Min dinge is beter as ’n nuwe baba om ’n huishouding tydens die inperking op te vrolik . . . veral as Ma en Pa die buitelug­avonture mis waarop hulle gewoonlik so versot is.

En met die strengste vlakke van die ­inperking opgehef, verleen die klein woelwater nou ’n ekstra lekkerte aan hul daguitstappies in die natuur.

So van die baba gepraat . . . Hier sluit hy nou by die videogesprek aan. Al snuf­felend en stertswaaiend om die grootmense se voete. Ontmoet klein Buddy, die jongste intrekker in die huis van die aktrise Cindy Swanepoel en haar kêrel, die regisseur en vervaardiger Hardus van Deventer.

“Cindy wou al bitter lank ’n troeteldier gehad het,” vertel Hardus (39), wat haar in Mei met die steekhaarbrakkie verras het.

“Hy moet saam met ons kon stap­roetes doen en in ons avonture deel,” voeg Cindy (38) by.

“Dis hoekom hy toe Buddy is, want hy is ons buddy,” som Hardus op.

Hul vier maande oue hondekind – meestal schnauzer met ’n skeut Jack Russell daarby – was duidelik die lang wag werd.

“ ’n Hondjie leer jou om altyd teenwoordig te wees, want alles gaan vir hom oor die nou. Gaan ons nou stap; gaan ons nou speel? Hy bring vir ons verskriklik baie vreugde,” sê Cindy.

Is dit regtig die slinkse en gehate dr. Annelize Roux van Binnelanders-faam wat so broeis oor haar hondebaba is?

Cindy as die gehate dr. Annelize Roux in ’n tonee
Cindy as die gehate dr. Annelize Roux in ’n toneel uit die kykNET-­sepie Binnelanders saam met Reynardt Hugo, wat die rol van dr. Tertius Jonker vertolk.

Cindy en Hardus lag albei lekker oor hoe kykers daarvan hou om haar karakter in dié kykNET-sepie te haat – en hoe mense weg van die stel soms nie die onderskeid tussen Cindy en Annelize kan tref nie.

Hardus vertel hulle het drie jaar gelede saam met vriende ’n staptog in die Knysna-bos aangepak. Op ’n kol sien hulle ’n ander groep stappers van voor af nader kom.

“Toe ons by die plek kom waar die paadjies kruis, loop ’n tannie letterlik uit haar paadjie direk op Cindy af en sê: ‘As ek nou my handsak by my gehad het, het ek jou daarmee gemoer!’ ” vertel hy smaaklik.

“Ek het so ’n sekonde lank nie geweet waarvan sy praat nie,” laat hoor Cindy. “En toe snap ek: ‘O ja, Annelize . . .’ ”

Sy is dol daaroor om ernstige rolle te vertolk. Maar dit kan soms ’n emosio­nele tol van haar eis, erken sy.

“Elke keer wanneer Annelize op die stel in ’n vertrek instap, word sy deur die ander karakters skeef aangekyk en verwerp. As ek baie tonele in ’n dag skiet of besig is met ’n groot storielyn, kan dit nogal uitmergelend wees. Dis hoekom oefening vir my so belangrik is – ek sweet haar uit.”

Ons gesprek draai weer na Hardus, wat nog altyd verkies het om op die agtergrond te bly wat hul verhouding betref. Maar vandag gesels hy lekker saam – so asof Buddy ook vir hóm uit sy dop laat kruip het in sy nuwe rol as hondepa.

Sy dae agter die kameras kan ewe lank en stresvol wees as Cindy s’n voor dit, maar waar Cindy vir haar goedvoel-fix oefen, ontspan hy in die kombuis.

“Hardus kook ongelooflik lekker, so hy maak ’n heerlike bord kos, sit vir ons musiek aan en skep net ’n rustige atmosfeer om te ontlaai,” sê Cindy.

Ons word onderbreek deur die klein prinsie van die huis wat al blaffende ook ’n bietjie aandag vra. Hy is immers nes sy mensema ’n sosialemediaster. Maar waar Cindy prettige aanlyn oefensessies aanbied, is Buddy die uitblinker by ’n aanlyn ­gehoorsaamheidskool vir honde.

“As ons sien waardeur ander mense met hul honde gaan, is ons werklik gelukkig met hoe soet hy is,” sê Hardus.

“Hy is hoofseun van die klas,” voeg ­Cindy trots by. “Hy is baie slim. Ons bou vir hom hindernisbane, en hy kan al sit as ons sê hy moet. Een van die dae gaan hy ’n goed gemanierde hond wees, maar vir eers is hy net ’n heavy cute puppy.”


En Buddy spits sy ore asof hy weet hy word geloof.

Aan die begin van die in­perking, vertel Cindy, was sy ietwat verbaas toe almal skielik fiksheidsvideo’s in die sosiale media begin oplaai. Maar gou het sy ook haar “woonkamer-gim” met aanhangers begin deel.

As die komiese hoofkarakter in haar en Hardus se aanlyn oefenreeks, Carmen in Isolation, laat sy kykers se lag- én maag­spiere werk met haar pittige sêgoed so tussen die gesweet deur.


Hokaai nou – het dr. Annelize dan ’n ligter kant? Die antwoord is natuurlik dat Cindy darem nie altyd ernstig is nie, soos kykers van Proesstraat sal onthou. Sy het aanhangers van dié kykNET-komediereeks gereeld laat skater.

“Ek love steeds improvisasie,” vertel Cindy opgewonde. En boonop is dit nog iets wat sy en Hardus saam geniet. Dit is ook nou Hardus wat Carmen, Cindy se alter ego, se oefenmanewales op kamera vasvang.

“Carmen is ’n prettige projek. Dit is iets wat ons geniet om te doen, vir onsself,” sê Cindy.


Dit is nie die eerste keer dat Cindy en Hardus aan ’n projek saamwerk nie. Hardus het die regie behartig vir die kortfliek Fluit fluit, waarvoor Cindy in 2018 die prys vir beste aktrise in ’n kortfliek by die kykNET Silwer­skermfees losgeslaan het.

Die paartjie het mekaar in Desember 2015 by die Bravo-fees op Mosselbaai ontmoet. ’n Gemeen­skaplike vriend het hulle aan mekaar voorgestel en hulle het met ’n glas ­whisky tot sonop gesels.

Daarna het hulle kon­tak behou en mekaar op Nuwejaarsdag weer gesien. En sedertdien is hulle bymekaar.

“Ons is verskillend op byna elke liewe manier. Van hoe ons eet tot ons vriend­skappe,” sê Hardus.

“Behalwe ons musieksmaak en liefde vir reis,” gooi Cindy wal. “Celebrate the differences, right?” lag sy.

Hardus en Cindy met ’n vakansie in Viëtnam. Die tw
Hardus en Cindy met ’n vakansie in Viëtnam. Die twee vertel hulle verskil op byna elke manier denkbaar, maar hul liefde vir reis is iets wat hulle saamsnoer.

“Ja, en dit het ons ’n tydjie gevat om dit te doen,” beaam hy.

Voel dit soms of hul lewe op die stel en hul privaat lewe een en dieselfde is?

Ja, koor hulle. Soos verlede Desember, toe Cindy haar linkergroottoon gestamp en die toonnael heeltemal om­gebuig het – en kort daarna ook die achillestendon van dieselfde voet geskeur het.
“Toe sê die dokter ek moet hierdie moonboot ses weke lank dra. En ek dink: ‘Wat nou? Ons wil oor ’n paar dae op die Oranjerivier gaan roei,’ ” vertel Cindy.

“Sy het letterlik net MacGyver-planne gemaak; die boot is elke keer uitgetrek en dan is haar voet in ’n waterdigte plastieksak toegedraai wanneer ons begin roei. Wanneer ons stop, moes ek haar eers help om die boot weer aan te sit,” vertel Hardus.

 Die paartjie roei op die Oranjerivier. Cindy sê s
Die paartjie roei op die Oranjerivier. Cindy sê sy was dadelik aangetrokke tot Hardus se avontuurlustigheid.


Terug op die Binnelanders-stel moes daar vinnig plangemaak word. En so verneem kykers toe dr. Annelize het haar achillestendon tydens ’n draf­sessie beseer.

“Dit was aaklig. Om kontinuïteit te behou, moes dit lyk of ek nie ’n boot aan­gehad het nie,” vertel Cindy. “Dit het regtig weird gevoel, want ek moes maak of ek normaal loop.”

Maar dit alles bring haar en Hardus net nader aan mekaar.

“Ek wou nog altyd ’n avontuurlustige kêrel gehad het. Ek soek iemand wat saam met my op avonture kan gaan; wat nie vol nonsens is of oor luukshede omgee nie,” sê Cindy. “Dit was Hardus se sense of adventure waartoe ek dadelik aangetrokke was toe ons mekaar ontmoet het,” vertel sy.

“Ons is op ons gelukkigste as ons saam ’n avontuur kan aanpak,” beaam hy.

Hulle is dit eens dat hulle slaggereed is vir hul volgende lewensfase, hul 40’s.

“My ma het altyd gespot oor ouderdom. Sy het grappenderwys gesê: ‘Hemele behoed 40, die groot nommer. Ek wil net nie 40 word nie.’ En dit het toe nooit gebeur nie,” vertel Cindy.

Cindy se ma, Tammy, is in ’n fratsongeluk oorlede toe Cindy 19 jaar oud was. “Sy was toe 39 jaar oud, ’n jaar ouer as wat ek nou is,” onthou Cindy.

“Dit is hoekom ek nou ouderdom so embrace; ek embrace dit om ouer te word. Wees die beste persoon op 40 wat jy kan wees,” sê sy.

En as haar ma vandag nog hier was? “Ek dink sy sou vir my gesê het sy was nog altyd trots op my. En ek weet dit.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe