Nou het die akteur Ramey Short sommer nog iets begin wat talle vroue se knieë lam sal maak. Hy sing!

“Ek is mal daaroor om my karakter te speel. Ek sal verkies om musiek én toneelspel te kan doen,” vertel Ramey aan Huisgenoot.

Ramey wou van kleins af al ’n sanger word, maar dit was nie ’n maklike pad tot waar hy nou etlike weke weg is daarvan om sy debuutalbum uit te reik nie. 

“Baie mense het vir my gelag wanneer ons karaoke sing, en baie mense in die wêreld van toneelspel het vir my gesê ek moet dit nooit aanpak nie.”

Mense sou ook dikwels vir hom sê: “Ramey, nooit! Moet dit nooit doen nie. Moet nooit sing nie.” En dit het “gestick” gee hy toe.

Hy bieg hy het aanvanklik miskien nie die heel beste vaardighede gehad om goed te sing nie, maar die kommentaar het steeds ’n ernstige knou aan sy selfbeeld gegee.

“Ek het einde 2014 Kaapstad toe getrek en kon toe fokus op myself en dit wat my gelukkig maak. Ek het toe besluit om sangklasse te neem. Ek het hard begin werk aan my sang en geoefen en só my selfvertroue opgebou.”

Sowat twee jaar later het Binnelanders hom gevra of hy wil terugkom, en hy het weer Johannesburg toe getrek. Maar die droom om te sing het sedertdien ál meer na ’n werklikheid begin lyk.

Ramey werk al drie jaar lank aan die liedjies en is tans besig om ’n album op te neem. Vir baie liedjies moet hy nog net sy stem laat opneem aangesien hy reeds hard saam met drie verskillende vervaardigers gewerk het om die musiek te kry soos wat hy dit wil hê.

“Ek wou alles perfek hê omdat dit my eerste album is en dit werklik ’n liefdesprojek is,” vertel Ramey.

“Ek glo my musiek moet eerlik en opreg wees. Elke liedjie moet ’n boodskap hê,” sê Ramey. Dit is volgens hom die rede hoekom soveel van dr. Quinton se aanhangers ook na sy musiek sal luister.

Ramey was die afgelope 10 jaar, met kort onderbrekings, as dié dokter in die Binneland-kliniek te sien.

En oor die Dokter-liedjie wat ook op dié album gaan verskyn?

“Dit is ’n manier om die musiekmark vinniger te betree,” lag Ramey. “Ek het gedink omdat mense my herken as my karakter op Binnelanders sal daar ’n groot deel van dié aanhangers my ondersteun as die Dokter-liedjie uitkom.”