Die veteraan-akteur Ben Kruger is onlangs onverwag
Die veteraan-akteur Ben Kruger is onlangs onverwags in sy huis in Pretoria aan Covid-19 oorlede.

Op die stel van Binnelanders het dikwels trane gevloei wanneer ’n karakter worstel om ’n groot verlies te verwerk. Maar op Woensdagoggend 26 Mei was die hartseer tonele wat in die ateljee afgespeel het ánders, en baie rouer.

Hierdie keer was die groepie akteurs wat verslae byeen gekom het se smart wérklik. Geen draaiboek kon hulle voorberei op die tyding dat hul mede-akteur Ben Kruger die oggend by sy huis in Brooklyn, Pretoria, weens Covid-19-komplikasies gesterf het nie.

Hy was net 64 jaar oud – nog ’n geliefde wat weggeruk is deur die pandemie. Met die skielike dood van die veteraan wat die rol van die gewilde oom Okkie Ferreira in die kykNET-sepie vertolk het, is kykers én sy mede-akteurs in rou gedompel. 

Vir Hannelie Warren, wat TV-kykers as tannie Ilse Ferreira leer ken het, was Ben meer as net haar TV-wederhelf van die afgelope byna sewe jaar.

Ben het in 2012 as Okkie Ferreira in Binnelanders
Ben het in 2012 as Okkie Ferreira in Binnelanders begin speel. Sy karakter is met Ilse (Hannelie Warren) getroud.

Hy was ook haar beste vriend. Daarom is die emosies wat nou deur haar spoel, amper soortgelyk aan dié van ’n vrou wat haar man verloor het.

“Ilse is net ’n karakter, maar daar is ’n stukkie Ilse binne-in my wat reeds haar man mis,” verduidelik sy gebroke. “My hart breek vir haar.”

Op Ben se sterfdag was daar “baie rooi gehuilde oë” by Stark Ateljees in Randburg, Johannesburg waar Binnelanders verfilm word, vertel Germandt Geldenhuys wat die rol van Louis Koster speel.

Die ateljee se bestuur het teen omstreeks negeuur die oggend die skoknuus aan die hele span oorgedra. Daarna het Germandt en van die ander spelers dadelik stel toe gery. 

“Daar het ’n gevoel van totale verslaentheid geheers,” vertel hy. “Dit het soos ’n emosionele ineenstorting gevoel terwyl ons met mekaar gesels het. 

“Ek en Je-ani het mekaar vasgehou en ons het geruk soos ons huil,” vertel hy oor Je-ani Swiegelaar wat die rol van Naomi speel. Ben was haar TV-pa. Die kykers besef nie dat die hele Binnelanders-span agter die skerms soos een groot familie is nie, sê Germandt.

“Dit voel nou vir ons asof ons pa ons verlaat het.”

Die nuus dat covid-19 die legendariese akteur se lewe geëis het, het ook skokgolwe deur die land gestuur. In sy loopbaan van 48 jaar was Ben ’n bekende gesig op die verhoog, silwerdoek en televisie waar hy in die 1980’s in die reeks Skooldae gespeel het.

Op Maandag, 17 Mei, 10 dae voor sy dood, het hy begin siek voel en gekla oor sinus en griepsimptome, vertel Hannelie.

Soos die streng protokol op Binnelanders se stel vereis, het hy hom dadelik vir covid-19 laat toets, maar die uitslag was negatief. Hy het voortgegaan met sy werk, maar die griepsimptome en sy hoesbuie het deur daardie week ál erger geword.

Hannelie onthou sy en Ben het Vrydag, 21 Mei, die laaste dag dat hulle saamgewerk het, agt tonele geskiet.

“Maar hy het toe so gehoes dat hy gesukkel het om te praat,” vertel sy. “Ons moes letterlik paragraaf vir paragraaf verfilm. ”

Tog sou sy nie kon dink dit sal hul heel laaste keer saam voor die TV-kameras wees nie. . .

Die Maandag is Ben weer vir covid-19 getoets – en dié keer was dit uitslag positief. Daarna is al die akteurs saam met wie hy die vorige sewe dae gewerk het, ook onmiddelik vir toetse gestuur, maar almal se uitslae was negatief.

Die volgende dag het Hannelie ’n paar boodskappe vir Ben op sy selfoon gelos. Toe hy nie daarop antwoord nie, het sy vir Freddie Sauerman, die produksiebestuurder op die sepiestel, gebel om te hoor hoe dit met Ben gaan. Dit gaan beter, het Freddie geantwoord.

Maar ’n bekommerde Hannelie wou weet: Gaan dit régtig beter? En toe, net ’n dag later, kom die tyding van sy dood . . . 

“Dit voel so onwerklik,” sê sy nou. “Ek weet nie hoe ek dit gaan handle as ek weer moet teruggaan stel toe nie. Om by sy kleedkamer verby te stap en hy sit nie meer daar binne nie . . .”

Haar stem raak weg terwyl sy teen die trane baklei. Sy en Ben het sedert 2014 teenoor mekaar gespeel as oom Okkie en tannie Ilse, en dis byna ondenkbaar dat sy nou sonder hom vorentoe gaan.

“As twee akteurs vir so lank saamwerk, leer jy mekaar se mannerismes uit jou kop ken en pas julle outomaties by mekaar aan. As die een iets sê of doen, weet die ander dadelik hoe om te reageer en wat gaan volg,” vertel sy. “Ons sepiehuwelik het ook deur baie dips en dinge gegaan. Ek en Ben het voor elke toneel eers bespreek hoe ons dit gaan aanpak en speel.”

Nou het dit alles skielik sonder waarskuwing tot ’n einde gekom. Binnelanders se kykers het darem die troos dat oom Okkie vir nog sowat drie maande op die kassie te sien sal wees, omdat die episodes lank voor die tyd opgeneem word.

Hannelie onthou hoe Ben altyd bereid was om van die ander spelers te help. “Hy was ’n mense-mens wat ander net met omgee en respek hanteer het. Hy het geluister as ander praat, en onthou wat hulle hom vertel het.”

Ook in haar persoonlike lewe het hy vir gaar raad gegee, veral oor die grootmaak van ’n seun. Hannelie se seun, Michael, was 12 jaar oud toe sy en Ben saam begin speel het. 

“Hy het my altyd vertel dat seuntjies anders as dogtertjies is. En ai, ek onthou hoe dikwels ek daardie tyd vir hom gevra het: ‘Ben, hoe maak ek nou?’ En dan kom hy met die beste raad vorendag.”

Sy het hom ook dikwels raad oor ’n ryding gevra. “Maar met al sy kennis en liefde vir karre kon hy dan vir ure aangaan!” onthou sy.

Anders as haar TV-karakter is sy self nie eintlik lief vir ’n kombuis nie, bieg Hannelie.

“Ben was ’n meesterkok en hy sou altyd op stel met sy resepte kom spog. Maar as hy net die woord ‘bestanddele’ genoem het, was ek klaar verlore. 

“Nou onlangs bring hy vir my ’n resep wat blykbaar net drie bestanddele bevat en dié sou ek na bewering kon maak. Net voordat ons vir ’n toneel opstap,  sê ek vir hom my volgende man moet ’n sjef wees. Hy haak toe af en sê: ‘Onthou, ek is klaar gevat!’

“Ek het so gelag dat ek nie dadelik met my toneel kon begin nie!” 

Ook Germandt onthou die lekker lag saam met oom Ben, sy TV-skoonpa, nog lank nadat hulle klaar ’n komiese toneel geskiet het.

Nadat Germandt se karakter, Louis, in Desember 2019 met Naomi getroud is, keer die paartjie van hul wittebrood terug. Met hul aankoms by hul tuinwoonstel op Okkie en Ilse se erf, breek die bed se poot net toe Louis daarop gaan sit.

Op daardie oomblik kom Okkie binne en ’n verleë Louis doen sy bes om dit vir sy nuwe skoonpa weg te steek.

“Dit was vir my een van die mees komiese tonele nog ooit op Binnelanders,” onthou Germandt. “Ek en oom Ben het vir lank daarna nog hieroor gelag.”

Toe Ben se griepsimptome tydens sy laaste week op stel vererger, het hy vir Germandt gesê hy dink hy het longontsteking. Sy “asemhaling lê ’n bietjie vlak”, het Ben op sy laaste dag by die ateljee gesê. Germandt wou toe weet: “Is oom oukei?” Toe antwoord die veteraanakteur: “Nee wat, maatjie, ek sal hierdeur ook kom.”

Tussen sy hartseer deur raak Germandt ontsteld oor van die dinge wat mense in die sosiale media oor Ben se dood kwytraak.

“Daar word mos nou hierdie samesweringsteorieë versprei dat oom Ben dood is, omdat hy die inenting gekry het. Dit is absolute bog. Hy het nie die inenting gekry nie,” beklemtoon Germandt. 

“Dit maak my en sy familie bitter seer om te lees hoe ander mense oom Ben se dood gebruik om hul anti-inentingsveldtog te voer. Ons het iemand baie close verloor, dit is sleg om sulke goed te lees.”

Oom Ben was nie net sy kollega nie, maar ook soos “ ’n dad” vir hom, verduidelik Germandt. Hy bly ’n rukkie stil. “Wag, ek moet eers keer voor ek nou weer emosioneel raak.”

SO ONTHOU ONS HOM

Hy was “’n grapgat en paartiegat”, vertel die akteur Frank Opperman oor wyle Ben Kruger, met wie hy sedert die middel 1980’s bevriend was.

“Ons is altwee Lions-supporters en ons het ’n losie op Ellispark gedeel. Dit was groot pret om daar saam met hom te kuier en rugby te praat en saam ’n ietsie te drink,” deel Frank van sy aangename herinneringe.

“Maar net so lekker as wat hy kon lag, so maklik kon hy huil. Hy het so vier jaar gelede een van my shows in Cullinan kom kyk. Die vertoning het hom geroer. Ná die tyd toe loop sy emosies oor en toe lóóp die trane. Dit is ’n kompliment as jy jou buddy kan laat huil.”

Die akteur en sanger Richard van der Westhuizen was “dekades lank” vriende met Ben.

Hulle het in die 2000’s ’n kleedkamer gedeel toe hulle saam in die sepie 7de Laan gespeel het. 

“Daardie tyd moes ons altyd seweuur soggens op stel wees, al was jou call eers die middag. Ben moes van Pretoria af ry en as hy in die kleedkamer kom, het hy altyd op die bed gaan neerval en geslaap. Maar hel, daai man kon snork! Dit sal ek nooit vergeet nie.”

Richard spog ook dat hy “die oorspronklike resep van Mrs. Ball’s chutney” het. Dié het hy by Ben gekry, in ruil vir twee bottels ingelegde vye. “Ek sal nou nie kan sê hoe oorspronklik dit werklik is nie, maar Ben het altyd gesê dit is!”

Hy onthou Ben “as die innemendste mens wat altyd tyd gehad het vir ander”, sê Frans Swart, die besturende direkteur van Lefra Produksies. Die akteur het deur die jare in talle van hul verhoogproduksies opgetree.

“Jy kry akteurs wat net praat om hul eie stem te hoor, maar wanneer Ben gepraat het, kon jy maar na sy insig en kennis luister. En wanneer jy vir hom iets vertel het, dan het hy geluister en onthou wat jy gesê het.

“Hy het ook baie potjieskoskompetisies wat ons aangebied het, beoordeel,” vertel Frans. “Maar hy sou so intens belangstellend met elke deelnemer gaan gesels dat elkeen van hulle seker gedink het húlle is die wenner!”

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produk
Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, saam met Ben tydens ‘n Groet die grotoupa-repetisie.

Sowat 10 jaar gelede het Ben in Groet die Grotoupa gespeel. In ’n stoel waarop die “grotoupa” dikwels op die verhoog gesit het, was ’n kompartement waarin hy onder meer sy pille gebêre het. 

“Tydens een van die vertonings wou die deurtjie nie oopgaan nie, maar die teks het vereis dat hy sy pille kry,” onthou Frans. “Sonder dat die gehoor dit eens besef het, het Ben die situasie gered deur af te stap terwyl hy sê: ‘Alzheimer het sy tol geëis; ek het vergeet my pille is in die kombuis.’

“Hy was ’n meester op sy vakgebied; hetsy op die verhoog of voor die TV-kameras.”

In die vermaakbedryf was Ben daarvoor bekend dat hy sy woorde baie vinnig kon leer, vertel Frans.

“Op die verhoog het hy nooit oor sy woorde gestruikel nie. Voor die kameras was die meeste van sy tonele ‘one takes’, so woordvas was hy.”

SY LEWE EN GESIN

Ben as ‘n jong seun. Hy was in matriek hoofseun va
Ben as ‘n jong seun. Hy was in matriek hoofseun van sy skool.

Hy is op 25 Maart 1957 op Bothaville in die Vrystaat gebore waar sy pa, Zaki, ’n pastoor in die AGS-kerk was. Ben was vier jaar oud toe die gesin na Johannesburg verhuis waar hy in 1974 as hoofseun aan die Helpmekaar Seunskool gematrikuleer het. 

Daarna het hy 18 maande militêre diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot verrig, voor hy na die Universiteit van Pretoria is waar hy ’n dramagraad verwerf het.

Ben en sy vrou, Cheryl. Almal vertel dat Ben baie
Ben en sy vrou, Cheryl. Almal vertel dat Ben baie geheg aan en trots op sy gesin was.

Ben laat sy vrou, Cheryl (70), en drie seuns Niku (30), Ivan (32) en Daniel (34) agter, asook ’n kleinseun, Oliver (3) en kleindogter, Finley (6 maande).  Niku het in Amerika rugby gespeel en in die Wêreldbekertoernooi van 2015 vir die Yanks uitgedraf.

Die akteur laat ook sy ma Lydia (87) agter, maar sy pa is in 2000 oorlede.

Ben saam met sy seuns Niku, Ivan en Daniel.
Ben saam met sy seuns Niku, Ivan en Daniel.

Ben het “onbeskaamd gespog” met sy gesin, vertel die aktrise Hannelie Warren. “Wanneer hy aan sy selfoon begin vroetel het, het jy geweet hier kom nou weer foto’s wat hy wil wys.”

’N LANG LOOPBAAN

In sy loopbaan wat oor 48  jaar gestrek het, was daar vele hoogtepunte.

Ben het in 1973 sy debuut as rolprentakteur gemaak as die karakter Dirkie Uys in Die Voortrekkers. Daarna het flieks gevolg soos ’n Sondag in September (1976), Dr Marius Hugo (1978) en Pretoria O Pretoria (1979). In die rolprent Wolhaarstories (1983) het hy die rol van ’n fopdosser vertolk.

Hy het met internasionale akteurs soos Sidney Poitier en Michael Caine saamgewerk in die fliek Mandela and De Klerk (1997). Ben het as die tronkbewaarder James Gregory daarin verskyn.

Hy het ook in lokettreffers soos Orkney Snork Nie! 2 (nog ‘n movie) van 1993 gespeel en Poena is Koning (2007). Op die kassie het kykers hom in die vroeë 1980’s as die geliefde onderwyser Christo de Wet leer ken in die drie seisoene van Skooldae. Van die ander gewilde TV-reekse waarin hy verskyn het , is Triptiek 2 (1998), Riemvasmaak (2008) en Moeggeploeg (2013). 

In die vroeë 1980’s was Skooldae een van die gewil
In die vroeë 1980’s was Skooldae een van die gewildste reekse op TV1 met Ben as die geliefde onderwyser Christo de Wet.

In die vroeë 2000’s het hy die rol van die komiese karakter Neef Gert in die sepie 7de Laan vertol en in 2010 in die reeks Die Uwe Pottie Potgieter verskyn. Hy het 2012 by Binnelanders aangesluit. 

Ben het ook in sowat 50 verhoogproduksies opgetree. Van die hoogtepunte aan die begin van sy loopbaan was rolle in Die Huigelaar, Siener in die Suburbs, Don Juan onder die boere en Die dood van Robey Leibbrandt. Meer onlangs was hy op die verhoog te sien in My pa dink hy is Elvis (2011 – 2012) en Groet die Grotoupa (2010 – 2012).

Maar dit is veral as die geliefde oom Okkie Ferreira in Binnelanders wat ons hom hier teen die einde onthou. En nou word oom Okkie se stem stil.

FOTO'S: JACQUES ‘JAY’ LOOTS, VERSKAF, KYKET, FACEBOOK/BEN KRUGER
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe