Op die foto lê sy uitgestrek tussen rooi rose, ’n modelmooi vrou treffend op die kamera vasgevang.

Maar dis die kommentaar by die foto wat verklap die rose is dalk betekenisvol, selfs simbolies, en nie net versiering nie . . .

“So mooi,” lui die kommentaar van die beeldskone vrou se ouma by die foto wat sy op Facebook geplaas het. Die ouma? Leonie Bridges. Die jong vrou op die foto? Die ikoniese minnesanger Bles Bridges se kleindogter.

En mensig, het sy nie mooi geword nie!

Haar oupa was bekend vir die rooi rose wat hy in die 1980’s en ’90’s op konserte aan aanhangers uitgedeel het. Hy het vroue in alle uithoeke van die land met sy rose en sang laat swymel.

In Maart vanjaar, tot op die dag presies 18 jaar ná sy dood in ’n motorongeluk op 24 Maart 2000, het sy kleindogter, Ashleigh Elizabeth Venter (22), weer op haar Facebook-blad hulde aan haar oupa gebring.

’n Skattige foto van Bles en Ashleigh.

Dié keer het sy ’n foto geplaas waarop sy as klein bokstertmeisie op haar beroemde oupa se arm sit. Nie lank nadat die foto geneem is nie, is Bles dood nadat hy kort voor middernag tussen Bloemhof en Wolmaransstad beheer oor sy bakkie verloor en verongeluk het.

Bles is op slag dood en Leonie ernstig beseer. Voor sy dood was Bles dikwels in die nuus oor sy buite-egtelike verhouding met Marietjie van Heerden, maar Leonie het lief gebly vir haar man.

Ná sy dood het Leonie aan Huisgenoot gesê: “Wat ons betref, was daar vier vroue in Bles se lewe: ek, Sunette, haar dogtertjie en my ma, Sue. Elke dag, elke minuut, was hy by minstens een van ons vier.”

Sunette is die sangeres Sunette Bridges, Bles se enigste dogter, en die “dogtertjie” na wie Leonie verwys het, Ashleigh.

Bles was versot op sy kleindogter, skryf Sunette by ’n foto van haar dogter op Facebook. “Haar oupa se asem, sy pop, sy alles . . .”

Ashleigh was altyd ’n mooi meisie, vertel die musiekbaas Louis van Wyk, wat in ’n stadium haar stiefpa was. Louis en Sunette is in 2003 ná ’n verhouding van vier jaar getroud, maar die huwelik het ná agt maande op die rotse beland.

??

A post shared by AshleighElizabeth (@xashleigh_ex) on

Ashleigh was sowat vier jaar oud toe Louis haar vir die eerste keer ontmoet. In die tyd dat hy en Sunette bymekaar was, het Ashleigh en haar kleinboet, Lawrence (19), saam met hulle onder een dak gewoon.

Vir Ashleigh was haar stiefpa toe “pappa Louis”.

“Ashleigh was ’n lekker stoute kleuter,” vertel Louis vandag. “Sy het maar soos enige ander kind van haar ouderdom woedeuitbarstings gehad en haar ouers se geduld beproef; niks uitsonderliks nie.”

Sunette en haar kinders woon deesdae in Amerika nadat sy en haar vyfde man, Chris Roets (51), getroud is.

Louis is ook weer getroud. Maar hoewel hy en Ashleigh nie meer na aan mekaar is nie, onthou hy haar goed: “Sy was baie spelerig en praterig. Ek onthou sy het vreeslik baie van popspeel gehou.”

Kyk ’n mens na Ashleigh se foto’s en video’s op haar sosialenetwerkblaaie, lyk sy na ’n volbloed-Amerikaner. Nêrens hoor of sien jy haar Afrikaans praat nie. Haar van, Venter, is ook nêrens op haar profiele aanlyn te bespeur nie.

Sy het in 2015 saam met Sunette, Chris en Lawrence Amerika toe geïmmigreer en in Noord-Carolina gaan woon. Chris se drie kinders, ’n dogter en twee seuns, is saam.

Ashleigh is al goed ingeburger in haar aanneemland, waar sy onder meer in die regte en filmwese studeer. Op haar blog beskryf sy haar as ’n model, sangeres, fotograaf, YouTuber – en trots Suid-Afrikaans.

Toe Huisgenoot haar om ’n onderhoud nader, het sy gesê sy praat en lees nog vlot Afrikaans; dis nog altyd haar huistaal. Maar vir ’n onderhoud het sy nee dankie gesê.

“Daar is nie enige bepaalde rede hoekom ek nie die onderhoud wil toestaan nie. Ek voel net nie ek is ’n storie nie. Daar is soveel groter kwessies in die land wat ’n storie soveel meer verdien as ek,” het Ashleigh aan ons geskryf.

Dis duidelik veral kwessies oor diere lê haar na aan die hart.

So het sy ’n petisie laat opstel om die staat Virginië te oortuig om wetgewing in te stel wat honde-eienaars verplig om hul honde binnenshuis te hou wanneer die temperatuur onder 2  of bo 30 °C is. ’n Ander keer het sy ’n petisie opgestel om ’n hond te red wat in ’n skuiling is.

Daarby is sy lid van die wêreldwye Paws for People-program, wat werkhonde help vestig by mense wat hulle nodig het. Ashleigh stel dit baie duidelik haar mooi lyf kom nie vanself nie; sy werk hard daaraan.

Being your mom is the greatest gift of all @percypawz ??????

A post shared by AshleighElizabeth (@xashleigh_ex) on

Daar is talle foto’s op haar Instagram-profiel waar sy haar gespierde arms en rug vir die kamera was.

“Nee, ek verhonger myself nie,” verduidelik sy op Instagram hoe sy dit regkry om so goed te lyk.

“Nee, ek gebruik nie lakseermiddels om gewig te verloor nie.

“Nee, my voorkoms is nie oor my gene nie. Ja, ek oefen. Ja, ek gebruik die aanvullings wat ek bemark. Nee, gewigoptel laat jou nie manlik lyk nie. Ja, ek haat kardio-oefeninge en ja, ek doen dit nogtans.

“Nee, ek leef nie van slaai nie. Ja, ek werk aan my voedings- en oefenprogram. Ja, dit is toelaatbaar dat vroue hul spiere bult.

“Ja, ek werk hard aan my liggaam en nee, ek het nog nie enige vorm van plastiese chirurgie gehad nie.”

Sy probeer tussen vyf en ses keer per week by ’n gim uitkom. Wanneer sy tyd kry, gaan sy soms meer as een keer per dag. Sy geniet nog ’n stukkie vleis, “want dis ’n groot deel van my daaglike proteïen-inname en van my Suid-Afrikaanse kultuur”.

Sy noem in haar sosiale media ’n paar dinge wat haar na aan die hart lê: haar kêrel, Richie Broedell, ’n student aan die Universiteit van Noord-Carolina Wilmington, haar Dalmatiese hond, Percy, ’n koppie koffie en haar plat maag.

Toe ’n vriendin van Richie op Facebook hul foto sien en vra of hy met ’n supermodel uitgaan, was sy antwoord: “Ja, beslis.”

Ashleigh Venter en haar kêrel, Richie Broedell, is al twee jaar saam.

Hoewel Ashleigh hard daaraan werk om so goed te lyk, moedig sy haar volgelinge op Instagram aan om net hulself te wees. En sy verseker hulle ook dat sy nie elke dag lyk asof sy op ’n modeloopplank is nie.

“Ek word nie soggens wakker en grimeer my en krul my hare nie,” skryf sy op haar Instagram-blad. “Ek trek nie spykerhakke aan en ’n stywe denim en styfpassende top nie.

"Ek trek vyf tot ses dae per week ’n sweetpak of oefenklere aan. Ek dra groot T-hemde en maak my hare op my kop vas, want wanneer ek in die klas is, kyk ek meestal af, en ’n mooi haarstyl sal net nie werk nie.

“Moenie jouself vergelyk met mense in die sosiale media wat lyk asof hulle elke dag op ’n loopplank is nie. Onthou om die volgende keer dat jy in die spiëel kyk jou slonsige bolla op jou kop, jou T-hemp en sweetpakbroek te rock.

“Wees gelukkig, wees gesond en wees jouself.”

Haar oupa Bles sou trots gewees het.

Ekstra bronne: Maxim’s Finest, ashleigh-elizabeth.weebly.com/blog, Instagram, Facebook, YouTube; Foto's: Facebook