“Omtrent ’n maand of twee gelede het ek die grootste veluitslag van my lewe gehad. Ek oordryf nie.

“Ek was regtig ongelukkig, onseker en selfs depressief. Nie omdat ek vlekke gehad het nie; dit was omdat my vel heeltemal ongesond was.

“My gesig het sedertdien baie verbeter, dis gesonder, maar nog nie heeltemal vlekvry nie.

“Ek het egter geleer om lief te wees vir my vel. Dis nog steeds gevlek, maar ek is nie meer onseker daaroor nie, want ek weet die vlekke is natuurlik. Wanneer dit ongesond is, is wanneer daar ’n probleem is. So dis hoe ek my vlekke aanvaar,” het die Atlantis-boorling op Instagram geskryf. 

Lindsey (26), wat die rol van Chanel Samuels in die kykNET-sepie vertolk, vertel aan Huisgenoot dat sy verlede jaar glad nie gelukkig was met haar vel nie, veral omdat die aknee waarmee sy van hoërskool af gesukkel het, effens erger geraak het.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Ek wou graag gemakliker in my vel voel aangesien my gesig ’n groot deel van my werk is. Ek het toe op spesifieke medikasie gegaan om dit beter te maak. Die medikasie het my vel mooi skoon gemaak, maar my gesondheid het daaronder gely.

“Ek het so siek geraak dat ek die medikasie moes los. En toe, omdat ek nie die siklus voltooi het nie, het my aknee 10 keer so erg teruggekom. Dit was verskriklik groot en vol vog,” vertel sy.

Toe haar vel hierdie keer uitbreek, het sy dokter toe gegaan en dié het die uitbraak aan stres en hormonale verandering toegeskryf.

Lindsey sê dit het haar ook emosioneel hard getref. 

“Ek was verskriklik, verskriklik depressief. Ek was glad nie gaaf met myself nie. Die mense rondom my – soos my kêrel – moes my baie moed inpraat, maar selfs dan was ek baie negatief.

“Ek moes ook nog by Binnelanders skiet, maar die grimeerafdeling het begrip gehad en my baie mooi behandel. Hulle het hard probeer om die regte grimering vir my te kry en te sorg dat dit wat hulle gebruik nie die aknee vererger nie,” vertel sy.

Lindsey vertel die aknee het selfs deur haar grime
Lindsey vertel die aknee het selfs deur haar grimering op stel gewys. Foto: Verskaf

Sedertdien het sy baie leefstylveranderings gemaak en ook haar velsorgroetine aangepas.

“Voorheen het ek nie veel omgegee oor sulke goed nie. Ek verstaan nou baie beter die gevolge daarvan. Ek het nou soggens en saans ’n roetine waar ek my gesig was en bevogtiger aansmeer.

“Soms as ek te moeg was, het ek met grimering gaan slaap, maar nou waag ek dit nie eens meer om ’n middagslapie te neem met grimering aan nie.”

Sy het ook haar dieet baie verander.

“Ek probeer nou baie meer plantgebaseerd eet. Ek eet nog hoender en vis, maar ek bly ver weg van vleis. Ek voel nou ook baie beter en asof my vel nie meer kwaad is vir my nie.”

“Ek was ’n groot fan van koffie en het daagliks omtrent 4 tot 6 koppies gedrink. Ek moes dit prysgee, en ek is so bly ek het. En dan natuurlik, iets wat mense nie van hou om te hoor nie – drink baie baie water en groentee.

“Dit verrig wondere,” voeg sy by.

Die grootste les wat sy geleer het, is om lief te wees vir haarself, vertel Lindsey.

“Om te besef dat ek nie alles altyd kan beheer nie, maar om steeds aan te hou leef wanneer sekere ongemaklike prosesse gebeur. Ek het ook geleer om meer mindful te wees oor alles, al lyk dit nie relevant nie.

“Wees mindful oor jou eie sorg. Kyk na jouself en moenie sleg voel om mindful te wees nie. Mense mag sê jy gee te veel aandag aan jouself, maar op die ou einde van die dag, gaan hulle nie daar wees wanneer jou gesondheid in duie stort nie.

“Doen dus wat jy moet doen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe