REUSE-WERKVERANTWOORDELIKHEID 

Of dit nou ’n padongeluk, aanranding of siektetoestand is, sy karakter in die kyk­NET-sepie Binne­landers, Danny Jantjies, word elke dag deur nuwe uitdagings in die gesig gestaar om mense in nood te help. 

Dié rol het Bradley Olivier (32) laat besef om ’n noodwerker te wees is geen gewone werk nie. 

“Ek het nooit besef waardeur ’n paramedikus daagliks gaan nie,” erken hy.

Hoewel hy nie so waaghalsig soos sy karakter is nie, “deel ons ’n humorsin en is ons albei omgeemense”.

Kykers gaan binnekort sien hoe Danny se lewe soos handomkeer verander, verklap Bradley. 

“Sy hart is maar klein en dit is nie altyd maklik om aan te pas by ’n omgewing wat heeltyd verander nie.”

bradley olivier,binnelanders,akteur
Bradley en sy Binnelanders-vriende (van links) Reynardt Hugo, Lindsey Abrahams en Clint Brink. Foto: Instagram/@bradleyolivier

TROTSE PAARLIET 

Bradley is op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Toe hy drie jaar oud was, het sy ouers, Martin en Susan Gouws, na die Paarl verhuis. 

Daar het Bradley grootgeword saam met sy broer, Armin (26), wat in logistiek werk, en suster, Sheena-Kay (24), wat in die gasvryheidsbedryf is. 

“My kinderjare was ’n mengelmoes van swaar en goeie jare,” vertel hy. 

Sy ma was voltyds huisvrou en sy pa ’n tronkbewaarder. 

Uitdagende omstandighede het hom egter nooit gekeer om ’n “goeie en gelukkige kind” te wees nie.

Hy is die enigste professionele akteur in sy familie, maar sy pa en sy oom Elbie Olivier is ook lief vir toneel. 

“My pa het in sy tienerjare ’n dramagroep in die Noord-Kaap gestig, maar nie hy of my oom het die geleentheid gehad om hul talente verder te ontwikkel nie.”

Sy pa is vroeër vanjaar in die ouderdom van 55 weens diabetes oorlede. 

“Hy het my alles geleer wat ek weet oor wat dit verg om ’n ordentlike mens te probeer wees,” het Bradley ná sy pa se afsterwe op Instagram geskryf. 

Bradley erken hy was ’n “stout kind”. 

“Maar deesdae is ek rustiger; ek neem my verantwoordelikhede as ’n pa baie ernstig op.”

Sy dogtertjie, Kiara (2), is sy “hart se alles”.

Dié enkelloper woon sedert 2008 in Johannesburg, maar gaan kuier so drie keer per jaar by sy gesin in die Paarl. 

“Ek mis die Paarl se gatsby en vis en tjips.” Hy terg dat as hy die Lotto sou wen hy die geld sou gebruik om die Paarl se lekker gatsby na Johannesburg in te voer. 

bradley olivier,binnelanders,akteur
Bradley en sy oulike dogtertjie, ­Kiara, wat hy as sy “hart se alles” beskryf. Foto: Instagram/@bradleyolivier

SY DRAMAPAD

Bradley was vyf jaar oud toe die toneelgogga byt. 

Hy het Enter the Dragon gekyk en was versot op dié 1973-aksiefliek met die ontslape Oosterse gevegkunstenaar Bruce Lee in die hoofrol. 

“Ek het toe al geweet dis die beroep vir my, al het ek nie in daardie stadium besef wat dit verg om ’n akteur te wees nie.” 

In sy dramaklas aan die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl het sy liefde vir toneelspel geblom. 

Hy het in 2007 sy dramastudie aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie in Pretoria voltooi. 

In dieselfde jaar het hy sy televisiedebuut gemaak as JJ in die kykNET-sepie Villa Rosa. 

In 2016 het hy die eerste keer in Binnelanders verskyn en vanjaar as permanente karakter by die sepie se rolverdeling aangesluit. 

Bradley spog boonop met ’n rits fliekrolle agter sy naam, onder meer in Ballade vir ’n Enkeling, Vaselinetjie, Nul Is Nie Niks Nie en Die Ontwaking. 

Hy was ook te sien as Cyril in kykNET se Vlug na Egipte.

Hy en sy vriend, die akteur Solomon Cupido, het in 2007 hul eie produksiemaatskappy, Wie’t Jou Ma?, begin. 

Hul vertolking van Dakskroef en Spyskriek is so gewild, hulle beplan nou om ’n film oor dié skreeusnaakse verhoogkarakters te vervaardig. 

Vir ontspanning geniet Bradley tyd saam met geliefdes. 

“Ek probeer baie tyd saam met my dogtertjie deurbring en hou van ’n lekker braai saam met vriende.”

Kitsfeite oor Bradley

As jy ’n dag saam met enigiemand in die wêreld kan deurbring, wie sal dit wees?

Die filmmaker Martin Scorsese. Ek sal die tyd gebruik om hom alles oor rolprent­vervaardiging te vra. 

Watter ster het jou al in ’n waas gelaat? 

Ek het in die Die Ontwaking teenoor wyle Paul Eilers gespeel en was so senuagtig, hy moes my kalmeer.

Ek het ook op ’n keer my sinne verloor toe ek die Brasi­liaanse sokkerspeler Hulk (Givanildo Vieira de Sousa) op die lughawe gewaar het.

My geheime plesiertjie is . . .

romantiese komedies.

My geheime talent is . . .

Ek kan nogal teken. Ek kry nie altyd tyd daarvoor nie, maar ek geniet dit. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.