As akteur moes hy in sy karakter se vel klim en hom voor die kameras in die drama van ’n sepie uitleef, maar dit was agter die skerms waar die grootste drama eintlik ontvou het.

En hier was die worsteling allermins toneelspel – dit was werklik en rou. Toe die Binnelanders-akteur Pietie Beyers (30) se karakter, dr. Deon Visser, verlede jaar die laaste keer in dié sepie verskyn, was dr. Deon op pad na ’n verre land om daar te praktiseer.

Nou is hy terug in Binnelanders, maar dié keer word die karakter deur Kongolese rebelle as gyselaar aangehou.

Sy baard is lank en wild en hy moet daagliks in gevangenskap ontberings oorkom. Was dit nie vir sy eie stryd van die afgelope jaar nie, sou Pietie dié rol dalk nie met soveel oortuiging kon vertolk nie.

Die swaarkry wat hy eerstehands moes beleef, het hom help voorberei op die tonele wat kom, vertel die jong akteur.

Maar anders as sy karakter was Pietie nie die gyselaar van iemand anders nie – hy was ’n gevangene van sy eie gedagtes.

Nadat hy die sepie verlaat het, is obsessief-kompulsiewe steuring verlede jaar by hom gediagnoseer.

Dit is ’n psigiatriese steuring wat kan veroorsaak dat mense wat daaraan ly herhalende gedagtes het en herhalende gedrag toon.

Dit kan manifesteer in obsessiewe gedagtes of gedrag en kan onbeheersde skuldgevoelens en angs veroorsaak.

Pietie se reis na dié donker plek het gevolg nadat hy aan die einde van 2016 gehoor het sy kontrak met die sepie word nie hernu nie én hepatitis A, ’n virusinfeksie van die lewer, by hom gediagnoseer is.

As dr. Deon Visser in die kykNET-sepie Binnelanders. Hier word hy deur Kongolese rebelle as ­gyselaar aangehou.

Hy was weke lank siek en die pad na herstel het, ná die aftakeling van sy lewer en liggaam, lank geneem.

Nadat hy die sepie se stel in April verlede jaar verlaat het, het hy boonop lank nie werk gehad nie.

Hy was gereeld bedags alleen tuis in die woonstel wat hy en sy meisie van die afgelope drie jaar, die dokter Anneke Weidemann (26), in Bedfordview in Johannesburg deel.

“Wanneer Anneke bedags gewerk het, het ek soos ’n kluisenaar in die woonstel gesit en my kop het met my weggehardloop. Ek het alles geooranaliseer en paranoïese gedagtes begin ontwikkel,” sê Pietie.

“Ek het letterlik oor alles skuldig gevoel en kon nie uitpluis hoekom ek so voel nie. Ek het toe in my kop my lewe in oënskou geneem om te kyk of ek nie iewers iets ergs gedoen het nie,” sê hy.

Sekerlik, het hy beangs gedink, moes daar ’n rede vir sy skuldgevoelens wees? Die blik in sy donkerbruin oë is ernstig toe hy verduidelik hoe angswekkend dit kan raak om met onbeheersde gedagtes te worstel.

“Dit was asof ek ’n hofsaak in my kop begin het, maar vooraf besluit het ek is skuldig. Ek was in ’n eksistensiële onwerklikheid vasgevang waaruit ek nie kon kom nie.”

Met tye het hy gevoel hy gaan “mal word” van die malende skuldgevoelens, erken hy.

“Ek was permanent paniekbevange. Dit het soms so intens geraak dat dit gevoel het ek gaan flou word.”

Hy sou badkamer toe gaan, en daar gekom, vergeet wat hy moes doen.

Of op pad winkel toe skielik vreesbevange begin wonder of hy nie dalk voorheen die kassier te na gekom het nie.

Iewers in sy verlede moes hy iets vreesliks aangevang het, het hy bly dink – hy kon net nie uitwerk wat dit hoegenaamd kon wees nie.

“Ek het gevoel ek is skuldig aan skuld. Alles wat gebeur, moes my skuld wees.”

Die rede vir sy gevoelens het nie in sy verlede gelê nie, het hy eers later besef – dis deur ’n psigiatriese steuring veroorsaak.

Ná weke van die stryd in sy binneste het hy ’n psigiater gaan spreek en obsessief-kompulsiewe steuring is by hom gediagnoseer. Vir die eerste keer het hy ’n naam vir sy onverklaarbare vrees gehad.

Hy het medikasie begin neem en tegnieke begin toepas om hom met die uitdagings van sy steuring te help, en vandag, ná maande, is dit onder beheer.

Wanneer hy nou terugdink, besef hy die eerste tekens was reeds daar toe hy die laaste tonele van sy karakter se vorige verskyning in Binnelanders verfilm het.

“Ek was paranoïes en wou alles perfek doen om te bewys ek hoort daar, dat ek my plek verdien.” Maar hy blameer niemand anders vir die donker dae wat gevolg het nie; “dit was en is my eie stryd”.

Hy glo tog dit het hom sterker gemaak – as akteur én mens. “My karakter het emosioneel, sielkundig en fisiek tawwer geword – nes ek. En dít was nodig.”

Pietie is die aanbieder van die speletjiesprogram Blitsbrein op VIA.

Pietie is deesdae ook die aanbieder van die vasvra-program Blitsbrein op VIA, kanaal 147 op DStv, en hy geniet die energieke, opwindende pas van dié speletjiesprogram.

Die tweede reeks begin in September op VIA. Hy studeer deeltyds sielkunde aan die St. Augustine-kollege in Johannesburg, neem Zoeloe-lesse en is gesteld op ’n gesonde leefstyl en oefenprogram.

Hy is veral opgewonde oor die draaiboek wat hy vir sy beplande fliek, Skemerson, geskryf het. Hy en Anneke gaan die hoofrolle in dié fliek vertolk, en dit sal hopelik later vanjaar verfilm word.

Anneke is benewens haar werk as dokter ook ’n ervare aktrise en was al te sien in flieks soos Die Wonderwerker en Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom.

Pietie se nuwe fliek vertel die verhaal van iemand wat aan dieselfde steuring as hy ly en hy sê “dit is geskryf vir mense wat sukkel met uitdagings wat onder die oppervlak skuil”.

Die onderliggende boodskap? “Wanneer ’n mens deur ’n moeilike tyd gaan, is daar altyd hoop,” sê hy.

Dit is vir hom belangrik om openlik oor sy toestand te praat.

“Daar is ’n stigma om geestesgesondheid wat my pla. Baie mense glo as jy daaroor praat, dui dit op swakheid. Maar ek voel ons lewe in ’n era waar eerlikheid en dapperheid oor so iets belangrik is.”

Dit is nie nodig om skaam te wees as jy met iets sukkel nie, glo hy. “Ons is almal ewe weird en ewe dieselfde. Ons moenie bang wees om eerlik te wees daaroor nie.” Hy glo ook ’n mens moet hulp soek wanneer jy dit benodig.

“Jy kan jou nie uit ’n geestestoestand dink nie. Jy moet die gedagtestroom stopsit sodra dit begin. Om dit reg te kry, het jy hulp nodig.”

Die steun van sy geliefdes was vir hom belangrik tydens sy swaarkry. “My naastes het my op ’n positiewe plek gehou en my opgelig.” Hy is veral dankbaar teenoor Anneke, wat sy daaglikse laagtepunte beleef het.

Hy en Anneke Weidemann, van Die Wonderwerker-faam, is al byna drie jaar ’n paartjie.

“Sy was sag toe sy sag moes wees; ferm toe sy ferm moes wees. Sy is ’n sagmoedige en ondersteunende mens en het deur alles by my gestaan.”

Die twee was saam op laer- en hoërskool aan Jan van Riebeeck in Kaapstad, maar het mekaar eers in hul twintigerjare beter leer ken en toe ’n paartjie geword. Wanneer hulle saam aan Skemerson begin skiet, sal dit die eerste keer wees dat hulle saam voor die kameras verskyn.

“My droom was om ’n moderne liefdesverhaal te skryf wat op die werklikheid van geestesgesondheid gegrond is,” vertel Pietie.

“Daar is vir my iets egs aan ’n storie met karakters wat nie perfek voorkom nie.”

En hoewel sy eie stryd met ’n laagtepunt in sy loopbaan begin het, het dit hom gehelp om die dissipline – en empatie met homself – te kweek om kans te sien vir alles wat die toekoms bring.

“Dis goed vir my om gedissiplineerd te wees. Hoe harder ek werk, hoe meer gefokus is ek.” 

Wat is obsessief-kompulsiewe steuring?

Dis ’n psigiatriese steuring wat manifesteer in obsessiewe gedagtes en gedrag, oftewel kompulsies, verduidelik Ruan Spies, ’n kliniese sielkundige van Potchefstroom.

Dit kan angs veroorsaak, maar word nie deur angs veroorsaak nie. Ware obsessies is onbeheerbare, herhalende gedagtes, beelde of impulse wat jou lewe negatief beïnvloed, verduidelik hy.

Die algemeenste obsessie is met simmetrie, wat manifesteer as die drang om jou omgewing simmetries en presies te hou.

Kompulsies is die rituele of gedrag waarmee jy die angs wat weens die obsessies ontstaan, probeer teenwerk. As iemand byvoorbeeld werklik obsessief is oor higiëne, was hy dalk gedurig sy hande.

Maar die verligting wat die kompulsie bring, is tydelik en die siklus herhaal gedurig. Dit kan iemand wat aan dié steuring ly se daaglikse funksionering belemmer – maar met mediese behandeling kan dit bestuur word.

Foto's: Rowyn Lombard, INSTAGRAM/@PIETIEBEYERS, Stark Films Kyknet, Verskaf