Dit was skuins ná drieuur die oggend toe ’n oorweldigende naarheid hom uit sy slaap wakker ruk en hom sleepvoet na die badkamer dwing.

Terwyl hy daar teen die opwasbak aangeleun het, was hy verstom oor hoe doodsbleek die gesig was wat na hom uit die spieël terugstaar.

“Ek wou my gesig afspoel omdat ek gehoop het die koue water sou help. Maar toe word alles om my donker en ek slaan neer,” vertel die akteur David Konrad (43) ’n week nadat ’n beroerte hom by die dood laat omdraai het.

Anders as dr. Herman du Preez, sy karakter in die kykNET-sepie Binnelanders, wat die kennis het om ’n mediese noodgeval te hanteer, het David nie geweet wat met hom gebeur nie.

Die harde slag toe die brug van sy neus die wasbakrand tref, is sy laaste helder herinnering voor sy liggaam grond toe getuimel het.

Daar op die teëlvloer het sy meisie van die afgelope twee jaar, Chantél Nilson (29), hom aangetref toe sy die slag hoor en nader storm. Sy het dadelik ’n ambulans ontbied.

“Ek het eers my bewussyn herwin toe die paramedici my op ’n draagbaar tel,” vertel David vanuit die hospitaalbed waar hy aansterk. Agter in die ambulans het die paramedici hom fronsend aangekyk oor sy rustige glimlag, en hy het vir ’n oomblik sy oë gesluit en gebid.

Tog was hy tydens die kwartier lange rit van Chantél se woonstel in Kempton Park aan die Oos-Rand na die Life Glynwood-hospitaal in Benoni met vrede vervul. Dit is nie die eerste keer dat hy met sy eie sterflikheid gekonfronteer word nie.

David was net 30 toe ’n genetiese hartsiekte by hom gediagnoseer is. Hy is dokter toe nadat hy twee dae ná mekaar gaan draf en kwaai borspyn ervaar het.

Dr. Herman du Preez, die karakter wat David in Binnelanders speel. Foto: KykNET

Ná ’n reeks toetse het sy dokter verduidelik hy het baie hoë cholesterol en ’n hartaanval dreig as hulle nie ingryp nie. Hy het ’n hartomleidingsoperasie ondergaan en sy dokters het gewaarsku sy hart kan weer probleme gee.

Toe gebeur dit ook so – maar weer was dit nie die einde nie. “Dit was nie my tyd nie – die horlosie het nog nie gaan stilstaan nie,” sê David.

“Daarom het vrede en hemelse rustigheid my in daardie ambulans gevul. Ek het geweet hierdie hoofstuk is nog nie klaar geskryf nie.”

Toe hy in ’n swart japon die stil vertrek binnestap in die hospitaal waar hy sedert die beroerte behandel word, sou jy nooit kon raai hy het ’n week gelede so byna met die dood kennisgemaak het nie.

’n Kneusplek aan sy neusbrug waar dit die rand van die wasbak getref het, is al teken van die beproewing wat hy deurgemaak het, en hy glimlag moedig.

Sy liggaam het hom tot halt geroep, verduidelik David toe hy ietwat moeisaam oorkant die tafel gaan sit.

Dan vertel hy hy het op die nippertjie straf begin oefen om aan ’n fietswedren deel te neem waarin hy BrainChildFund, ’n aanlyn steungroep vir ouers van kinders met gestremdhede, sou verteenwoordig.

“Ek is nog altyd ‘Mnr. No. 99’ – dis hoe my vriende my al jare lank ken,” erken hy.

“Ek het nie besef watter tol die oefening van my liggaam geëis het nie.”

Hy was fiks omdat hy gereeld gaan draf, maar eers ’n paar dae voor die fietswedren het hy straf begin oefen. Op Dinsdag 13 November, die aand voor die ren, het David en Chantél televisie gekyk en teen tienuur gaan inkruip.

Toe hy in die vroeë oggendure wakker skrik en naar voel, het Chantél aangebied om vir hom iets te drinke te maak.

“Sy is kombuis toe, en ek wou my gesig afspoel. Ek het geen pyn ervaar nie. Ek onthou net die magtelose gevoel van die val. Jy kan nie keer nie; jy val soos ’n pop.”

‘Wanneer jou lewe op die spel is, word baie dinge duideliker’

Toe sy die slag hoor, het koue rillings deur haar liggaam getrek, vertel Chantél en kyk besorg na David.

Toe sy op hom afkom waar hy vol bloed op die vloer lê, het sy eers gedink hy het sy balans verloor. Maar toe hy nie bykom nie, het sy die ambulansdiens gebel en ook haar pa, Arrie Nilson, wat naby hulle woon.

“Ek was geskok, veral oor die bloed,” onthou sy.

“Dit neem ’n oomblik om tot jou sinne te kom, maar dan neem adrenalien jou hele liggaam oor. “David het wakker geskrik ná wat soos ’n uur gevoel het, en ek het hom na die sitkamer gehelp. Daarna het hy weer vir ’n oomblik sy bewussyn verloor.

David sê hy is gereed om sy “tweede kans op die lewe” met albei hande aan te gryp. Foto: Rowyn Lombard

“Dit was vreesaanjaend, want die nooddiens het vir my verduidelik dit kan baie gevaarlik wees as hy nie wakker bly nie. Dit was die traumatiesste ervaring van my lewe: Hier lê die persoon vir wie ek lief is bebloed en bewusteloos, en jy weet nie of hy dit gaan maak nie . . .”

Tussen die newels van bewusteloosheid was daar oomblikke van helderheid wat David bybly.

“Ek onthou hoe ek na Chantél se oë gesoek en haar bewonder het vir die steun wat sy gee . . . En ek onthou hoe ek in ’n stadium my weerkaatsing in die mikrogolfoond gesien en gewonder het waarom ek so bebloed is.”

Chantél en haar pa het in hul motor agter die ambulans hospitaal toe gery.

Daar het dokters die paramedici se vermoede bevestig: Dit was ’n beroerte. Die dokters kan nie genoeg beklemtoon dat “genade en guns” dié keer aan sy kant was nie, vertel David, want ná die beroerte kan hy steeds sonder hulp loop, eet en normaal praat.

Hulle reken die beroerte hou verband met sy hartkwaal.

Hartsiektes loop in sy familie. Sy ma, Maria (73), sukkel al jare lank met genetiese hoë cholesterol. In 2005 het sy ’n hartomleiding ondergaan, ses maande voor David ook vir ’n hartomleiding die teater binnegestoot is.

Drie jaar later is sy pa, Willie, op 69-jarige ouderdom aan ’n longverwante siekte oorlede ná ’n sewe jaar lange stryd waartydens hy van ’n suurstofmasjien afhanklik was.

“Voor my pa se dood moes ons gereeld hoor hy het net dae om te leef, maar sewe jaar lank het hy vasgebyt. Voor sy dood was ek sy verpleër: Ek het vir hom gesorg, hom help aantrek, hom badkamer toe geneem. Jy besef dan die dood is almal beskore,” sê David.

Dan voeg hy by: “Dalk is dit hoekom ek minder bang is vir die dood . . .”

Toe ’n genetiese hartsiekte ook by hom gediagnoseer word, het hy geweet dit is iets waarmee hy sy lewe lank sal moet saamleef.

David – vir wie “Konrad” ’n verhoogvan is – sê sy broer, dr. Anton Janse van Rensburg (48), ’n funksionelegeneeskundespesialis, se leiding oor sy eet- en leefstylgewoontes het hom deur die jare voorsorg help tref.

Hy sê: “En toe tref dit my nou op 43.” Kort ná sy beroerte het ’n verpleër langs sy hospitaalbed opgemerk dat hy ’n hoë pyndrumpel het, vertel David met ’n grinnik.

View this post on Instagram

7am - 7pm. Sepie werk is nie vir sissies nie. #binneland

A post shared by David Konrad (@davidkonradgram) on

En skielik was dit asof die horlosie na ’n dekade gelede teruggedraai word toe ’n verpleër dieselfde woorde vir sy pa gesê het. Maar dieselfde lot het hom nie ge- tref nie, sê hy, die hartseer duidelik in sy stem.

“Ek is ’n tweede kans gegee.”

Nou wil hy elke dag daardie kans ten volle benut. “Wanneer jou lewe op die spel is, word baie dinge duideliker: Jy besef jy kan al die geld in die wêreld hê, maar as jy nie jou gesondheid het nie, het jy absoluut niks.

“Ek gaan vir die res van my lewe elke dag dankbaar wees vir ’n tweede kans op die lewe, op liefhê en om hier te wees.”

Die jaar wat voorlê, is vol beloftes: As dr. Herman kom hy nog gesig wys in Binnelanders, en hy verskyn binnekort in sy eerste internasionale fliek, The Last Days of American Crime, wat in Johannesburg en Kaapstad geskiet is.

Wanneer hy nie voor die kameras is nie, lei hy aspirantakteurs op en hy en Chantél bestuur saam ’n teenverouderingskonsultasiediens waarvoor hulle gevorderde tegnologie gebruik.

“Die hospitaalpersoneel het gefrons toe ek ná minder as ’n week in die hospitaal sê ek wil nou hier uit,” vertel David laggend.

“Maar ek wíl,” beklemtoon hy, “daar is dinge om te doen, planne om te beraam. Tweede kanse is gemaak om gebruik te word. Ek wil vir die res van my lewe nooit vergeet hoe kosbaar dit is om elke oggend gesond wakker te word nie.”