Vertel ons meer oor jou karakter in die fliek, Nicholas van der Swart.

Hy het sy stiefpa se van aangeneem. Hy is hierdie jong Engelse kind wat nie regtig weet waar hy inpas in die wêreld nie. Hy moes soos so baie jong Suid-Afrikaners in die 1980’s diensplig gaan doen.

Aan die begin dink die ouens hy is teruggetrokke en sagmoedig, maar die ­weermag dryf hom daartoe om die krag binne hom te ontdek. Teen die einde van die fliek het hy wel iets verloor – dalk sy on­skuld.

Wat was jou ervarings met die ver­filming van die fliek?

Hilton Pelser as sersant Brand.
Hilton Pelser as sersant Brand.

Ek moes ’n kopskuif maak terug na die 1980’s en apartheid toe. My pa was in die weermag, maar dis iets waaroor ons nooit gepraat het nie.

Sedert ek die rol gekry het, het hy oopgemaak oor wat gebeur het; die gruweldade. Dit was deel van ’n stelsel wat onderdruk het, maar dit vat nie die trauma weg wat die jong mans in die weermag beleef het nie. ­

Hulle is gebreinspoel. Die fliek wys dat geen van die karakters ongeskonde gelaat word nie.

Hilton sit die troepe deur hul roetines.
Hilton sit die troepe deur hul roetines.

Waar kom jy vandaan?

Ek is oorspronklik van Johannesburg se omgewing, maar het in 2013 Kaapstad toe getrek om drama aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Ek wou nog altyd naby die see bly. Ek het groot­geword op Henley on Klip – daar waar ­Oprah se skool is.

My pa, Jacques (52), het ’n sakegraad en bou allerhande soorte skepe. In my vormingsjare het hy by verskeie nieregeringsorganisasies gewerk. My ma, Natalie (50), is ’n dramaonderwyseres.

Ek het ’n jonger sussie, Teagan (23), wat ’n prokureur is. En my boetie, ­Ntando (18), is steeds op skool. Hy wil ’n musikant word.

Ons het hom aangeneem toe ek 13 was en hy vier. Ons het drie aangenome kinders in ons uitgebreide familie. Dis ’n wonderlike ervaring vir ons. Ek sal beslis ook eendag kinders aanneem.

Hoe het jy eindelik in die rolprent­bedryf ­beland?

My ma het ’n helikopterloods in ’n gemeenskapsteater omskep. Ek het ook by die Boswell Wilkie-sirkus as ringmeester, goëlaar en akrobaat gewerk.

Ek het balletklasse gehad. Dis wonderlik hoe baie daar beskikbaar was in wat eintlik maar ’n klein dorpie is.

Ek wou ná skool rolprentkunde ­studeer, maar my ma het daarop aan­gedring dat ek eers klassieke onderrig moes kry.

Ek was voorheen meestal in teaterstukke te sien, onder meer in Mike van Graan se When Swallows Cry, en Simon Stephens se The Curious Incident of the Dog in the Night-Time (gegrond op Mark Haddon se boek), waarvoor ek ’n Naledi-­prys gewen het.

Ek is tans in Athol Fugard se “Master Harold” . . . and the Boys.

Moffie het my bekendgestel aan die ­internasionale mark, en ek is tans by twee oorsese agente. Dis dieselfde mense wat The Crown se Claire Foy (wat die eerste twee seisoene die rol van koningin Elizabeth gespeel het) verteenwoordig, waaroor ek baie opgewonde is.

Luke in ’n toneel uit die fliek.
Luke in ’n toneel uit die fliek.

Ek trek in Mei vanjaar Londen, Engeland, toe om projekte daar op te volg. Dis my vierde jaar uit dramaskool en dis lekker besig.

Blitsvrae

Wat doen jy as jy nie toneel speel nie?

Ek hou van branderplankry, staproetes aandurf en tyd met my familie deurbring.

Waarsonder kan jy nie lewe nie?

Ek probeer klaarkom met wat die lewe vir my gee, maar sonder koffie sal ek nie kan lewe nie.

Waarvan hou jy nie?

Ek haat rassisme met ’n passie. Ek hou ook nie van koue nie. En nou trek ek Londen toe . . .

Watter ander werk het jy al gedoen?

Ek was al ’n kelner, ek het hostelle skoongemaak, ek was ’n kroegman, ek het ligte aangebring en verhoë gevee.

Wou jy nog altyd akteur word?

Ja, ek sal ook graag ’n regisseur en vervaardiger wil wees. Ek is ook geïnteresseerd in sosiale aktivisme.



Moffie

*****
Drama.
Met Kai Luke Brümmer, Ryan de Villiers en Matthew Vey.
Regisseur: Oliver Hermanus. ?
18 DTNVSG.
Begin op 13 Maart.

Waaroor gaan dit?

Dis 1981. Alles begin met ’n trein wat die jong manne insluk om iewers in die land by ’n weermagbasis te gaan uitspoeg.

En ’n skokkende toneel waar ’n sak met braaksel op ’n swart man op die stasie gegooi word. Dit dek die tafel vir ’n fliekervaring wat tot baie introspeksie lei.

Maar moenie dat die titel jou afsit nie. Dis ’n fliek oor gender eerder as seksualiteit.

Ja, die hoofkarakter is gay, maar dit gaan hier oor giftige manlikheid. Dit gaan hier ook oor die skade wat apartheid swart én wit aangerig het – of dit nou bewustelik was of nie. Dit was in die huis, skool, kerk en op die speelgrond.

Dit gaan ook oor verbode liefde in die tyd van apartheid.

Luke se medesterre Ludwig Baxter, Jan Combrink en
Luke se medesterre Ludwig Baxter, Jan Combrink en Stefan Vermaak.

Dit knetter van testosteroon in die barakke, storte, op die paradegrond en grens. Aggressievlakke by mans van ’n sekere ouderdom, veral padwoede, kan heel moontlik verklaar word deur die destydse onderdompeling in geweld.

Jong mans is op die ouderdom van 17, 18 in wapens verander. Daardie “wapens” is ook na mekaar toe gerig. Soos een van die karakters hul situasie uitdruk: “Even birds are chained to the sky.”

Vryheid het ook beperkinge. Toe Nicholas (Brümmer) terugkeer huis toe, prys sy pa hom dat hy nou ’n man is en ’n dop saam met hom kan drink.

Nicholas vra dan tereg: “Wat vier ons nou eintlik?”

Ben Ludik se rou weergawe van Rodriguez se “Sugar Man” as deel van die klankbaan som die gegewe goed op:

“Sugar man met a false friend/ On a ­lonely dusty road/ Lost my heart when I found it/ It had turned to dead black coal . . .”

Is dit goed?

Die regisseur, ­Oliver Hermanus, spreek die “troep
Die regisseur, ­Oliver Hermanus, spreek die “troepe” toe.

Verseker. Maar dis ’n kunsfliek, wat nie in almal se smaak gaan val nie. Dit moet ook glad nie met Kanarie, wat ’n musiekspel met intense oomblikke van ­drama in het, vergelyk word nie.

Dit kyk uit ’n heel ander hoek na die dae van diensplig en die effek wat dit op jong, wit Suid-Afrikaanse mans gehad het.

Dié vierde rolprent deur Oliver Hermanus het nie om dowe neute drie benoemings gekry by die 2019 British Independent Film Awards (BIFA) nie. Dit is vir beste regisseur, beste deurbraak-vervaardiger (Jack Sidey) en beste kamerawerk (Jamie D. Ramsay) benoem.

Jamie D. Ramsay is benoem vir sy goeie kamerawerk
Jamie D. Ramsay is benoem vir sy goeie kamerawerk op die fliek.

Die première was op uitnodiging by die 76ste Venesiese Filmfees in September verlede jaar.

Die fliek is gegrond op die memoires deur André Carl van der Merwe van 2006. Dis onvertelde stories wat aan die kaak gestel moet word, want die impak van diensplig en die Grensoorlog het gesinne verpletter en uitmekaargeskeur.

Daar was egter ook ligpunte soos die kameraadskap en dissipline, en dít is ook ingeweef in hierdie rolprent.

FOTO'S: CLAUDE BARNARDO, DAN RUTLAND MANNERS
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.