’n Drukkie vir jou ma, ’n sny koek by die koffierestaurant op die hoek, ’n sportbyeenkoms, ’n braai saam met vriende . . . Die lys van dinge wat ons voor Maart vanjaar as vanselfsprekend aanvaar het, is lank. Maar met die koms van die COVID-19-pandemie en die inperking het baie dinge wat voorheen alledaags was net herinnerings ­geword; luukses waarna ons nou terug­verlang.

Ondanks die geleidelike verslapping van die inperkingsmaatreëls lyk dit of die lewe soos ons dit ’n paar maande gelede nog geken het boonop nie sommer binnekort weer sy gewone gang sal gaan nie.

En pal in almal se gedagtes is die dinge waarna ons verlang, die dinge wat ons nou vrees en die dinge waarna ons uitsien wanneer die wêreld eindelik weer op koers kom.

Huisgenoot het ’n handvol Afrikaanse bekendes gevra: Wat mis jy van die lewe voor die inperking, wat maak jou bang in hierdie tyd van die pandemie, en waarna sien jy uit vir die tyd anderkant hierdie hoofstuk?

ROLENE STRAUSS
VOORMALIGE MEJ. SUID-­AFRIKA EN MEJ. WÊRELD

Rolene Strauss.
Rolene Strauss.

Wat mis jy?

Ek mis my ouers en skoonouers se kuiers.

Wat maak jou bang?

Die feit dat iets waaroor ons nie regtig beheer het nie die wêreld op so ’n groot skaal kan beïnvloed. Dit maak my bang, maar ek besef opnuut dat ons vertroue in iemand groter as dit alles moet wees.

Waarna sien jy uit?

Voor die oefenmaatreëls verslap is, het ek veral daarna uitgesien om aktief in die natuur te kan wees saam met ons seuntjies – net wanneer ons wil.
Nou sien ek uit na ­familiekuiers.

CLINT BRINK
AKTEUR EN SANGER

Clint Brink.
Clint Brink.

Wat mis jy?

Die vryheid wat ons gehad het en om geliefdes te gaan besoek en tyd saam deur te bring.

Wat maak jou bang?

Ek is meer bang vir almal se geestes­gesondheid as enigiets anders. Om deur donker tye te gaan sonder die wete en gevoel van God se hand en teenwoordigheid.

Waarna sien jy uit?

Drukkies en face to face kuier. En natuurlik ook om met ordentlike gimtoerusting te oefen.

MINKI VAN DER WESTHUIZEN
AANBIEDER

Minki van der Westhuizen.
Minki van der Westhuizen.

Wat mis jy?

Ek mis my familie en vriende vreeslik baie.

Wat maak jou bang?

Ek is nie bang nie, want ek glo God se kinders moenie bang wees nie. Ek het dae waarop ek onseker voel, maar dan hou ek net vas aan God se beloftes.

Waarna sien jy uit?

Ek het tydens die inperking geleer dat ’n mens jou tyd baie beter en meer doeltreffend kan bestuur en dat jy sonder baie dinge kan klaarkom. Ek wil probeer om steeds gehaltetyd saam met my kinders deur te bring.

Ek sien baie daarna uit om weer saam met my oumas te ­kuier en na familiesamesyn op spesiale dae.

MARC LOTTERING
KOMEDIANT

Marc Lottering.
Marc Lottering.

Wat mis jy?

Ek mis vreemdelinge in ’n koffierestaurant. Ek het nie besef hoe gereeld ek soggens koffie gaan drink het by ’n koffieplek tot ek dit nie meer kon doen nie.

Wat maak jou bang?

Daar is te veel mense wat nie die ­virus ernstig opneem nie en wat glo dat die coronavirus iets is wat slegs met ander mense gebeur.

Baie Suid-Afrikaners gaan nog sterf.

Waarna sien jy uit?

Ek sien daarna uit om saam met my naaste familie aan tafel te sit en ’n maaltyd te geniet. Ek sal dit nie weer as vanselfsprekend aanvaar nie.

TARRYN LAMB
SANGERES

Tarryn Lamb.
Tarryn Lamb.

Wat mis jy?

Ek mis die vryheid om saam met my familie te kan kuier.

Wat maak jou bang?

As iemand siek moet raak en ek nie vir hulle kan gaan kuier in die hospitaal nie en hulle daai pad alleen moet stap.

Waarna sien jy uit?

Ek sien daarna uit om weer saam met my geliefdes te wees, om vir hulle almal die grootste drukkies te gee en net face to face gehaltetyd saam met hulle deur te bring.

LYNELLE KENNED
AKTRISE EN SANGERES

Lynelle Kenned.
Lynelle Kenned.

Wat mis jy?

Ek mis die roetine voor ’n uitvoering: die orkesinstrumente wat ingestem word, die senuwees en butterflies voor die eerste noot, die enkele ­tannie wat agterna huilend kom ­vertel van die herinnerings uit haar kinderdae wat die vertoning terug­gebring het.

Wat maak jou bang?

Ek is bekommerd oor hoe die vermaakbedryf nie gereguleer word nie – selfs voor die pandemie al – en oor die absolute gebrek aan ondersteuning vir die kunstenaars wie se live­lihood deur die inperking uitgewis is.

Waarna sien jy uit?

Omhelsing van vriende en kollegas, saam kuier, saam kuns skep, lang road trips en ’n groter sin van ­gemeenskap.

DAWIE ROODT
EKONOOM

Dawie Roodt.
Dawie Roodt.

Wat mis jy?

Ek mis die geleentheid om aan sportgeleenthede soos fietswedrenne en wedlope deel te neem.

Wat maak jou bang?

Die verskriklike toename in armoede en werkloosheid – en mense wat absoluut desperaat gaan word. Wat my bang maak, is die toekoms van hierdie land. Ek is bang vir ’n grootskaalse verval in die land as gevolg van die ekonomie wat heeltemal besig is om ineen te stort.

Waarna sien jy uit?

Daar gaan nooit weer ’n normaal wees nie; dinge gaan vir seker anders wees. Ek is nogal baie nuuskierig om te sien hoeveel van die goed wat ons nou beproef nog langer met ons gaan bly – soos die kantooropset en mense se werkwyse (met goed soos Zoom en Skype) wat verander.

Ek is nuuskierig om te sien hoe die wêreld werklik verander het, want ek dink dit het verander en dit het blywend verander. Nie net in terme van hoe ons werk nie, maar ook hoe ons koop – dat ons verkies om aanlyn te koop.

Die omvang van die veranderings wat ons tans beleef, is gelykstaande aan die veranderings wat deur die ontdekking van elektrisiteit en stoomkrag of die groot wêreldoorloë meegebring is.

MARGIT MEYER-RÖDENBECK
AKTRISE EN KOMEDIANT

Margit Meyer-Rödenbeck.
Margit Meyer-Rödenbeck.

Wat mis jy?

Die gehore – om op die verhoog te staan is ’n bietjie soos ’n drug. ’n Mens raak verslaaf aan die adrenalien wat deur jou are pomp. Ek mis die gehoor, hul asemhaling, gelag en gehuil, en die gesels ná die tyd, om drukkies uit te deel en kiekies te neem.

Wat maak jou bang?

Die onsekerheid . . . Daar is nie ’n deadline waar ons weet, oukei, dis nou oor en verby nie. Ons sal nog lank ná die virus in onsekerheid leef.

Waarna sien jy uit?

Om my pa te gaan haal en Pringlebaai toe te ry vir die naweek. Op ’n ligter noot: Ek sien uit na ’n geldjie in my bankrekening.

ARNO JORDAAN
SANGER

Arno Jordaan en sy seuns.
Arno Jordaan en sy seuns.

Wat mis jy?

Ek mis beslis die kuiers met familie en vriende. Ek mis dit om kerk toe te gaan en om op te tree.

Wat maak jou bang?

Ek is nie bang nie, want as gelowige het ek nie ’n gees van vrees nie. Maar die feit dat alles verander het en nog meer gaan verander, laat my tog wonder wat op ons wag.

Waarna sien jy uit?

Om weer vrylik en sonder grendels te kan lewe. Om weer langs my seuntjie se rugbyveld te staan en vir die bulletjies te kan skree.

ZELDA LA GRANGE
SPREKER EN AANBIEDER

Zelda Le Grange.
Zelda Le Grange.

Wat mis jy?

Ek mis die aanraking van my naaste familie en vriende. Die voorreg om jou liefde vir mekaar deur aanraking te wys.

Wat maak jou bang?

Die gesondheidsrisiko van COVID-19 maak my bang. Mense wat onverantwoordelik en onvergenoegd is oor hierdie tyd ten koste van ander se gesondheid.

Waarna sien jy uit?

Ek sien daarna uit om iewers op ’n mooi plek te sit met ’n lekker winkel-cappuccino of ’n glas wyn sonder om gejaagd te wees of soos ’n misdadiger te voel en om net die natuurskoon om my te waardeer.

ANEL ALEXANDER
AKTRISE

Anel Alexander.
Anel Alexander.

Wat mis jy?

Ek en my man was die eerste deel van die inperking op twee verskillende vastelande. Maar ek het hom onlangs die eerste keer in drie maande weer gesien, so dit laat al klaar my lewe meer normaal voel! Vir ons is die inperking nie so ’n groot aanpassing nie omdat ons baie tyd alleen saam deurbring in Los Angeles en ver van ons familie woon.

Wat maak jou bang?

Een ding wat my bekommer, is die vermaak­bedryf. Ek is verskriklik lief vir die mense wat daarin werk en dus bekommerd oor hoe hulle gaan oorleef.

Dis onder normale omstandighede reeds moeilik genoeg om werk te kry in ons bedryf.

Waarna sien jy uit?

Om weer mense te kan sien omdat ek vir die meeste van die tyd alleen in isolasie was. Ek is tans net ’n halfuur se ry van my ouers, sussies, boetie en beste vriendinne af, maar ek kan nie vir hulle gaan kuier nie. Dis regtig swaar, want ek is min in Suid-Afrika, en gewoonlik as ek hier is, probeer ek soveel moontlik opvang.

LYNETTE FRANCIS-PUREN
RADIO-OMROEPER EN NUUSLESER

Lynette Francis-Puren
Lynette Francis-Puren.

Wat mis jy?

Ek mis die interaksie met mense en die spontane oor-en-weer-gekuier. Ek is spyt oor die feit dat ek en my man, Ashley, nie ons troue saam met al ons vriende en familie kon vier soos beplan nie. Ons is toe net met twee hegte vriende as getuies getroud.

Wat maak jou bang?

Ek is nie bang vir wat aangaan nie, maar ek is bekommerd oor wat ek sien. Die wyse waarop ons die nodige maatreëls hanteer en beoefen. Dit maak my angstig, want mense besef nie werklik hoe groot die gevaar is nie.

Waarna sien jy uit?

Tot ons ’n teenmiddel het, gaan daar nooit weer ’n normaal wees nie. Ek het vir my familie gesê ek gee nie om of dit vlak een is nie; ons gaan leef asof dit vlak vyf is. Ek kan nie ander mense se reaksies en gewoontes beheer nie.

Ek kan net ons s’n beheer, so vir my gaan daar nie binnekort ’n “normaal” wees nie. Ek voorsien dat ons ons trou-onthaal later vanjaar waarskynlik weer gaan moet uitstel. Ons oorsese vriende sal beslis nie kan kom nie.

ROELOF BOTHA
EKONOOM

Roelof Botha.
Roelof Botha.

Wat mis jy?

Die vryheid van beweging wat kenmerkend van ’n demokrasie is en wat nie aldag waardeer word nie. En om kerk toe te gaan.

Wat maak jou bang?

Groter werkloosheid en die moontlikheid van radikale grondhervorming, wat die doodsklokke vir voedselsekerheid in Suid-Afrika en ander lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sal inlui.

Waarna sien jy uit?

Om al die mense wat ek ken weer met die hand te kan groet en ’n heerlike ete saam met my kinders en kleinkinders.

TIM THERON
AKTEUR EN REGISSEUR

Tim Theron.
Tim Theron.

Wat mis jy?

Ek is lief daarvoor om met mense te sosialiseer en ek mis dit. Ek is nie ’n roetinemens nie, so ek dink wat my op die oomblik vang, is dat elke dag so dieselfde is en jy nie die roetine kan breek nie.

Wat maak jou bang?

In hierdie stadium is ek nie bang nie, maar die onsekerheid frustreer my. Wat my dalk op ’n manier bang maak, is die vrees dat ons met die beperkte inligting wat ons het nie besig is om die regte goed te doen nie en dat die skade wat iets soos die inperking berokken baie erger gaan wees as die skade wat fisiek deur die virus berokken word.

Ek dink tog almal doen die beste met die inligting wat hulle het en wat tans tot ons beskikking is.

Waarna sien jy uit?

Om vir my kinders weer ruimte en vryheid te gee en hulle bloot te stel aan die ongelooflike mense in ons netwerk wat so ’n positiewe invloed op hulle het. Ook om al ons familie en vriende weer te sien.

LEA VIVIER
AKTRISE

Lea Vivier
Lea Vivier.

Wat mis jy?

Ek mis beslis menslike interaksie.

Wat maak jou bang?

In watter mate die wêreldwye pandemie mense gaan tref in terme van hul lewensomstandighede en hul vermoë om genoeg kos vir hul gesin te kan voorsien. Ons lewe in ’n land waar daar reeds baie armoede is en ek dink dit maak my bang om net te besef hoeveel erger dit vir sommige mense gaan raak.

Waarna sien jy uit?

My broer en sy vrou het in dié tyd weer ’n baba gekry, so ek sien daarna uit om my tweede broerskind te ontmoet. Ek sien ook daarna uit om my vriendinne weer te sien, om terug te keer stel toe en om in ­lewende lywe saam met mense tyd te kan deurbring.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Foto's: Robert Hamblin, Verskaf, Instagram (@rolenestrauss, @minkivanderwesthuizen,
@clintonthebrink, @timtheron, @marc_lottering)