Die onsekerheid ry haar, sê die sanger Rudi Claase se vrou, Suzette, oor haar man wat steeds gehospitaliseer is en nou wag op die uitslae van toetse wat sal bepaal presies wat gelei het tot stuiptrekkings wat hom half verlam en deurmekaar gelaat het.

Die sanger het Maandag in ’n emosionele Facebook-plasing gesê hy het sowat ’n maand gelede in ’n hospitaal wakker geskrik nadat hy ure vroeër vreemde stuiptrekkings beleef het. Hy was stom en verlam, maar kon ná sowat ’n uur weer praat.

Rudi is ’n dag later ontslaan, het die sanger voorts geskryf, maar is vandeesweek weer gehospitaliseer omdat hy van balans af was en hakkelrig gepraat het. Rudi sê die dokters vermoed hy het ’n ligte beroerte gehad. 

In sy plasing was dít die uitklophou: “Ek hakkel as ek praat en sing. Dalk is dit koebaai vir Rudi . . .”

Vir sy vrou, Suzette, is die onsekerheid die ergste.

“Daar is nog geen antwoorde oor wat gebeur het of hoe mens dit behandel nie,” sê sy Dinsdag aan Huisgenoot.

“Dis wat mens gek maak: As jy nie weet wát gebeur het nie, weet jy ook nie hoe om dit te behandel of in die toekoms te probeer keer nie.” 

Toe Rudi sowat ’n maand gelede in die hospitaal opgeneem is, het dokters gesê hulle vermoed die stuiptrekkings was stresverwant, vertel Suzette. Toe kon ’n MRI-skandering geen bewyse van ’n beroerte toon nie.

“Dokters het vermoed dis iets wat net eenmalig gebeur het, maar ons was nie seker nie. Dit was vroeg in die oggend en nie ná ’n lang, uitmergelende dag nie – sy stresvlakke was dus nie abnormaal hoog nie. Ons was ook bekommerd omdat hulle so lank geneem het om hom te hospitaliseer,” sê sy.

Volgens Rudi het dit dokters ’n uur geneem om hom by te bring. Daarbenewens het sy are platgeval –weens stres, sê hy – en dit het die verpleegspan nagenoeg 13 pogings geneem om ’n buis in sy are te plaas. Die sanger is die daaropvolgende dag ontslaan.

Rudi Claase
Rudi se vrou, Suzette, sê dis die onsekerheid oor haar man se prognose wat hulle gek maak. Hulle wag steeds op die uitslae van nog toetse. Foto: Verskaf

“Dit het gelyk of alles weer oukei is, maar verlede week het ek weer onraad gemerk toe Rudi skielik baie bleek geword het. Hy het gesê hy is duiselig en hy is weer hospitaal toe. Hierdie keer het die dokter hom na ’n neuroloog verwys omdat hy van balans af was,” vertel Suzette.

Dis dié neuroloog wat vermoed Rudi het ’n ligte beroerte gehad. 

Suzette sê dokters het nou al verskeie toetse gedoen – onder meer ’n MRI- en CAT-skandering – maar gaan volhou met toetse omdat daar nog geen duidelike antwoord is nie. Sy sê Rudi behoort ook binnekort ’n EKG-toets (elektrokardiogram) te ondergaan. Die toets sal kyk na abnormale veranderinge in die hart tydens oefening.

Die sanger “sukkel om sinne te vorm” en praat sporadies hakkelrig. Hy stoei ook om te loop en trappe uit te klim. Volgens Suzette is dit ook vir hom moeilik om sy selfoon te beheer – daarom die vermoede dat die toestand moontlik neurologies van aard kan wees.

Rudi Claase
Rudi se waarskynlik rehabilitasie moet ondergaan vir onder andere sy spraakprobleme, sê Suzette. Foto: Verskaf

“Ons waardeer die duisende oproepe en boodskappe van bemoediging meer as wat ons kan sê, maar dis moeilik om klinkklare antwoorde te gee as jy self nie weet nie. Die neuroloog vermoed dis ’n beroerte, maar die skandering tel dit steeds nie op nie. Daarom sal ons seker eers veel later meer duidelikheid hê.” 

Rudi sal waarskynlik rehabilitasie moet ondergaan, sê Suzette. Die sanger self het ook vir gebede gevra. Hy skryf: “Ek kan self net bid en nie opgee nie en vra ook dat julle, my volk, vir my stem, my wysies en my woorde bid. Ek sal nie stil word nie.”

Terwyl daar steeds soveel onsekerheid heers, is dit vir haar moeilik om nie by haar man te wees nie, sê sy. Covid-19-regulasies verhoed Suzette om Rudi by die hospitaal te besoek.

“Ek het hom vanoggend gebel en hy klink weer stukke beter – daarvoor is ek ontsettend dankbaar,” sê sy verlig.

“Ek weet hy is bang – ek is ook – maar dis omdat die situasie onbekend en vreemd is en omdat daar nie antwoorde is nie. In hierdie stadium sweef mens maar rond . . . Ons hoop en bid dat ons binnekort sal weet presies wat aangaan en dat my man kan huis toe kom.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe