Maar dié keer hou die hospitaaldrama die akteur Reynardt Hugo, nes sy karakter in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders, in die regte lewe ook ietwat besig. 

Reynardt sou Dinsdagoggend ’n tweede liesbreuk-operasie ondergaan, maar is intussen ingelig dat sy operasie uitgestel moes word weens die drastiese toename in covid-19-pasiënte.

View this post on Instagram

A post shared by Reynardt Hugo (@reynardthugo)

“Dis hectic. Dis regtig verskriklik,” sê Reynardt aan Huisgenoot oor die tweede vlaag van die coronavirussiekte wat nou opnuut amok saai.

“Ek is baie waaksaam. Ons saniteer heeltyd ons hande, maak seker dat ons nie aan ons neus of gesig vat nie en probeer om nie baie in openbare plekke uit te gaan nie,” verduidelik Reynardt hoe hy en sy verloofde, An-Maré Roothman, probeer veilig bly tydens die coronakrisis.

Reynardt is deeglik bewus van die gevaar, aangesien dié virus hom self ook in Junie 2020 platgetrek het. Hy het gelukkig herstel, maar neem die virus geensins ligtelik op nie.

“Ek het vanoggend gelees van twee susters wat ses dae uitmekaar gesterf het. Dit is baie ernstiger as wat mense dink,” sê hy.

Reynardt wil nog nie ’n nuwe datum vir sy liesbreuk-operasie skeduleer nie, “want jy weet nie wat vorentoe gaan gebeur nie.” Hy sal vir sowat drie weke afgeboek wees, wat ook sy verfilmingskedule op Binnelanders kan belemmer.

“Ek het ’n geleentheid gesien om die operasie aan die begin van die jaar te laat doen, want laasjaar was ’n crazy jaar,” vertel Reynardt.

“My troue is gekanselleer, die wittebrood is uitgestel, ek en Leah sou ’n blyspel gedoen het wat ook uitgestel is, en toe kry ek nog covid ook,” verduidelik hy.

’n Liesbreuk pla Reynardt al sedert sy universiteitsdae by die Universiteit van Pretoria, en hy het in Junie 2019 eindelik ’n operasie ondergaan om dit te herstel. Ongelukkig het dit hom later weer begin pla, en is ’n tweede operasie nodig om dit te herstel. 

Ondanks die voortslepende pandemie en die feit dat hy sy operasie moes uitstel, is Reynardt opgewonde oor 2021.

Hy meld op 11 Januarie weer aan vir verfilming op die Binnelanders-stel, en stel boonop 15 Februarie sy eerste boek bekend.

“Dit is my memoires wat my hele journey vertel; alles wat ek deurgemaak het, my studies, Binnelanders, ADAM – tot waar ek nou is,” verduidelik Reynardt.

“Ek dink dit is ’n boek wat baie inspirerend gaan wees,” voeg hy by.

En is daar al ’n nuwe troudatum?

“Daar is definitief beplanning wat plaasvind, maar nog nie ’n troudatum nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe