorbereiding of maak die bababed reg sonder dat jy hoef te vra,” vertel sy.

Die voorbereide ma raai ook ouers aan om die karstoeltjie na te gaan, te verseker dat dit skoon is en ook voor die rit te verseker dat dit reg vasgemaak is.