Reynardt was 10 jaar lank deel van die mansgroep Adam – tot die sanger saam met sy medegroeplede Kyle Grant en Hugo Ludik in Augustus verlede jaar aangekondig het hul paaie skei.

Dit sou nie die einde van sy musiekpad wees nie, het Reynardt, ook bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders, nog toe beloof.

En nou deel hy die goeie nuus met aanhangers: Sy eerste enkelsnit as solosanger, getiteld “Die rivier”, was verlede Vrydag (6 Maart) uitgereik.

Die musiekvideo kan ook nou vir die eerste keer hier gesien word. 

“Dis regtig nogal ’n vreesaanjaende ding om op jou eie te gaan ná soveel jaar. Maar nie op ’n slegte manier nie. Dis ongelooflik opwindend en lekker om myself te herontdek,” vertel Reynardt aan Huisgenoot.

Hy het die afgelope naweek sy eerste solo-konsertvertoning in Middelburg, Mpumalanga, gelewer. Die geleentheid was vir ’n 21ste verjaardagpartytjie van ’n familielid van die aktrise Pascal Pienaar, ook bekend as Karli du Preez van Binnelanders.

Reynardt Hugo
Die omslagontwerp vir Reynardt se eerste enkelsnit. Foto: Verskaf

“Ironies genoeg was ons eerste vertoning vir Adam ook in Middelburg. Dit het soos ’n full circle-oomblik gevoel,” vertel hy.

“Die rivier” is ’n titel waarmee hy lank rondgespeel het, vertel die sanger. Hy het die liedjie saam met die sanger Abel Knobel en musikant Sean Butler geskryf.

“Die idee gaan hieroor: dat ons soms rowwe tye het; dat ons op troebel waters vaar. Die redes verskil vir elkeen. Maar op ’n tyd kom alles bymekaar – die rivier van seer loop in die see uit – dan is alles ontbloot; niks is weggesteek nie. Maar die oseaan was alles skoon. Dis simbolies vir baie dinge,” sê hy.

Soos die lirieke uit die liedjie lui: “Die gedruis het ons geroep, en die waters het geslaan, ’n duisend riviere word een oseaan . . .” 

Reynardt Hugo
Hy is gebore om 'n kunstenaar te wees, vertel Reynardt Hugo. Foto: Verskaf

Reynardt sê hoewel aanhangers elemente van Adam se musiek daarin sal hoor, is hy in die proses om homself in die geheel as sanger te herskep.

“Dis asof ek myself meer en meer vind. ’n Mens is eers bang om daardie eerste tree te vat; jy is vreesbevange jou drome kry nie vlerke nie. En dis oukei dat dit mense nog aan Adam gaan herinner. Dit was ’n goeie tyd en ek is dankbaar vir al die geleenthede.

“Maar nou is die vrese om op my eie te staan weg. Ek weet nou meer as ooit vantevore: Ek is gemaak om op die verhoog te wees.” 

“Die rivier” is van Maandag (9 Maart) op digitale musiekplatforms beskikbaar.