Dit was ’n moeilike dag, sê Reynardt, veral bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die kykNET-hospitaaldrama Binnelanders

Want na byna 10 jaar aan mekaar se sy; na troebel waters en vele uitdagings, het die paartjie oplaas daarna uitgesien om amptelik man en vrou te word. 

“Ons het so uitgesien daarna om trou aan mekaar te beloof,” sê Reynardt. “Maar ons het mekaar – en dis al wat tel.” 

Die paartjie se Wes-Kaapse troue is weens die nasionale inperking vir eers van die baan. 

Die akteur sê hy en An-Maré, ’n onderwyseres, het nie ’n uur van die dag verby laat glip sonder om te wonder wat hulle op hul groot dag sou doen nie.

“Ons het so gelê en dan vir mekaar vertel: Oukei, nou sou jy met die paadjie na die kansel stap. En nou sou ek jou soen. Nou sou ek ’n ring aan jou vinger steek. Nou sou ons man en vrou wees,” vertel hy.

“Ag, en dis wat ons sommer half hartseer gemaak het. Om te weet watter lang pad ons al saam stap. Ons moes deur die motions gaan – net soveel ander mense wat nou binnenshuis moet bly.” 

Op Instagram het Reynardt hartroerend oor sy groot dag met An-Maré geskryf – en hy’t die harte behoorlik laat smelt.

Reynardt en An-Maré. Foto: Instagram/@reynardthugo
Reynardt en An-Maré. Foto: Instagram/@reynardthugo

“Ek en Anna sou vandag getrou het. Vandag was ’n moeilike dag gewees. Ons het so uitgesien om vandag trou aan mekaar te beloof ná soveel jare van hartseer, uitdagings en eindelik oorwinning. Maar ek staan vandag langs jou, hier in ons loft in Johannesburg, en ons het mekaar. Ten spyte van wat daarbuite aangaan. Ek het besef hoe belangrik spanwerk is en dat ’n mens ongeag wat bymekaar moet staan – deur deur dik en dun.”

Op die dag wat hulle gedink het hulle grootste dag sou wees, het die paartjie sommer in die tuin gewerk, televisie gekyk, met die honde gespeel en lank in mekaar se arms gelê.

“Ons het ampertjies gehuil oor al die mooi boodskappe wat ons gekry het,” vertel Anna, soos Reynardt sy verloofde liefderik noem.

“Ons het gesien hoeveel mense omgee en saam met ons hartseer is. Daar was ook talle boodskappe van ander mense wat gesê het hulle kon ook nie trou nie. Dis hoekom dit vir ons belangrik was om dit in die sosiale media te deel: om vir mense te sê hulle is nie alleen nie, ons is almal saam in hierdie ding.” 

Reynardt Hugo
Die paartjie vertel hulle kan nie wag vir hulle groot dag nie. Foto: Instagram
Reynardt Hugo
Reynardt en Anna, soos die akteur sy verloofde noem. Foto: Instagram

Hul troureëlings is vir eers op ys tot daar meer duidelikheid oor die inperking is, verduidelik die paartjie. Maar ’n troue gaan so gou moontlik plaasvind . . . 

“Daar is soveel mense wat sê hulle sou dinge anders doen as hulle ’n tweede kans gehad het om hulle troudag oor te doen. Ons het nou ’n tweede kans. So net die bruid en bruidegom en die rok bly dieselfde,” spot Anna.

Haar rok, wat in Port Elizabeth by haar ouers hang, bly steeds ’n groot geheim.

“Die afwagting vir die groot dag maak my net liewer vir haar,” sê Reynardt.

“Ek moes stil kom staan om net weer te besef: ek kies haar oor en oor, elke dag, tot die dag wat ons eindelik daardie belofte maak.”