Dit is 'n pyn wat die 32-jarige akteur Bradley Olivier, wat die rol van Danny in die kykNET-reeks Binnelanders vertolk, self vroeër vanjaar in sy persoonlike lewe ervaar het met die heengaan van sy pa, Martin Gouws. 

Hoewel hy en sy gesin steeds die verlies verwerk, hou Bradley sy kop omhoog en kyk vorentoe. 

“Die jaar het swaar begin, want ek het aan die begin van die jaar my pa aan diabetes verloor. Sedertdien is ek besig met Binnelanders en ander projekte. So ten spyte van hoe dit begin het, was dit later oukei,” vertel Bradley aan Huisgenoot

“Hoewel die jaar gekom het met sy eie uitdagings, is daar baie groot moontlikhede en goed wat gebeur het wat my laat uitsien na 2020.”

View this post on Instagram

A post shared by Bradley Olivier (@bradley_olivier) on

Vir die vakansie het Bradley na sy Bolandse tuisdorp, Paarl, teruggekeer om die feesseisoen saam met sy geliefdes deur te bring. 

“Ek gaan saam met my ma, Susan, my dogtertjie, Kiara, my suster Sheena-Kay en haar kinders tyd deurbring. Dis maar swem, braai en Kersetes,” lag hy.

Bradley saam met sy ma, Susan. Foto: Verskaf
Bradley saam met sy ma, Susan. Foto: Verskaf
Bradley saam met sy dogter, Kiara. Foto: Verskaf
Bradley saam met sy dogter, Kiara. Foto: Verskaf

In die nuwe jaar sal kykers steeds vir Bradley in Binnelanders sien. Hy begin ook skiet aan 'n nuwe fliek.

“Dis 'n komedie waaraan ek en my skryfvennoot, Solomon Cupido, werk en deur The Film Factory vervaardig word. Meer as dit kan ek ongelukkig nie sê nie.” 

Solomon is natuurlik die akteur wat ons al in reekse soos Mense mense gesien het en The Film Factory vervaardig Huisgenoot en kykNET se tweede fliek Vergeet my nie, wat op 14 Februarie op Valentynsdag in rolprentteaters begin draai.

Wat kan kykers in 2020 van Bradley se Binnelanders-karakter Danny verwag wat in 2019 'n groot liefdesteleurstelling gehad het toe sy meisie, dokter Jax (Kim Syster), die Binneland-kliniek verlaat en Kaap toe verhuis het?

“Dalk was Jax nie die liefde van sy lewe nie,” skimp Bradley.

“Dalk is Chanel (Lindsey Abrahams) eintlik die een," laat Bradley hoor oor Danny se verpleegster-vriendin.

"Hul verhouding word getoets, want Danny en Chanel se familieprobleme hou ook nie op nie. Daar is beslis ’n paar rough patches op pad.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.