Reynardt, wat die rol van dr. Tertius Jonker in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders vertolk, het die goeie nuus op Instagram bekend gemaak.

Op die foto wat Reynardt gedeel het, stap hy op die strand hand aan hand met die donkerkop kleuterskoolonderwyseres An-Maré Roothman en die twee hou glase sjampanje vas. “En ons het verloof geraak,” het Reynardt by die foto geskryf.

View this post on Instagram

And we got engaged!!

A post shared by ®? E Y N A R D T H U G O (@reynardthugo) on

“Ons is al vir omtrent tien jaar ’n paartjie,” vertel Reynardt opgewonde aan Huisgenoot.

Die paartjie het mekaar in 2009 ontmoet en vriende geraak toe An-Maré van Port-Elizabeth na Johannesburg getrek het.

Hy sê hy het Sondag op die strand by Sardiniabaai naby Port Elizabeth vir An-Maré die ja-woord gevra.“Ek kon nie glo dit gebeur nie,” sê hy laggend en vertel hoe hy alles haarfyn beplan het.

An-Maré het die naweek by haar ma gekuier en Reynardt het Saterdag ná ’n vertoning in Hartenbos by hulle aangesluit. Boonop sou hy saam met An-Maré aan ’n familie-fotosessie deelgeneem het omdat haar broer en sy vrou onlangs uitgevind het hulle verwag ’n babatjie.

Maar toe sê hy vir “Ana”, soos hy haar noem, Adam, het op kort kennisgewing ’n vertoning in Nelspruit en hy gaan die fotosessie moet misloop.

“Dit het al voorheen gebeur wat ons op kort kennisgewing moet optree en sy is al gewoond daaraan,” vertel Reynardt van sy plan. Hy het ’n teleurgestelde An-Maré gegroet sodat hy na Nelspruit kon vertrek en sy het gedink sy sien hom eers oor ’n dag of twee.

Maar eintlik was hy besig om alles op die strand gereed te kry vir wanneer An-Maré vir die “swangerskap-fotosessie” by die strand opdaag.

“Toe sy oor die duin kom en sy sien my het sy net na my toe gehardloop,” vertel Reynardt. “Ek het vir haar gesê, kom haal die ring!” lag Reynardt.

Hy sê dit was ’n emosionele maar opwindende ervaring.

“So oomblik voor sy oor die duin gekom het, toe my een vriend Arno Greeff van agter ’n bos gewys het sy is op pad, het ek gevoel my kaak raak so bietjie styf, toe het ek besef die oomblik is hier,” sê Reynardt. “Maar ek was nie regtig op my senuwees nie want dit het net reg gevoel.”

“Sy het gehuil en ek het net heeltyd gedink hierdie is insane. Ek het gelag en net gedink, ek kan nie glo dit gebeur nie,” vertel Reynardt geesdriftig. Hy het net daar op sy knie afgegaan en sy Ana gevra om sy vrou te word.

Hy sê hulle is in die afgelope tien jaar deur moeilike tye en moes al die spreekwoordelike sewe sakke sout opeet.

View this post on Instagram

liefde vir julle! #fiestas2018 ??

A post shared by Annabanana (@anmareroothman) on

“Ons is al deur baie. Ek kom uit ’n agtergrond van drankmisbruik en ons het al voorheen uitgemaak,” sê Reynardt wat al openhartig oor sy stryd met alkohol gesels het en sowat drie jaar gelede opgehou rook en drink het.

Hy sê dit was ook nie moeilik om ’n ring te kies nie omdat hy presies weet waarvan sy Ana hou. “Dit is simplisties en baie mooi,” vertel hy. Hy meen die ring verteenwoordig vir hulle al hul jare saam.

Volgens Reynardt het hulle nog nie ’n troudatum vasgestel nie, maar beoog hulle om so teen die einde van die jaar, wanneer al Adam se vertonings afgehandel is, bruilof te hou.