Die jongste slagoffer in die Afrikaanse sepiewêreld is Ilne Nienaber, wat die rol van dr. Elana Bester in kykNET se hospitaaldrama Binnelanders vertolk.

Op Donderdag 2 Januarie het daar ’n Instagram-plasing op haar profiel verskyn wat oënskynlik ’n advertensie van die sonbrilvervaardiger Ray-Ban is. Dit het belangstellendes vir slegs een dag amper ’n hele R3000 se besparing belowe.

Ilne Nienaber
Foto: Instagram

“Ek het eers daarvan bewus geraak toe my man (Marcus Benadie) baie deurmekaar vir my vra hoekom ek die advertensie oor die Ray-Bans geplaas het?” vertel Ilne aan Huisgenoot. “Ek het natuurlik nie ’n idee gehad waarvan hy praat nie, en toe sien ek dit.

"Ek was baie deurmekaar en geskok.”

Ilne sê so iets het nog nooit met haar op sosiale media gebeur nie, en sy was glad nie bewus van enige vreemde aktiwiteit nie. Boonop was haar rekening reeds op die veiligste verstellings.

“Ek het gesien die plasing het vreeslik baie likes gekry, en dit is toe dat ek besef mense gaan dalk vir die simpel advertensie val en geld betaal. Ek het myself in ’n ander bloedgroep in geskrik toe ek besef hoe maklik iemand my privaatheid kan binnedring. Dit maak my vreeslik kwaad!”

Sy het probeer om die plasing te verwyder, maar kon dit nie van haar profiel afkry nie. 

Sy het wel die plasing weer gedeel en dit duidelik gemaak dat dit die werk van kuberkrakers is. “Hierdie plasing is ’n bedriegspul. #hacked,” het sy daarby geskryf.

Ilne Nienaber
Foto: Instagram

Luxottica, die moedermaatskappy van Ray-Ban in Suid-Afrika, is vir kommentaar genader. Dit sal bygewerk word wanneer dit ontvang word. 

Behalwe vir die ligte opskudding op sosiale media so vroeg in die nuwe jaar sê Ilne sy sien baie uit na 2020.

“My seuntjie (Hugo) gaan gr. 1 toe, en ons is saam met hom bitter opgewonde,” sê sy. 

Ilne Nienaber
Ilne Nienaber en haar seuntjie, Hugo. Foto: Instaram

Sy het ook ’n driejarige dogtertjie, Mila Gabriella. 

“Mag 2020 vol geluk wees. Solank my kinders gelukkig is, is ek gelukkig.”

Instagram gee raad:

As jou rekening kommentaar laat of dinge deel wat jy nie self geplaas het nie, is daar waarskynlik toegang tot jou wagwoord gekry.

Beveilig jou profiel deur die wagwoord te verander en enige toegang tot twyfelagtige derdepartytoepassings terug te trek.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.