Caiden Bouwer vertolk die rol van Ruan in Binnelan
Caiden Bouwer vertolk die rol van Ruan in Binnelanders. Foto: Sean Brand

Vertel ons meer oor jou karakter in Binnelanders.

Ek speel Ruan, wat saam met sy sussie, Vicky (Roxanne Bornman), by hul tannie Elana en oom Steve (Ilne Nienaber en Clint Brink) intrek nadat hul ouers verongeluk het. Ruan is pligsgetrou, maar begin ook maar tekens van tienerwees in sy persoonlikheid wys.

Caiden by Roxanne Bornman, wat die rol van sy TV-s
Caiden by Roxanne Bornman, wat die rol van sy TV-sussie Vicky vertolk. Foto: Binnelanders

Is dit jou eerste TV-rol?

Dit is, ja. Aan die begin was dit nogal vreemd, maar nou is dit beter. Ek dink steeds ek kan verbeter. Die eerste dag op die stel was opwindend, maar ek het so ’n bietjie uit my gemaksone gevoel. Ek het gelukkig vinnig aangepas. Die ander akteurs wou net heeltyd weet of dit vir ons lekker was en seker maak ons is gemaklik.

Wat geniet jy die meeste op die stel?

Ek geniet my TV-ma, Ilne, se grappies. Ons lag lekker op die stel. Die Binnelanders-mense is regtig baie cool.

Ruan en Vicky kom woon by hul tannie, Elana (Ilne
Ruan en Vicky kom woon by hul tannie, Elana (Ilne Nienaber) na hul ouers verongeluk het. Foto: Binnelanders

Jy is ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Fairland in Randburg. Wat geniet jy die meeste van skool?

Pouses! Maar as ek ’n vak moet kies: natuurwetenskap. My skoolvriende weet ek’s in Binnelanders. Hulle dink dis cool. Behalwe die tyd wat ek in die ateljee deurbring, is my lewe nie veel anders nie. Ek het wel meer sakgeld, wat lekker is.

Die heel eerste keer het my familie ge-cheer en baie mense het my ná die eerste episode gebel om my geluk te wens. My maats het gejuig toe ek die volgende dag by die skool instap. Nou is almal darem gewoond daaraan.

Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?

Ek speel die elektriese kitaar. Dis my passie.

Hoe lyk ’n tipiese dag op die stel?

Ek kom so twee uur voor ons skiet daar aan, dan gaan trek ek my kostuum aan en gaan vir hare en grimering. Ek gesels altyd vreeslik lekker met die vroue daar. Daarna gaan sit ek in die groen kamer, gesels met die ander akteurs, gaan deur my woorde, repeteer ’n toneel of speel op my foon.

Sodra ons op die stel is, gee die regisseur leiding, dan oefen ons dit een keer en dan kom die kameraspan in. Ons doen een oefenlopie voor die kameras sodat ons kan sien of alles goed werk en doen altyd minstens twee volle opnames. Daarna maak ons foute reg. Ek het gewoonlik een of twee tonele, maar het al ses op een dag gedoen.

Wat is jou toekomsplanne?

In die hoërskool sal ek graag ’n deeltydse werk wil kry by ’n musiekwinkel of by my musiekskool, die Johannesburg School of Music in Fairland, sodat ek ander kinders kan leer kitaar speel. Ná skool sal ek graag ingenieurswese wil studeer.

Wat is jou raad aan tieners wat in die TV-bedryf wil werk?

Kry ’n agent en onthou dat jy vir baie oudisies sal gaan om eindelik ’n rol te kry. Hou aan probeer.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe