Dit volg nadat hy op 17 Januarie in die hospitaalgang sy balans verloor, geval en sy heup gebreek het. Na ’n dringende heupoperasie het hy infeksie opgedoen en is in die hoësorgeenheid opgeneem. Hy het nooit herstel nie.

Lance was aanvanklik in middel Januarie vir ’n roetine-ondersoek opgeneem sodat hy ’n stel mediese toetse kan ondergaan, nadat hy al vir ’n geruime tyd met hartprobleme gesukkel het. Hy is ook vir kroniese moegheid behandel.

Lance is ook in Mei verlede jaar met dubbellongontsteking in die waakeenheid van die Sandton Kliniek opgeneem

Sy skakelbeampte van die afgelope 35 jaar, Lydia Winchester, het aan Huisgenoot vertel sy toestand het die afgelope paar dae baie agteruitgegaan.

“Dit het daagliks verswak ná amper agt weke in die hospitaal.”

“Lance het vredevol gesterf met sy familie by hom. Hulle wil die publiek en aanhangers uit hul harte bedank vir hul jarelange ondersteuning. Lance sal bly voortleef met sy unieke persoonlikheid, lang loopbaan as ’n sanger en radio-omroeper met vele treffers.”

Lance James laat sy lewensmaat, Eunice Wait, sy dogters Dionne en Chanelle asook ’n kleindogter en twee kleinseuns agter.

Benji, sy skoonseun, het ook ’n groot rol in sy lewe gespeel.

Lydia sê sy ondersteuners sal op hoogte gehou word van reëlings rondom sy roudiens.

Verskeie bekendes het ook boodskappe van meegevoel in die sosiale media gedeel.

Die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck het op Facebook geskryf: “Dis baie hartseer. So 'n groot gentleman. Rus in vrede oom Lance.”

Shaun Mynhardt, stigter van die SA Legendes Museum in Pretoria, het die sanger as ’n groei vriend en mentor beskryf.

“Rus in vrede ook Lance.”

Lance het in sy loopbaan, wat oor meer as ’n halfeeu strek, meer as 70 albums uitgereik. In 2009 is hy met ’n Huisgenoot Skouspel-toekenning vereer vir sy lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.