Germandt Geldenhuys
Germandt sê dis vir hom belangrik om aanhangers teen die gevare van ’n slenter te beskerm. Foto: Facebook/Germandt Geldenhuys

Die akteur en sanger Germandt Geldenhuys sê hy moes oor die naweek bontstaan om vure dood te slaan nadat dit onder sy aandag gebring is dat hy nou ook die slagoffer van ’n aanlyn slenter is.

Germandt sê hy het Saterdag van dié slenter bewus geword. 

’n Vals Facebook-profiel word glo gebruik om sy aanhangers aan te hits om vir sogenaamde kompetisies in te skryf waarmee hulle onder meer kontantpryse kan wen. Daar word glo van dié wat inskryf, verwag om hul bankbesonderhede te deel.

Germandt Geldenhuys
Germandt het aanhangers teen die vals Facebook-profiel gewaarsku en was genoop om die slenter by Facebook aan te meld. Foto: Facebook/Germandt Geldenhuys

“Ek het eers gedink my Facebook-profiel het dalk deurgeloop onder kuberkrakers,” vertel die akteur Dinsdag aan Huisgenoot.

“Dis eers by nadere ondersoek dat ek besef het iemand het my Facebook-profiel op ’n manier gedupliseer en gebruik dit nou om onskuldige mense om die bos te lei,” vertel die akteur, wat veral bekend is vir sy rol as Louis Koster in die kykNET-sepie Binnelanders.

Die swendelaar wat die vals profiel bedryf, het aanhangers van Germandt in die kommentaarveld laat weet dat hulle glo pryse gewen het en met hom moet kontak maak. Dís wanneer daar vir hul bankbesonderhede gevra is, vertel hy.

“Ek het aanvanklik gehoop mense sou gou-gou daardeur sien en nie naïef wees nie, maar die boodskappe van mense wat daarvoor geval het, het gou begin instroom. Meer as 10 mense het my laat weet hulle het ingeskryf en dat hulle wel hul privaa tbesonderhede gedeel het,” sê Germandt.

Germandt Geldenhuys
’n Skermgreep van een van die kommentare wat ’n swendelaar gebruik om aanhangers van Germandt te lok om vir die sogenaamde kompetisie in te skryf. Foto: Facebook/Germandt Geldenhuys

Nadat die profiel steeds nie verwyder is nie ondanks verskeie pogings om dit te rapporteer, het dit hom genoop om aanhangers in die sosiale media daarteen te waarsku.

Weet net: as jy so iets aanlyn teëkom en jou bankbesonderhede word aangevra, wees seker dis ’n slenter.


“Ek het besef dis erger en ernstiger as wat ek aanvanklik besef het,” vertel Germandt. “Dit het my eintlik so ontsteld gemaak. Jy het geen beheer oor hierdie goed nie, maar tog word jou naam daaraan gekoppel. Boonop is dit ’n enorme frustrasie om hierdie slenters te rapporteer en van sosiale media verwyder te kry.”

Die vals profiel was teen Dinsdagoggend steeds aktief op Facebook.

Germandt Geldenhuys
Die akteur en sanger Germandt Geldenhuys is nou die jongste slagoffer van ’n aanlyn slenter. Foto: Facebook/Germandt Geldenhuys

In een boodskap skryf die swendelaar: “Dankie vir die deel van my boodskap. Hierdie maand kies ek lukraak 50 wenners vir my geleentheid. U sal ’n beloning van my borge ontvang. Besoek my profielblad vir meer besonderhede.” 

Hy ervaar ’n soort hulpeloosheid daaroor, sê Germandt. Hy is boonop nie die enigste bekende wat geteiken is nie – kunstenaars soos Schalk Bezuidenhout en Radio Raps het dieselfde bloutjie geloop. Verlede jaar het Damian Engelbrecht, van Boer soek ’n Vrou-faam, ook deurgeloop.

“Dis eintlik verskriklik jammer hoe maklik dit is om jou inligting te steel en iemand om die bos te lei. Ek wens ek kan almal wat daarvoor geval het persoonlik kontak en verskoning vra. Ek is regtig verskriklik jammer dat so iets gebeur het. Weet net: As jy so iets aanlyn teëkom en jou bankbesonderhede word aangevra, wees seker dis ’n slenter.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe