Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Melinda (27), wat die rol van Tracey in dié hospitaaldramareeks vertolk, en haar verloofde, die musikant en akteur Francois Viljoen (32), moes weens die inperking hul troue uitstel. Dit sou reeds in Mei gehou word. Hulle gaan nou eindelik ses maande later, op Vrydag 20 November, voor die kansel staan.

Melinda saam met haar medester Hykie Berg (dr, Con
Melinda saam met haar medester Hykie Berg (dr. Conrad Bester) in ’n toneel uit Binnelanders. Foto: Verskaf

Melinda en Francois is al sewe jaar 'n paartjie en het in November 2019 verloof geraak. 

“Ons het mekaar ontmoet toe ons albei drama studeer het aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria. Ek was in my eerste jaar en hy in sy derde. Maar ons het eers ’n jaar later begin uitgaan nadat hy my voete onder my uitgeslaan het met sy stem in ’n toneelstuk met die titel Mamma ek wil ’n man hê, vertel Melinda twee dae voor hul troue aan Huisgenoot

Sy beskryf haar toekomstige eggenoot as “my beste vriend en die mens met wie ek die vryheid het om te droom”. 

“Ons het in November 2019 by die Kimiad-gholfbaan in Pretoria verloof geraak, tussen al die diere en plante terwyl ons piekniek gehou het. Hy ken my so goed, ek het glad nie verwag dit gaan gebeur nie.” 

Melinda het voorheen in Pretoria gewoon, maar het in Februarie na Fontainebleau in Randburg getrek om nader aan die werk te wees. Sy het  twee oulike honde.

“Kallie is ’n spanjoel en Phoebe ’n labrador-kruising. Kallie is al vier jaar ons oogappel, en toe het ons in Mei vanjaar besluit om vir hom ’n sussie aan te neem. Phoebe is die grootste seëning en het ons gesin kom voltooi,” koer sy oor haar viervoetiges. 

Al was daar 'n bietjie hartseer oor haar troue uitgestel moes word, besef sy nou dit was dalk nie so erg nie, vertel Melinda. 

“Ek kan nou met volle oortuiging sê dat dit die beste ding was wat kon gebeur het. Wat ek uit ’n troue en huwelik wil hê, het so verander. Ons het nadat ons die troue moes uitstel, weggekyk van ons idee van ’n troue en ons fokus op God se ongelooflike ontwerp vir die huwelik gestel.”

Die troue gaan ’n intieme geleentheid wees wat Melinda en Francois met hul ma’s se hulp binne drie weke gereël het. 

“As die einddoel verander, verander letterlik alles, op die mooiste manier. Ons kleurskema, die musiek, die plante, kos en atmosfeer is alles aangepas om ’n weerspieëling van ons te wees.”

Tot dusver was dit maar ’n emosionele week vir haar, laat Melinda hoor. 

“Ná sewe jaar saam met Francois en saam die draaie van die lewe loop en groei tot die beste weergawes van onsself wat ons vir mekaar kan wees, is ek oorweldig deur Jesus se tydsberekening wat altyd soveel beter as ons s’n is.”

Sy sien met groot afwagting uit na die klein details van haar troue. 

“Ek en Francois het besluit om ons eie troubeloftes te skryf, so ek is opgewonde daarvoor. En ook na my pa se toespraak. Ek is ’n ‘daddy’s girl’ en ek kan nie wag om te hoor wat hy gaan sê nie.”