Hul troudag sou wees soos die slottoneel in ’n liefdesverhaal waarin die paartjie eers baie struikelblokke op hul pad na mekaar moes oorkom. Hulle het gedroom van ’n groot troue aan die Kaapse Weskus en ’n wittebrood so reg uit ’n sprokie: Amsterdam, Parys, België en Switserland . . .

Maar toe word die troue gekanselleer, en nie omdat die sepiester en sanger Reynardt Hugo of sy donkerkopverloofde, An-Maré Roothman, kleinkoppie getrek het nie. Nee, dit was alles die skuld van ’n ongenooide gas – die coronavirus.

En waar die twee teen dié tyd byna twee maande van die getroude lewe sou kon vier, is hulle nou noodgedwonge steeds ongetroud en moet hulle opnuut droom van die groot dag wat nou eintlik al ’n herinnering moes gewees het.

“Hoe beskryf ’n mens jou emosies?” vra Reynardt (34) en kyk vir Anna (33), soos hy haar liefderik noem. Dan antwoord hy self: “Dit was vir ons ’n groot slag. Maar die hartseer was nie soseer oor die dag nie – dit kan ons altyd skuif. Dis omdat ons ná soveel moeilike tye en soveel uitdagings daarna gesmag het om oplaas man en vrou te wees.”

Op Saterdag 4 April, wat hul troudag sou gewees het, het hulle tot laat hier by hul sonnige huis in Bromhof in Randburg, Johannesburg, in hul slaapklere leeggelê, vertel hulle in ’n video-onderhoud met Huisgenoot. Weens die inperking gebeur die onderhoud in die kuberruim.

Foto: Lubabalo Lesolle
ie inperking is vir hulle g’n kopseer nie: Reynardt en sy “Anna” bring nou meer tyd as ooit vantevore saam deur – en geniet elke oomblik daarvan. Foto: Lubabalo Lesolle

Hulle moes die beplande seremonie en onthaal kort tevore kanselleer nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het groot geleenthede mag nie meer plaasvind nie om die verspreiding van die coronavirus te vertraag.

“Reynardt het deur die dag kort-kort gesê: Nou sou dit gebeur het; nou sou dat gebeur het. Ek het half robotagtig deur die dag probeer druk,” onthou An-Maré.

“Maar toe dit tyd geword het vir my om na die kansel te stap, het ek gesê: Oukei, kom ons trek aan, kam hare, doen ’n bietjie grimering en dan omhels ons die oomblik.”

Binne 20 minute het hulle aangetrek, al was dit nie die trouklere waarin hulle om vieruur die middag voor die kansel by ’n trouplek op Hermanus sou gestaan het nie.

“Ons kon dalk nie man en vrou word nie, maar ons kon mekaar vashou en saam treur oor dit wat ons verloor het, maar ook saam juig dat ons nog mekaar het,” sê Reynardt, wat die rol van dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk en voorheen ’n lid was van die popgroep Adam.

Nou sien hulle éérs uit na die groot dag.

“Ons het ’n tweede kans gekry om oor alles na te dink en om dinge te verander waarvoor ons voorheen nie tyd sou gehad het nie,” vertel hy.

En An-Maré voeg laggend by: “Hy het ’n pak en ek het ’n rok en ons het mekaar. Maar dis omtrent al wat onveranderd gaan bly.”

Ná ’n dekade saam is daar niks meer wat hulle oor mekaar kan leer nie, nie eens tydens die inperking toe hulle heeldag en aldag in mekaar se geselskap was nie, sê die twee.

Foto: Lubabalo Lesolle
Die paartjie se honde geniet nou al die aandag sedert hul mense heeldag en aldag tuis is. Van links is Chaidrie, Chonki en Chewbacca. Foto: Lubabalo Lesolle

Reynardt het intussen weer by die Binnelanders-ateljee ingeval omdat verfilming nou weer mag plaasvind.

“Dis ’n ander wêreld as voorheen,’’ vertel hy. “Almal se koors word gemeet en almal dra maskers. Wanneer jy nie tonele skiet nie, wag jy in jou aantrekkamer. Maar ek is nog net so gelukkig daar soos op dag een.”

Sy hare is kort tevore by die ateljee geknip sodat dr. Tertius Jonker so netjies soos altyd kan lyk. Sy lang baard wat hy tydens die inperking gekweek het, moes ook “noodgedwonge waai”, vertel An-Maré, ’n laerskoolonderwyseres.

Hulle het mekaar die eerste keer in 2009 in Port Elizabeth ontmoet by ’n optrede van Reynardt, maande voor hy die groep Adam help stig het. An-Maré was toe nog in ’n ander verhouding.

Maar teen die tyd dat sy die volgende jaar ’n onderwyspos in Johannesburg aanvaar het, was sy enkellopend. Daar het haar en Reynardt se paaie weer gekruis toe sy toevallig in die woonstel langs syne ingetrek het.

Ek hét te veel gedrink; ek wás ontrou aan die mens wat ek die liefste het.

Al klink dit soos ’n storieboekromanse, was hul liefdespad met dorings besaai. Deur dik en dun het An-Maré hom bygestaan – ook toe hy sewe jaar gelede openlik oor sy drankprobleem gebieg het, oor hoe dit hom byna sy loopbaan en sy gesondheid gekos het.

Later het hy erken dat hy in die newels van die drankwolk meer as een keer aan haar ontrou was. “Dis dinge waarvoor ek myself altyd straf, al is ek lankal nie meer daardie mens nie,” sê hy nou.

“Ek is eerlik oor wat my demone was – oor elkeen van hulle – en ek weet hoeveel dit van Anna gevat het om hier langs my te wees.

“Ek hét te veel gedrink; ek wás ontrou aan die mens wat ek die liefste het. Ek dink gereeld aan ’n vriend se kwetswoorde van verlede jaar dat dit net ’n kwessie van tyd is voor ek weer in daardie vergrype verval. Maar ek gryp nie na daardie dinge nie, selfs nie in moeilike en onsekere tye nie – ek het dit nie nodig nie.”

Om te vergewe was die moeilikste ding wat sy nog moes doen, sê An-Maré. “Dit sou maklik vir ons wees om die verlede aan te hou blameer vir alles wat skeefloop. Om in ’n hopie te sit en myself jammer te kry. Maar God het ons ’n tweede kans gegun – ’n splinternuwe, volle, tweede kans. Wat kies ons? Om vorentoe te beweeg.”

Hoe kan sy dan nié lief wees vir die slimste dokter in die Binnelandkliniek nie?
Foto: Lubabalo Lesolle
Die twee vertel dit was vir hulle ’n groot slag om ’n maand voor die groot dag sou plaasvind hul beplande seremonie en onthaal weens die inperking te kanselleer. Reynardt sê die hartseer was nie soseer oor die dag nie; dit was omdat hulle ná soveel moeilike tye daarna gesmag het om eindelik man en vrou te wees. Die twee is saam deur troebel ­waters – en ontrouheid en drankmisbruik het eens amper hul verhouding laat verbrokkel. Maar nou is Reynardt en An-Maré gelukkiger as ooit ­vantevore. “God het ons ’n tweede kans gegun – ’n splinter­nuwe kans,” sê An-Maré. Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle

Want, vra sy, hoe kan sy dan nié lief wees vir die slimste dokter in die Binnelandkliniek nie? “Daar’s eenvoudig nie ’n debat nie.”

Nadat hulle in Februarie 2019 verloof geraak het, het hulle hul droomtroue begin beplan. Maar minder as ’n maand voor die groot dag het die droom aan skerwe gespat. Op Sondagaand 15 Maart was hulle ná ’n kuier by vriende in die motor op pad huis toe toe pres. Cyril Ramaphosa ’n ramptoestand weens die COVID-19-pandemie in die land afkondig.

“Ek het Anna so gekyk en gesê: ‘Luister, ek dink nie die troue gaan meer kan gebeur nie.’ Ons albei was geskok, maar ons kon duidelik sien wat voorlê,” vertel Reynardt. Die volgende dag moes hulle die 105 gaste laat weet die troue is uitgestel tot verdere kennisgewing.

“Ons het aanvaar ons kan nie nou trou nie,” sê An-Maré. “En dit bly aaklig omdat ons weens die onsekerheid nie ’n volgende mylpaal kan stel nie. Maar dis ’n druppel in die emmer vergeleke met wat sommige mense verloor het en in hierdie onsekere tye moet deurmaak.”

Die inperking het hom tot stilstand gedwing, sê Reynardt, wat ook in sy loopbaan ’n onsekere tyd beleef het nadat sy, Hugo Ludik en Kyle Grant se groep, Adam, verlede jaar ontbind het.

“Ek was besig met soveel dinge – die einde van Adam, die groot besluit om ’n sololoopbaan na te jaag en die gewone werkdinge.” Dit alles het tot introspeksie in die inperking gelei.

“Ek het geleer ek is nogal ongeduldig, dat ek nie hou van wag of stilsit nie. Maar ’n amazing ding het gebeur: Ek kan nou vergoed vir die byna 10 jaar dat ek van haar weg was, vir naweke wat ek op die pad was, vir aande wat ek tot laat gewerk het. Nou het ons net mekaar,” sê hy.

“Dis die eerste keer in jare dat hy ’n Saterdagaand hier by my is,” beaam An-Maré.

“En dis ongelooflik. Ons drink saam koffie; ons sit ure lank sommer net op die bank en gesels. Ons doen dinge wat ons nooit voorheen gedoen het nie. Ons het voëlsaad gaan koop en gooi dit elke dag vir die voëltjies uit. Ek het al 11 spesies getel.”

Hy moes lank oor ’n sololoopbaan wik en weeg, sê Reynardt. Sy eerste enkelsnit, “Die rivier”, is reeds uitgereik.

“Dis die beste besluit wat ek ooit gemaak het. Dis bevrydend. Met Adam het ek baie ervaar en baie geleer. En natuurlik is dit hartseer wanneer dit tot ’n einde kom. Maar nou kan ek nét Reynardt wees, en dit is ’n wonderlike gevoel.”

Terwyl dit nog onseker is oor wat die toekoms inhou – en wanneer hulle wel troubeloftes aan mekaar sal kan maak – leef hulle net vir die oomblik.

“Ons weet nie wanneer die dag sal aanbreek nie. Dalk elope ons vooraf, of dalk het die lewe ander planne met ons,” sê An-Maré. “Solank ons net saam is in daardie planne,” voeg Reynardt by.

“Want dán is alles heeltemal oukei.”