Ná maande waarin die verliefde glanspaartjie afgeneem is waar hulle met hul honde stap of gaan koffie koop en eers langs die pad ’n soentjie steel, het nog ’n Hollywoodromanse in die asblik beland – baie letterlik.

Ben Affleck
’n Uitgeteerde Ben ­Affleck kort nadat hy en Ana de Armas uitmekaar is. Foto: Mega

’n Lewensgroot kartonuitknipsel van die Kubaans gebore skoonheid Ana de Armas wat by die akteur Ben Affleck se huis in die rommel gestop is, laat geen twyfel nie: Alles is oor en verby tussen die twee sterre ná net 10 maande saam.

Ben gooi Ana se kartonuitknipsel weg
Twee werkers het van ’n kartonuitknipsel van die aktrise buite Ben se huis ontslae geraak. Foto: Theimagedirect.com/Magazinefeatures

Blykbaar het Ben se kinders, Violet (14), Seraphina (11) en Samuel (8), die prent – waarop die jong aktrise op haar maag lê met haar voete in die lug en met ’n breë glimlag op haar gesig – verlede jaar uitgedink om hul pa ’n poets te bak. Maar nou lag niemand – en allermins Ben (48), wat dit weer ongelukkig getref het met die liefde.

Ana (32) het hom glo oor die foon afgesê. Sy was skynbaar nie reg om huis-huis te speel saam met haar veel ouer medester in die riller Deep Water nie. Daarin speel hulle ’n getroude paar.

Terwyl hulle in 2019 daaraan gewerk het, was die vonk tussen hulle so sterk, dit het almal op die stel aan die praat gehad. Toe het dit gelyk asof die ouderdomsverskil van 15 jaar hulle min skeel.

Hulle het hulle vir die grootste deel van verlede jaar saam tydens die inperking afgesonder, en Ana het in Augustus uit haar huis in Venice Beach getrek.

’n Bron in die binnekring het toe hul verhouding as sterk beskryf.

“Ben was altyd baie gelukkig wanneer Ana in die omtrek was,” het die bron aan People gesê. “Hy laat haar lag, en sy is ’n goeie invloed op hom.” Maar nou vertel bronne na aan die paartjie ’n ander storie.

Volgens hulle was Ana net nie gereed vir nesskop nie.

Ana de Armas
Ana de Armas spog nou met ’n nuwe kapsel. Foto: Instagram/Anadearmas

“Ana is jonk en avontuurlustig, en wanneer sy nie werk nie, wil sy reis. Sy wil nie in Los Angeles bly nie. Ben moet in die stad bly, want sy kinders woon daar,” sê ’n bron aan People. “Ana is op ’n ander plek in haar lewe. Dis hartseer, maar Ben stel sy kinders bo alles.”

Die skeiding het die tweemalige Oscarwenner swaar getref. Ben het ’n paar rowwe jare agter die rug en het gelukkiger as in ’n lang ruk gelyk toe hy en Ana nog ’n paartjie was.

Ben en Ana stap saam
Ben en Ana het mekaar op die stel van die riller Deep Water ontmoet. Foto: Mega

Sedert hulle uitmekaar is, lyk hy bleek en bedruk op foto’s. Hy is so ontsteld dat hy vroue blykbaar vir eers afgesweer het.

Sy vriende spot selfs dat die ster, wat in die beginjare van sy loopbaan vir sy dwalende oog en voorliefde vir jong medesterre bekend was, “ ’n eed van selibaatheid afgelê het”.

Sy vriende moedig hom glo aan om aan homself te werk en “op te hou om hom oorhaastig in baie intense verhoudings te begewe wat inmekaarval sodra die wittebrood verby is”.

Al is hy eens onder die begeerlikste mans op die silwerdoek gereken, sleep hy ’n hele boel bagasie saam: drie kinders, sy beroemde eksvrou, die aktrise Jennifer Garner, en ’n drankprobleem wat hom al drie keer in ’n rehabilitasiesentrum laat beland het.

“Ben aanvaar hy is beter daaraan toe om ’n ruk lank enkellopend te wees, tensy daar die een of ander wonderwerk gebeur en Ana terugkom,” het ’n bron aan The Mirror gesê.

Hy is regtig daarop ingestel om homself en sy kinders eerder as verhoudings eerste te stel. “Ons sal maar moet wag en sien of Ben vir lank enkellopend sal kan bly of nie,” voeg die bron by.

Intussen lyk dit asof Ana met haar lewe aangaan. Dié vurige señorita sit nie op ’n hopie en treur nie. Sedert hulle uitgemaak het, spog sy met ’n korter kapsel. En in ’n video op haar Instagram Stories wys sy waar haar hart nou lê: by haar twee hondjies, Elvis en Salsa.

Ben en Ana
Hulle het die inperking saam in Los Angeles deurgebring en het gereeld met hul honde gestap. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is geen geheim dat Ben nie veel geluk met die liefde gehad het sedert sy opspraakwekkende egskeiding van Jennifer in 2015 ná ’n huwelik van 10 jaar nie.

Sy drinkery was glo die rede vir die verbrokkeling van sy romanse met Lindsay Shookus (40), die televisiebaas met wie hy in 2018 ’n jaar lank uitgegaan het.

Ná ’n kortstondige verhouding met ’n voormalige Playboy Playmate, Shauna Sexton (22), is Ben in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem – en dit was sy eksvrou, Jen, wat hom daar gaan aflaai het. Al is hulle geskei, is Jen steeds ’n steunpilaar vir die pa van haar drie kinders.

Hy is nou nugter en beskryf sy verslawing as “ ’n lewenslange en moeilike stryd” en een waarmee hy steeds elke dag worstel. “Daarom is ’n mens nooit werklik besig of klaar met behandeling nie. Dis ’n voltydse verbintenis. Ek veg voortdurend vir myself en my gesin.”

Sy vriende sê hy is toegewyd daaraan om aan homself te werk en kontak met sy kinders te behou. Hy en Jen deel toesig oor hul kroos. Ben het ook ’n rits rolprente in die vooruitsig om hom besig te hou.

In The Last Duel, wat later vanjaar uitgereik word, vertolk hy die rol van koning Charles VI. Hy het saam met sy beste vriend en Good Will Hunting-medester, Matt Damon, daaraan gewerk.

Ben vertolk ook ’n hoofrol en behartig die regie van twee rolprente: Ghost Army, ’n drama uit die Tweede Wêreldoorlog, en die misdaadriller Witness for the Prosecution. Daarby is hy en Matt medevervaardigers van die televisiedrama Thirst, oor die wêreldwye waterkrisis.

Ook Ana het geen tekort aan werk nie.

Sy is immers verlede jaar vir ’n Golden Globe vir die beste spel deur ’n aktrise in ’n rolprent benoem vir haar rol in die misdaaddrama Knives Out.

Sy vertolk ’n hoofrol in die nuwe James Bond-fliek, No Time to Die, en speel Marilyn Monroe in die nuwe bioprent Blonde – ’n rol wat die aktrise as “baanbrekerswerk” beskryf.

“Hier speel ek, ’n Kubaan, Marilyn Monroe. Ek wou dit bitter graag hê,” sê sy oor die rol.

Dit sal die vertolking van ’n leeftyd wees as ’n mens Jamie Lee Curtis kan glo. “Sy het vir my ’n video van haar skermtoetse gewys, en ek het na my asem gesnak; ek kon dit nie glo nie,” vertel Jamie. “Ana was weg. Sy was Marilyn.”

Casey Affleck, Ben se jonger broer, voorspel “sy gaan vanjaar elke prys verower” nadat hy Ana se spel as Marilyn gesien het.

Toe hy onlangs in Entertainment Tonight verskyn het, het Casey ook iets oor sy ouboet en Ana se mislukte verhouding te sê gehad. Hy beskryf haar as “die dierbaarste, snaaksste, slimste, bekoorlikste mens”.

Sy ekse

JENNIFER GARNER

Ben Affleck en Jennifer Garner
Jennifer Garner. Foto: Gallo Images/Getty Images

LINDSAY SHOOKUS

Ben en Lindsay Shookus
Lindsay Shookus. Foto: Gallo Images/Getty Images

SHAUNA SEXTON 

Ben by sy ex, Shauna Sexton
Shauna Sexton. Foto: Great Stock/Splash News

Anders as Ben se vriende dink hy nie sy óf sy broer sal baie lank enkellopend bly nie. “Sy is in elke opsig ’n vangs. En ek sal daar wees om Ben daardeur te dra, maar ek dink ook nie hy sal probleme hê nie.

“My raad aan hulle sou wees: ‘Ja, dink lank en hard daaroor, want kwarantyn is nie pret as jy alleen is nie.’ ”

Die twee ekse sal later vanjaar saam ’n promosietoer moet aanpak wanneer Deep Water uitgereik word. Dit kan baie ongemaklik wees. Maar blykbaar “praat hulle nog” met mekaar. Wie weet, dalk is daar weer ’n vonk tussen hulle.

Bronne: people.com, dailymail.co.uk, eonline.com, imdb.com, mirror.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe