Die 46-jarige akteur is op 16 Augustus in ’n restaurant in Malibu saam met Shauna Sexton, ’n 22-jarige Playboy-model, gesien aandete eet – en sy meisie, Lindsay Shookus, het ’n paar dae later haar Instagram-rekening uitgevee, berig E! News

’n Bron het aan die nuusagentskap gesê die Aquaman-ster en die model was op ’n afspraak en Ben “voel dit is verby met Lindsay”.

Hy gaan nou langer as ’n jaar met die 38-jarige Lindsay, ’n Saturday Night Live-vervaardiger, uit. Maar in die afgelope maand is die twee nie saam gekiek nie. Lindsay het nie eens haar kêrel se verjaardagpartytjie op 15 Augustus bygewoon nie, wat tot gerugte gelei het dat hulle al ’n ruk uitmekaar is. 

“As jou kêrel in die openbaar saam met ’n Playboy-model gesien word, sou ek sê Ben en Lindsay is al ’n ruk uitmekaar,” het ’n bron aan Page Six gesê.

Dis nie die eerste keer dat die Gone Girl-ster aan ’n verkul-skandaal verbind word nie. In 2016 het sy eksvrou, Jennifer Garner (46), aan Vanity Fair bevestig Ben het haar met hul kinders se destydse oppasser, Christine Ouzounian (31), verkul.

Die gerugte dat Ben met Lindsay uitgemaak het, kom twee maande nadat ’n bron aan ET Online gesê het hoe gelukkig die twee saam is. “Lindsay en Ben is baie verlief,” het die bron aan die nuusagentskap gesê.

“Tydens Ben en Jennifer se egskeiding het Lindsay gevoel sy word as ’n skurk uitgemaak," het 'n bron gesê. "Elke dag wat sy en Ben in die buitewêreld deurgebring het, het soos nog ’n dag van openbare veroordeling vir haar gevoel. Maar haar liefde vir Ben was dit werd. Hulle albei het in daardie pynlike maande geleer om bymekaar te staan,” het die bron bygevoeg.

Ben se bekende ekse

1. Die aktrise Gwyneth Paltrow: 1997-2000

2. Die sangeres en aktrise Jennifer Lopez: 2002-2004

3. Sy voormalige vrou, die aktrise Jennifer Garner: 2005-2015

Bronne: E! News, Page Six, Vanity Fair, ET Online, Ranker.com