#SELFAANVAARDING

Lindsey Abrahams

Dié Binnelanders-aktrise inspireer gereeld haar volgelinge met haar inskrywings oor haar stryd teen aknee.

“My vel was die ergste wat dit al ooit was. Hoe meer ek al die perfekte gesigte in die sosiale media gesien het, hoe erger het my depressie geraak. Ek het toe besluit ek gaan dit deel,” sê Lindsey. Sy wou ’n gesprek onder haar Instagram-volgelinge begin oor hoe toksies dit is om heeltyd te voel jy moet perfek lyk.

“Ek moes vinnig my houding teenoor my vel verander, en dit was belangrik dat ek weer my selfwaarde terugkry,” sê sy.

Lindsey het ook in Julie vanjaar verloof geraak en het net lof vir haar verloofde, Bonga Cele, se bystand.

“Hy het my elke dag herinner dat dit net ’n tydelike ding is en dat my vel my nie definieër nie. Ek dink dis belangrik dat jy sulke mense in jou sirkel het en dat jy hulle glo wanner hulle goed soos daardie sê. Dis maklik om dit net af te jak,” vertel sy.

Haar raad aan ander is wees vriendeliker met jouself, praat jouself moed in en gebruik en kyk watter akneebehandelings vir jou werk.

Marciel Hopkins

Die Boer soek ’n vrou-aanbieder en model maak gereeld in die sosiale media oop oor hoe belangrik dit is om gemaklik in jou eie vel te wees.

“Ek het vir so lank met ongemak gelewe oor my voller figuur, en dit het my verhoed om my drome na te jaag. Vir die loopbaan wat ek gekies het, is dit belangrik om gemaklik met myself en hoe ek lyk te wees,” sê Marciel.

Marciel Hopkins. Foto: Ricardo Lategan
Marciel Hopkins. Foto: Ricardo Lategan

Beoefen selfliefde, is haar raad. “En as iemand se inhoud nie goed is vir jou gemoed nie, moet jy hulle ophou volg.”

FIKSHEID BO!

Rachel Kolisi

Die Springbokkaptein Siya Kolisi se vrou, Rachel, het die afgelope paar maande gereeld foto’s en video’s van haar vordering gedeel om van die inperkingvetjies ontslae te raak. Die ma van twee sweet gereeld in die gimnasium en moedig ook haar volgelinge aan om haar oefenprogram te beproef.

“Kom ons skud die inperkinggewig af en begin 2021 op ’n suksesvolle noot,” laat sy hoor.

Anton David Jeftha

Blokkiesmaag – jip. Spiere – jip. Dié Legacy-ster deel gereeld smeulende foto’s van sy oefensessies in die gimnasium.

“Vir my het ’n roetine, soos om vyf tot ses keer per week gim toe te gaan, al die ander gebiede van my lewe georganiseer – soos goed eet, gedissiplineerd wees en wanneer om hard te werk,” vertel Anton.

Sy fiksheidroetine bestaan uit ’n goeie balans tussen kardio-oefeninge en gewigte optel. “Ek doen ook twee muay thai-klasse of warm joga per week.”

3 liedjies op Anton se gim-speellys

1 ‘Juicy’ – The Notorious B.I.G.

2 ‘Forever’ – Kanye West, Drake, Lil Wayne en Eminem

3 ‘God’s Plan’ – Drake


NATUURLIEFHEBBER

Marc Buckner

Dié Kaapse model en sakeman is mal oor die buitelug.

“Ek dink dit het begin omdat ek baie gereis het en altyd in groot stede was. Waarna ek verlang het van Suid-Afrika was die maklike toegang tot die berge en die oseaan,” vertel Marc, die vrygesel van die tweede seisoen van The Bachelor South Africa.

Hy geniet dit om in die berg te gaan stap, te hardloop en om fiets te ry. En sy geliefde hond Luna bly nooit agter nie.

DIE EWIGE REISIGERS

Melinda Bam en Adriaan Bergh

Die voormalige Mnr. en Mej. Suid-Afrika reis graag oorsee, maar met dié dat die covid-19-pandemie die wêreld tot stilstand geruk het, het die egpaar besluit om plaaslik te reis en die land te verken.

Melinda en Adriaan het onder meer in die Bosveld uitgespan, die Kagga Kamma-natuurreservaat in die Cederberge verken en Melinda het poseer vir pragfoto’s tussen madeliefies in Springbok in die Noord-Kaap.

“Ons het agtergekom daar is soveel wonderlike plekke wat ons in Suid-Afrika kan sien,” sê Melinda. “Ek het net weer besef ons land is een van die mooiste plekke ter wêreld.”

DIE INSTAGRAM-MINI-STER

Isabella Duminy

Die voormalige Proteakolwer JP Duminy en sy vrou, Sue, se vyfjarige dogtertjie, Isabella, vermaak gereeld haar ma se Instagram-volgelinge met haar oulike foto’s, dansvideo’s en sêgoed.

“Sy vra my altyd om foto’s van haar te neem terwyl sy op ’n snaakse manier poseer of video’s te maak wat sy altyd met ‘Hey guys!’ begin. Ek wonder waar sy dit vandaan kry,” lag Sue.

Die paartjie het ook ’n tweejarige dogter, Alexa-Rose. Isabella herinner haar baie aan haarself, sê Sue.

“Op die oomblik is sy versot op gimnastiek, en ek was ook as ’n klein dogtertjie. Sy hou ook daarvan om te bak en om op middageteafsprake te gaan.”

Ma en dogter pryk gereeld in bypassende uitrustings, maar die afgelope jaar mag Sue nie meer Bella se uitrustings kies nie.

“Sy besluit self wat sy wil dra. Ek krimp net ineen wanneer ek haar by die skool gaan aflaai,” vertel Sue.

DIE COOL PAARTJIE

Vashti Prins en Jarrid Geduld

Die Suidooster-ster Vashti en Jarred, wat die moeilikheidmaker Bompie Galant in Arendsvlei speel, is al drie jaar lank ’n paartjie. Die twee koer omtrent op Instagram en deel gereeld hul avonture met hul aanhangers.

“Ek en Jarrid geniet dit om by ’n sosiale plek te ontspan en ’n heerlike maaltyd te geniet,” vertel Vashti.

Hulle het ook onlangs verskeie buitemuurse aktiwiteite aangepak soos perdry en kwadfiets ry, en wil binnekort gaan bungee. Praat van ’n avontuurlustige paar!

#MODEPOP

Minki van der Westhuizen

Minki laat gereeld die koppe draai met haar gemaklike en stylvolle uitrustings. Die TV-aanbieder en model beskryf haar styl as gemaklik met ’n tikkie rock ’n’ roll.

Sy beplan nooit haar uitrustings vooruit nie en trek aan soos sy op die dag voel.

Minki se gunstelinge in haar klerekas
Jeans, ’n T-hemp, leerbaadjie, skoene met studs 

“Behalwe wanneer dit ’n spesiale geleentheid is, dan beplan ek dit vooruit,” sê Minki, wat drie dogters, Katerien (7), Elise (6) en Elsa (2), het.

3 moet-hê-items in haar handsak

1 Essensiële olie

2 Handeroom

3 Lipglans

DIE GRAPJAS

Dean Smith

Dié Suidooster-ster het ons vanjaar laat skater met sy aanlyn video’s van sy alter ego’s Wouter en Bettie.

“Wanneer ek tussen tonele sit of praat met mense en iemand sê dalk iets snaaks of verkeerd, sal ek dit gebruik as inspirasie vir my video’s,” vertel Dean. Sy 115 000 Instagram-volgelinge is natuurlik mal oor dié skreeusnaakse video’s wat hy deel.

“Ek kry baie boodskappe van mense wat sê hulle het ’n slegte dag of week gehad, en dan begin kyk hulle na my video’s en dit het hulle laat glimlag, of hulle sal net dankie sê dat ek hulle so lekker laat lag,” sê Dean.

“Ek hou daarvan om mense te laat lag, juis omdat ons so ’n rowwe jaar agter die rug het. Ons almal is geraak deur covid-19. My video’s gaan nie noodwendig alles beter maak nie, maar dit gaan jou darem vir daai oomblik laat glimlag, en dis genoeg vir my.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe