Chadwick Boseman. Foto: IMDB
Chadwick Boseman. Foto: IMDB

Sy familie het die nuus in ’n verklaring in die sosiale media bekend gemaak.

Chadwick (43) het nooit in die openbaar oor sy diagnose gepraat nie en het in die afgelope vier jaar flieks soos Captain America: Civil War, Black Panther, Avengers: Infinity War en Avengers: Endgame voltooi terwyl hy behandeling gekry het vir die kanker. 

Voor sy toetrede tot die Marvel-flieks het die boorling van Anderson in die deelstaat Suid-Carolina in Amerika bekendheid verwerf as die bofbal-legende Jackie Robinson in die fliek 42 in 2013. 

Black Panther was die eerste superheldfliek uit Afrika en die akteur is wyd geloof vir die akkuraatheid waarmee hy sy karakter, T’Challa, se Xhosa-aksent benader het. 

“Dit is met onmeetbare hartseer dat ons die afsterwe van Chadwick Boseman bevestig. Chadwick is in 2016 met fase drie kolonkanker gediagnoseer en het die afgelope vier jaar daarteen gestry soos wat dit na fase vier gevorder het.

"’n Opregte vegter, het Chadwick deurgedruk en vir julle so baie van die flieks waarvoor julle lief is gegee. Van Marshall tot Da 5 Bloods, August Wilson se Ma Rainey’s Black Bottom en vele meer, als verfilm gedurende en tussendeur sy vele operasies en chemoterapie. Dit was sy grootste eer om lewe te gee aan koning T’Challa in Black Panther.”

“Hy het by die huis gesterf, met sy vrou en familie langs hom. Die familie bedank almal vir julle liefde en gebed, en versoek dat julle asseblief hul privaatheid respekteer gedurende hierdie moeilike tyd,” het die familie se verklaring op Chadwick se Twitter-profiel gesê. 

 

Hollywood het die nuus met groot hartseer begroet. 

“Ons harte is gebreek en ons dink aan Chadwick Boseman se familie. Jou nalatenskap sal vir ewig voortleef. Rus in vrede,” het die Marvel-maatskappy in 'n amptelike Twitter verklaring gesê. 

Bob Iger, die uitvoerende hoof van Disney, wat die regte tot die Marvel-karakter besit, het Chadwick geloof vir die mens wat hy was. 

“Hy het enorme krag, waardigheid en diepte gebring na sy baanbreker-rol as Black Panther; hy het mites en stereotipes verbreek en ’n langverwagte superheld geword vir miljoene mense regoor die wêreld en het ons almal geïnspireer om groter te droom en meer as net die status quo te aanvaar. Ons rou vir die mens wie hy was, en ook vir als wat hy bestem was om te word.”

Plaaslike fliekvlooie treur ook oor sy afsterwe. Die bekende kenner Leon van Nierop het op Facebook hulde aan Chadwick gebring. 

“Hy was gesaghebbend, ’n vriendelike, tegemoetkomende akteur van wie sy medespelers net goeie goed gesê het, ’n man wat ’n held soos min ander kon speel.

"Hy kon enige rol laat skitter en dit vul met ’n gemaklike onpretensieuse manlikheid. Black Panther was die tweede grootste geldmaker van 2018 dwarsoor die wêreld,” lui Leon se huldeblyk verder.  

In Junie vanjaar is een van sy laaste flieks, Da 5 Bloods, op Netflix uitgereik. 

So het ander medesterre op Chadwick se afsterwe reageer: 

Bronne: Daily Mail, Variety