Ilne Nienaber saam met haar man, Marcus, en hulle
Ilne Nienaber saam met haar man, Marcus, en hulle twee kinders Hugo en Mila. Foto: Verskaf

Meer as vier jaar het kykers aan haar lippe gehang. Die rissiepitdokter in Binnelanders wat nie geskroom het om op te staan vir wat reg is nie.

Mense het begin meen sy is soos ’n kat met nege lewens. Twee jaar gelede het sy in ’n veldhospitaal in die Kongo ’n noue ontkoming met die dood gehad en onlangs was sy in ’n fratsongeluk toe ’n paal haar nier deurboor het. Kykers het begin glo ons sal die kanniedood dr. Elana Bes­ter altyd met ons hê. Tot vandeesweek.

Ek moes so baie misloop in my persoonlike lewe; ek het in twee geskeur gevoel.

Ilne Nienaber (40), wat die rol vertolk, vertel dit was haar besluit om die kassie tot siens toe te roep, en al is daar baie dinge wat sy gaan mis, sê die sepiester daar is ook heelwat om na uit te sien.

Vir kykers is die pynlike tonele by Elana se sterfbed dalk hartverskeurend, maar vir Ilne is dit ook die begin van ’n opwindende nuwe hoofstuk.

“Vir die eerste keer sedert ek 19 jaar oud was, is my tyd my eie. Dit is so bevrydend,” sê die donkerkop aan Huisgenoot.

“Ek moes so baie misloop in my persoonlike lewe; ek het in twee geskeur gevoel.”

Vir die eerste keer kom sy by die huis aan voor die son sak. Sy glimlag tevrede. “Ek dink ek is klaar met toneelspeel.”

Dit is ’n Donderdagoggend, en Ilne knyp ’n kort tyd tussen haar twee kinders se aanlyn klasse af om met ons te gesels. Haar seun, Hugo (8), en dogtertjie, Mila (5), se skool is gesluit weens die pandemie.

Dit is chaos en uitputtend, maar sy geniet dit baie, vertel Ilne.

I’ve been around,” sê sy, en haar oë lag. “Op 19 het ek in Egoli begin speel, en talle sepies het daarna gevolg. By Binnelanders was ek vyf dae ’n week van sewe tot sewe op stel, en Saterdae moes ek my woorde leer vir die komende week.”

Sy het soggens vier­uur opgestaan, eers geoefen, die kinders reggekry vir skool en dan was sy al sewe­uur op stel. Saterdae het sy meer as agt uur opsygesit om haar woorde vir die komende week te leer.

“Ek het dus net een dag ’n week saam met my familie gehad. Ek dink daar is ’n rede hoekom ek die enigste voltydse aktrise met kinders by Binnelanders was. Kyk, dit was lekker, maar dit was tyd vir ’n verandering.”


Sy en haar man, Marcus (34), is vanjaar 10 jaar getroud.

“Hy het my nog altyd ondersteun, maar ek het in November verlede jaar die besluit gemaak om die sepiewêreld te los. “Ek het een te veel skoolkonsert gemis. Een te veel keer was ek nie daar toe my kinders siek was nie. En hulle is vir my die belangrikste.”

Ilne vertel omdat sy een van die karakters was wat in byna elke storielyn was, moes sy meer as drie maande vooruit laat weet as sy ’n dag wou af vat.

Ilne kan nou meer tyd saam haar gesin deurbring. H
Ilne kan nou meer tyd saam haar gesin deurbring. Hier is hulle op Hugo se eerste skooldag verlede jaar. Foto: Verskaf

“Ek kon gelukkig lank voor die tyd laat weet met Hugo se eerste dag van gr. 1 in 2020, maar dit is nie altyd moontlik nie.”

Vir die eerste keer in twee dekades kan sy nou besluit hoe sy haar hare wil sny.

“Dit is iets so klein, maar ek kon nie net my hare verander nie. Ek voel half asof ek nou eers my eie styl moet vind. Wat nog te sê van leer om my eie grimering te doen. Jare lank is dit altyd vir my gedoen,” sê sy en glimlag breed.

Ilne as dr. Elana Bester in Binnelanders. Sy het d
Ilne as dr. Elana Bester in Binnelanders. Sy het die sepie ná vier en ’n half jaar verlaat. Foto: Binnelanders/kykNET

Haar laaste dag van verfilming was 16 April. Sy sê dr. Elana se dood was so uitgerek dat sy geleidelik kon afskeid neem van haar karakter en kollegas.

“Dit was so ’n emosionele tyd toe Elana in die bed lê en almal groet. Saans wanneer ek tuiskom, was ek gedaan. Uitgemergel,” onthou sy.

Vandag, meer as twee maande nadat sy van Binnelanders se stel af gestap het, mis sy nie die toneelspeel nie. Net die mense. “Ons was soos ’n familie en het soveel tyd saam deurgebring.”

Saam met van die ander Binnelanders. Van links is
Saam met van die ander Binnelanders. Van links is Marilise van Wyk, Lindie Stander, Kara du Toit, Cindy Swanepoel, Ilne, Je-ani Swiegelaar en Lindsey Abrahams. Foto: Verskaf

Maar dié loopbaan kan soms ook genadeloos wees. Sy het deur die jare baie emosies onderdruk en dinge nie regtig in die oomblik gevoel nie sodat sy dit eerder in haar toneelspel kon uitleef.

“Ek het myself gekondisioneer om die trauma of emosionele dinge in my persoonlike lewe in ’n lêer binne my te bêre sodat ek dit later in tonele kon gebruik, soos om te huil as dit nodig is. Nou besef ek half, hei, jy mag maar dit voel en in die oomblik beleef.”

(My pa) het die oggend ’n hartaanval gehad, en ek wou natuurlik na hom toe jaag in die hospitaal, maar die lynbestuurder op stel het vir my gesê: ‘Jy is nie ’n dokter nie; jy gaan elk geval niks vir hom kan doen nie.

Dit was moeilik om huis toe te kom en vrolik te wees wanneer sy heeldag op stel gehuil het.

“Of andersom. Ek wou net onder ’n duvet inkruip, maar moes vrolik op stel wees.”

Sy bly ’n oomblik stil.

“Ek sal nooit vergeet nie. Een van die vorige sepies waarin ek gespeel het . . . My pa en ek is baie naby aan mekaar. Hy het die oggend ’n hartaanval gehad, en ek wou natuurlik na hom toe jaag in die hospitaal, maar die lynbestuurder op stel het vir my gesê: ‘Jy is nie ’n dokter nie; jy gaan elk geval niks vir hom kan doen nie.’ ”

Sy skud haar kop.

“Nou hou ek my­self besig met wat ek wil. Ek maak fondantversiering vir koeke, en mense bestel by my op Instagram. Ek het ook ’n jarelange droom bewaarheid, en een van die dae kom my kinderboekreeks uit,” vertel sy.

Die eerste boek in die reeks se naam is Korrels se avonture. Korrels is ’n kameelperd wat Ilne vir haar kinders geskep het.

“Meer as twee jaar skryf ek al dié stories vir my eie kinders, en toe op ’n dag besef ek ander kinders kan ook hierby baat vind.”

Marcus, wat in menslike hulpbronne werk, werk ook van die huis af en het onlangs ’n werkaanbod in Kanada gekry.

“Ons is so opgewonde. Ons is besig met die papierwerk. So ja, ons trek Kanada toe,” sê Ilne en glimlag breed.

Ilne sê hulle emigreer nie omdat hulle Suid-Afrika wil agterlaat nie. “Ons besef net as ons hier bly, is die kans groot ons kinders gaan óns eendag hier los, en ek wil my kleinkinders sien grootword!”

Ilne beduie vir klein Hugo sy is amper klaar en dat hy solank met sy werk moet aangaan.

“Hugo is ons sensitiewe kind. Hy het altyd vir my gevra: ‘Mamma, gaan jy by die huis kom voor of nadat die son gesak het?’ Die meeste van die tyd was my antwoord nadboeat die son gesak het.

“In dié tyd wat ek tuis is, het hy my ’n groot druk gegee en gesê dit is so lekker om my by die huis te hê.”

Sy glimlag weer groot. Ilne weet nog nie wat sy in Kanada gaan doen nie, maar rolprente en verhoogwerk het haar nog nooit aangetrek nie.

“Nee, ek’s klaar. Van nou af is ek net Ilne, nie meer Elana nie.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe