Die akteur, bekend om sy rol as dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders, sê sy ervaring van die virus was vreesaanjaend. Ja, selfs vir ’n sepiedokter soos hy.

Reynardt vertel Woensdag aan Huisgenoot hy was onder die indruk dat hy ’n seisoenale griep opgedoen het of bloot net moeg was ná die lang ure op die stel toe hy op 16 Junie olik begin voel het.

“Dit het begin met ’n vreemde gesuis in my ore – daardie einste gevoel wat 'n mens ervaar wanneer jy net griep opgedoen het,” vertel hy. “My storie was dieselfde as dié van soveel ander – ek het ook maar net gedink ek is moeg en nie dadelik daaraan aandag geskenk nie.”

Maar teen daardie naweek – net drie dae nadat hy aanvanklik begin goor voel het – het die virus hom platgetrek. En ná ’n vinnige toets die daaropvolgende Maandag (op 22 Junie), het die dokters op 25 Junie skuins ná agtuur die aand laat weet: Hy het positief getoets vir covid-19 en sal homself onmiddellik moet afsonder.

Reynardt was die eerste akteur onder Binnelanders se rolverdeling wat positief getoets is vir die virus. Maatskappybeleid het van hom vereis om homself 21 dae lank af te sonder – en nie die minimum voorgeskrewe 14 dae nie.

Reynardt Hugo
Reynard saam met sy donkerkopverloofde, An-Maré Roothman. Foto: Instagram

“Jy weet dis nie sommer net ’n seisoenale griep nie,” verduidelik Reynardt op ’n vraag oor die simptome wat hy ervaar het. “Dit begin stadig en beweeg dan ál vinniger. Ek het lyfseer ervaar en was ongelooflik moeg en pap. Ek het mettertyd geen smaak meer gehad nie.” 

Die Binnelanders-ateljee by Stark Studios in Randburg moes noodgedwonge sluit terwyl die akteurs en ander personeel wat met hom kontak gehad het hulle vir die virus kon laat toets. In die jongste aflewering van die sepie is dr. Tertius met “vakansie” – maar nee, hierdie tonele is geskiet in die weke wat hy en An-Maré op hulle wittebrood sou wees, en nié tydens Reynardt se afsonderingstydperk nie.

“Ag hemel, 'n mens kan mos maar nie help om goor te voel nie. Jy wil nie die rede wees dat iemand anders siek word nie,” sê Reynardt.

Die akteur vertel hy en sy verloofde, An-Maré Roothman, het in dieselfde huis gewoon tydens sy afsonderingstydperk. Maar An-Maré, ’n laerskoolonderwysers aan ’n Randburgse privaat skool, het twee keer negatief getoets vir die virus.

Sekerlik die uitdagendste van dié virus, vertel Reynardt, is dat ’n mens se kop soms “speletjies met jou speel”. Dit was vir hom veral erg omdat hy in die laaste maande ’n aangetroude familielid juis aan dié virus aan die dood afgestaan het.

André Keijser (74), ’n afgetrede spoorwegtegnikus en lektor van Ladysmith in KwaZulu-Natal, was Reynardt se stiefma se broer. Hy is einde Maart oorlede en was die tweede sterftegeval weens covid-19 wat in Suid-Afrika aangemeld is.

Reynardt Hugo
Reynardt Hugo as dr. Tertius Jonker in Binnelanders. Saam met hom is Cindy Swanepoel wat die rol van Annelize vertolk.

“Dis natuurlik ’n ongelooflik spanningsvolle tyd. Jy lees al hierdie dinge – oor mense wat sterf, oor die kwaai simptome wat hulle ervaar en oor die absolute moedeloosheid van die hele saak,” sê Reynardt. 

“Ek het gereeld gedink aan oom André – oor hoe gesond en fiks hy was. Dan maak dit jou bang en jy besef jy is net so verganklik. Dan verbeel 'n  mens jou sommer jy kry nie behoorlik asem nie. Jy besef dit kan jou pad ook wees.” 

Maar dit was nie. Want ná ’n onlangse toets kan Reynardt dit van die dakke verkondig: “Ek is vry van covid-19,” sê hy. 

Hoewel hy nog nie heeltemal sy smaak herwin het nie, voel hy nou “sommer heeltemal gesond,” sê Reynardt. “Ek is dankbaar dat ek gesond genoeg was om tydens my afsonderingstyd op ander dinge te fokus. Ek kon my boek klaar skryf, ek het aan nuwe musiek gewerk en sommer aandag gegee aan ander takies wat in die dol gejaag agterbly.

“Ek is dankbaar om hier te wees en oukei te wees – 'n mens besef nie hoe vinnig dit kan verander nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe