“Verrassing! Op 1 Januarie 2021 het ek en Bonga ’n groot stap in ons liefdesverhaal geneem," het Lindsey op Instagram geskryf. "Ons het 'n gelofte voor God en 'n klein groepie hegte familie en vriende geneem deur te trou. 2020 was so broos en so baie het hul lewens verloor; dit was net 'n herinnering dat môre nie verseker is nie en ons kon nie langer wag om mekaar man en vrou te noem nie.”

Die paartjie sou aanvanklik op 1 Februarie in Kaapstad afhaak, maar weens die inperking was dit nie moontlik nie en het hulle by Lindsey se ouerhuis in Atlantis in die Wes-Kaap getrou. 

Lindsey en Siabonga was op Nuwejaarsdag omring deur hul naaste familie en vriende toe hulle in Lindsey se ouers, Samantha en André, se tuin trou aan mekaar beloof het.

“Om eerlik te wees het my familie alles georganiseer," vertel Lindsey aan Huisgenoot. “Vir ons was dit net ons wil iets kleins hou, want ons spaar nou vir ons groot troue. My familie . . . hulle is ongelooflik! Hulle het toutjies getrek om die dag spesiaal te maak vir ons. Ek moes net seker maak ek het mooi gelyk.” 

View this post on Instagram

A post shared by Lindsey Abrahams (@lindsey_lady_rose)

Dis die beste ding ooit om Siyabonga eindelik haar man te noem, vertel Lindsey. Siyabonga is ’n produk-ingenieur wat apps en webtuistes ontwerp. “Ek kan nie ophou sê 'my man' nie,” lag sy. 

Al was die dag nie wat sy vir haarself as dogtertjie voorgestel het nie, was dit steeds baie spesiaal. 

“Ek weet nie eens waar om te begin nie. Ek was geroer deur hoe my familie toutjies getrek het om die dag vir ons perfek te maak, want ons het regtig in die ingewing van die oomblik besluit ons gaan trou omdat ons nie meer langer wou wag nie,” vertel die aktrise. 

TROU IN DIE GEHEIM

En hoe het hulle dit reggekry om hul troue so lank geheim te hou? 

“Dit was regtig net ’n geval van ons wil nie ’n groot ding hê nie, want ons gaan ’n groot troue later die jaar hê. Gelukkig was die familie wat daar was baie respekvol toe ons vir hulle ná die tyd vra om nie foto’s te deel nie, en hulle het ons wense gerespekteer,” sê Lindsey, wat eers Maandag aangekondig het dat hulle nou getroud is.  

Hul oorspronklike troudatum, 1 Februarie, was ook baie spesiaal vir hulle, want dis die dag wat haar ouers en grootouers hul huweliksherdenking vier. “Ek wou dit voortsit, maar dit was nie moontlik nie.”

“Ons het nog nie op ’n alternatiewe datum besluit nie, maar hoop dit kan in Julie of Augustus wees. Ek is te veel van ’n prinses om nie my groot dag te hê nie, so dit sal definitief gebeur,” borrel sy. 

TERUG OP DIE STEL 

Dinsdag was haar eerste dag terug op die Binnelanders-stel by Stark Studios in Johannesburg. Dis op die einste stel waar hulle in Julie verlede jaar verloof geraak het. 

Binnelanders het eintlik ’n week gelede begin, maar my man het ’n groot infeksie gehad en was baie siek die eerste week ná ons troue,” sê Lindsey.

Lindsey is self boonop positief getoets vir covid-19 en moes in isolasie wees. “Ons het ná ons troue Johannesburg toe gekom, en ek het dit hier gekry. Dit was baie vreemd dat my man nie covid-19 gekry het nie,” sê sy.  

Daar is vir eers geen sprake van ’n wittebrood nie.

“Ons gaan wittebrood hou ná die groot troue. Hierdie was net omdat ons nie langer kon wag om te trou nie,” sê sy opgewonde.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe