Maar dit keer die 36-jarige Scarlett Johansson, wat die titelrol in die Marvel-fliek Black Widow speel, glad nie om Disney hof toe te sleep vir kontrakbreuk nie. 

Marvel word deur Disney besit en Scarlett is boos oor Disney besluit het om die nuwe Black Widow-fliek in teaters en terselfdertyd op hul stroomdiens, Disney+, uit te reik in plaas van net in die teaters in Amerika.

Disney klink egter nie bekommerd nie en sê Scarlett het nie eintlik ’n voet om op te staan nie.

Disney het Donderdag bygevoeg dat die saak "veral hartseer en ontstellend is in sy onvoorwaardelike miskenning van die verskriklike en langdurige wêreldwye gevolge van die covid-19-pandemie.”

View this post on Instagram

A post shared by Black Widow (@black.widow)

Volgens Scarlett se kontrak sou ’n groot deel van haar salaris van die inkomste van teaterkaartjies vir dié fliek kom. Die hofdokumente lui dat Scarlett se ooreenkoms met Marvel was dat Disney die fliek ’n teater-uitreiking sou gee. “En soos almal weet beteken dit dat dit eksklusief in teaters uitgereik word,” lui haar regsgeding.

“Disney was deeglik bewus van hierdie belofte, maar het Marvel nietemin die opdrag gegee om die belofte te verbreek en eerder die fliek op die Disney+-stroomdiens te plaas dieselfde dag toe dit in bioskope uitgereik is.”

Maar Disney het laat weet: “Ons het die kontrak van mev. Johansson volledig nagekom en die vrystelling van Black Widow op Disney+ met Premier Access het haar vermoë om addisionele vergoeding te verdien aansienlik verbeter, bo en behalwe die R290 miljoen wat sy tot dusver ontvang het,” het ’n Disney-woordvoerder gesê. 

Wonder of ons haar weer in die volgende Black Widow of enige ander Marvel-fliek in dié rol sal sien. 

Bronne: CNN, BBC

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.