Die akteur David Konrad en sy verloofde, Chantel Nilson, sou die naweek afhaak voor pres. Cyril Ramaphosa eindelik aangekondig het dat Suid-Afrikaners 21 dae lank tydens ’n staat van inperking tuis sal moet bly.

Hoewel die paartjie al maande aan die troue beplan en daarna uitsien, het die omstandighede hulle eindelik met geen keuse gelaat as om nie op die oorspronklike datum af te haak nie.

“Sjoe, praat van ’n moeilike besluit,” vertel David. “Daar was nog soveel verskillende stories in daardie stadium, maar nadat ons saam gesit en al die feite mooi bekyk het, het ons besluit om die troue uit te stel, is die beste vir almal.”

Om die aanvanklike keuse te maak was die moeilikste deel van die oorwegings, meen David. “Nadat ons die besluit geneem het, het ons onmiddellik vrede daarmee gehad en ons het geweet dit is die regte besluit,” verduidelik hy.

Tog het hul aanvanklike troureëlings nie net op slegte nuus uitgeloop nie, en kon David en Chantel ’n goeie daad aan die hartseer dag koppel.

God’s Gift Events, die trouvenue net buite Pretoria waar die tweetjies sou trou, het reeds die vars kos vir die bruilof gekoop, maar David het vinnig besef dat hulle nie al die kos kan gebruik nie. “Toe die venue voorstel dat ons die kos aan die Kungwini-welsynsorganisasie skenk, het ons nie eens twee keer daaroor gedink nie,” vertel David, wat kykers as die kykNET-sepie Binnelanders se dr. Herman du Preez ken.

“Ons wou so ’n bietjie positiwiteit in mense se lewe bring in hierdie tyd waar al die nuus negatief is,” vertel David. “Al het ons deur ’n moeilike tyd gegaan, voel ons bevoorreg met al die hulp wat ons elke dag kry. En hierdie was die beste geleentheid om die soort omgee en liefde ook aan ander oor te dra,” voeg Chantelle by.

Hulle glo daarin om in hierdie tyd liefde pleks van vrees en paniek te versprei, som David hul besluit op.

Ja, hulle het dalk nog nie ’n feesviering van hul liefde gehad nie, maar dit vermurwe hul hart om ’n stukkie liefde met ander te kon deel.

David en Chantel neem die staat van inperking baie ernstig op en raai ander Suid-Afrikaners aan om dieselfde te doen. “Ons wil graag hierdie tyd gebruik om weer op onsself en mekaar te fokus,” begin David. “En ons verwelkom altyd enige ekstra tyd wat ons saam met ons klein worshondjie, Odin, kan deurbring,” laat hy hoor.