In ’n nuwe BBC-dokumentêr, R Kelly: Sex, Girls and Videotapes, beskuldig die 51-jarige sanger se voormalige meisie, Kitti Jones, hom daarvan dat hy ’n meisie seksueel misbruik het sedert sy 14 jaar oud was.

Volgens The Guardian beweer Kitti, wat van 2011 tot 2013 met die RnB-sanger uitgegaan het, hy het die tiener voorberei om sy bedmaat te wees en op verskeie geleenthede gedwing om met hom en ander seks te hê.

“Ek is aan een van die meisies voorgestel wat hy vir my gesê het hy ‘afgerig’ het sedert sy 14 was. Dit was sy woorde,” sê Kitti.

“Ek het gesien sy is soos ek aangetrek, sy sê die goed wat ek sal sê en haar maniertjies is soos myne. Dis toe dat ek besef hy het voorberei om een van sy speelgoed te word. Hy noem hulle sy 'troeteldiere'.”

Die Ignition-sanger se eks beweer ook hy het die tiener, wie se naam nie bekend is nie, gedwing om op die vloer te “kruip” en seksdade op haar uit te voer.

“Hy het haar op die vloer na my toe laat kruip en orale seks op my uitvoer.

“Hoe verdedig jy jouself teen iemand wat hul vaardighede as ’n sekspes al vir 25 jaar slyp, wat ook ’n multimiljoenêr en een van die bekendste en suksesvolste kunstenaars in die musiekbedryf is?” vra sy.

Kitti het voorheen oor R Kelly gepraat en gesê die sanger het haar erg mishandel, berig Variety.

“Ek dink hy kry die een of ander bevrediging in homself deur die wete dat hy beheer oor ander mense neem,” sê sy.

Al is verskeie soortgelyke bewerings die afgelope 20 jaar teen die liedjieskrywer gemaak, is hy nog nie aan enige verwante misdade skuldig bevind nie.

Nadat gerugte van die R Kelly-kultus opslae gewek het, het die nuus soos 'n veldbrand versprei dat sy komende toere gekanselleer sou word. Hy het dit ten sterkste ontken en die mense in Michigan gewaarsku hy is net 'vyf minute weg van hul stad' en dat sy toere beslis sal voortgaan.

Bronne: eonline.com, theguardian.com, variety.com, bbc.co.uk