In die stofstrate van die armoedige Missionvale, buite Port Elizabeth, is ’n bal ’n luuksheid. Maar touchies, oftewel raakrugby, is hier ’n ernstige saak. Speel sal hulle speel – al is dit dan ook met ’n leë Coke-bottel.

“Pass, pass!” gil een van die kaalvoetspelertjies en vang dan die “bal” net-net op die vingerpunte van sy een hand. Dan is dit swenk, dummy, swenk – en score!

Die toeskouers jil en die kannetjie glimlag van oor tot oor – min wetend dat hy eendag deur skares wêreldwyd toegejuig sou word.

Flits vorentoe na die hede . . . Op die skerm skud Cecil Afrika, die land se suksesvolste Blitsbok, sy kop in verwondering wanneer hy oor daardie kleintydwedstryde praat.

“Ons het ons eie ligas gehad,” onthou die geliefde sewesrugbyspeler met die kenmerkende haarlokke.

“Een straat teen die ander straat. Dit was ’n weeklikse instelling om touchies te speel. Daar was nie veel meer om te doen waar ek grootgeword het nie. En ek dink dit was daardie touchies wat my liefde vir rugby aangevuur het.”

Met ’n regte rugbybal in sy hande het Cecil later gedy. Sewesrugby gaan oor vaart, verbysterende systappe, ’n oog vir die kleinste gaping – en drieë, drieë, drieë. Dit alles verskaf Cecil in oormaat.

Cecil Afrika
Cecil by die Statebondspele van 2014 in Glasgow, Skotland. Foto: Instagram/@cecilafrika

Daarvan getuig die rekordgetal van 1 462 punte wat hy in 345 wedstryde vir die Blitsbokke aangeteken het. Die speelvelde van Kaapstad, Doebai, Las Vegas en Hongkong het die verhoog geword van dié gewilde ster van die spel. Sy ongelooflike danspassies op die veld het boonop YouTube-sensasies geword. Maar die man op die skerm bly nederig.

“Ek dink enige speler streef daarna om op die hoogste vlak deel te neem . . . Dit was vir my ’n reusevoorreg en seën,” vertel hy vanuit sy huis in Port Elizabeth.

Maar die wêreldwye coronavirus-pandemie het Cecil (32) van een groot droom beroof: om vanjaar vir die Blitsbokke op die Olimpiese Spele in Tokio uit te draf.

Hy is reeds in 2019 ingelig dat sy seweskontrak sou eindig ná vanjaar se internasionale seweskampioenskapsreeks – en dus die Spele, wat op 23 Julie sou begin. Maar weens die pandemie is albei van die baan.

“Dis vir my hartseer om nie op die hoë noot wat ek wou my loopbaan af te sluit nie,” vertel hy.

“Maar dit is ongelukkig omstandighede buite my beheer.” Tog sou ’n goue Olimpiese medalje darem mooi gelyk het langs die brons wat hy as Blitsbok in 2016 in Rio de Janeiro gewen het . . .

As laaitie het Cecil se drome om wêreldrugby te speel so half teensinnig begin posvat toe Jan Oberholzer, oud-kaptein van die Blou Bulle, sy flinke voetwerk in ’n rugbytoernooi in Port Elizabeth raakgesien het.

“Oom Jan het voorgestel dat ek na Welkom verhuis om daar by die Virginia-sportakademie aan te sluit. Hy het gesê hy sien baie potensiaal in my. Ek wou hom nie destyds glo nie, maar ek het tog by die akademie aangesluit.”

Welkom en die naburige Virginia, in die Noord-Vrystaat, is bekend danksy hul diepste goudmyne in die wêreld. Maar bogronds word ook met jong rugbytalent gewoeker.

Die jong Cecil is na die Hoërskool Hentie Cilliers op Virginia. En hier tussen die mynskagte en mielielande het hy as speler gegroei. In 2004 het hy die Noord-Vrystaatse Griffons se o.16-span vir die Grant Khomo-week gehaal; en in 2005 en ’06 die Cravenweekspan, en op grond van sy spel ook die SA Skolespan.

Dit alles vir die vyftienmanweergawe van rugby. Maar in dieselfde jaar is hy ook vir sewesrugby se opkomende Suid-Afrikaanse span gekies. “Ek het groot dankbaarheid vir oom Jan,” soos hy steeds die oudkaptein van die Bulle noem.

“Hy het die passie wat ek vir rugby gehad het, aangevuur en baie deure vir my oopgemaak,” vertel Cecil.

Hy het sy eerste proesel van sewesrugby, vir die opkomende SA span, baie geniet. Maar in 2007 het hy vir die Griffons in die eerste liga van die Curriebekerreeks uitgedraf: vyftienmanrugby. En toe, in 2009, word hy ’n voltydse kontrak vir die Blitsbokke aangebied. Die res is blitsgeskiedenis.

Vir 12 seisoene daarna was hy ’n Blitsbok-ikoon, en in 2011 is hy ook as internasionale sewesspeler van die jaar aangewys. Steeds is hy nederig oor sy prestasies.

“Ek is diep dankbaar vir die Virginia-sportakademie en oom Jan; dis hoekom ek is waar ek vandag is,” sê Cecil. Hy is steeds half verwonderd oor als.

“Die spel is baie uitdagend, maar opwindend. In sewesrugby streef jy na die perfect game. As jy een fout maak, kan dit jou die game kos. Sewesrugby se verkorte spel het my groot liefde geword. Nêrens anders as in sewesrugby moet jy ten volle volmaak speel nie.”

En sy soeke na volmaaktheid ken geen einde nie. “Ek sou elke game wat ons gespeel het weer kyk, om te sien waar ek foute gemaak het, en hoe ek dit volgende keer kon verbeter.”

Watter span was die taaiste teenstanders in die internasionale arena?

Kenia, sê hy sonder huiwering. “Jy weet dit is oorlog as jy teen hulle speel. Hulle is groot, sterk en vinnig, en dis altyd ’n kompetisie om te sien wie in Afrika die magtigste is.”

Die een wedstryd wat vir hom uitstaan, was in 2013 op die dag toe oudpres. Nelson Mandela begrawe is.

“Ons het in Port Elizabeth teen Nieu-Seeland in die eindronde gespeel en hulle 17-14 geklop. Dit was absoluut wonderlik. Dit was ’n wen wat ons land nodig gehad het in ’n tyd toe ons gerou het. Dit het gevoel of ons vir Madiba gewen het. So half van ’n final send-off.” Maar die spel het deur die jare ook uitdagings gebring. “Ek dink die beserings was vir my die ergste.”

Ná ’n toernooi in Hongkong in 2012 het ’n kniebesering hom nege maande op die kantlyn laat sit. Dokters het hom aangeraai om ná sy herstel net een jaar te speel en dan af te tree. Maar Cecil had ander idees.

“Die Here was my genadig en het my nog agt jaar lank laat speel.”

Weg van die wêreld se luisterryke speelvelde en die juigende skares pak Cecil die lewe steeds op volspoed aan.

Cecil Afrika
Cecil en twee oudspanmaats, Philip ­Snyman (links) en Kyle Brown, het saam ’n onderneming begin wat hulle Eighteen Coffee noem. Dis die som van hul rugbytruie se nommers. Foto: Instagram/@cecilafrika

Cecil en twee Blitsbokspanmaats, Kyle Brown en Philip Snyman, het saam ’n koffieonderneming begin.

Hulle noem dit Eighteen Coffee. “Philip se trui is nommer 2, Kyle is 6 en ek is 10. Saam is ons dus Eighteen Coffee,” verduidelik hy.

Hulle het reeds ’n koffiekroeg op Stellenbosch en beplan om die onderneming verder uit te brei. “Ek dink nie koffie en rugby is so ver van mekaar verwyder nie,” vertel hy.

“Dit is net die vaktaal wat verander. Ons bedryf is net so uitdagend, maar dit is opwindend om die maatskappy te laat groei. Net soos sewesrugby leer ek met die onderneming ook uit my foute.”

Oor sy persoonlike lewe bevestig hy net dat hy in ’n vaste verhouding is, maar ook dat hy haar privaatheid wil beskerm. Die huis in die Baai deel hy met sy ma, Rachel, suster, Nicolette, en dié se dogtertjie, Nikkitah. Maar is hy dan nou heeltemal verlore vir Suid-Afrikaanse rugby?

Cecil
Saam met sy susterskind, Nikkitah, sy ma, Rachel, en suster, Nicolette. Foto: Verskaf

“As die geleentheid daar is, as die Blitsbokke my weens ’n besering nodig het, sal ek met liefde weer die Groen-en-goud oor my kop trek.”

Wie weet – dalk word sy droom van Olimpiese goud tog waar in 2021, wanneer die uitgestelde Spele sal plaasvind. En oor die bespiegelings dat hy die vryheid van sewesrugby dalk vir die vyftienmanspel met sy vaste fasette sal verruil?

“Ek wil nog nie veel daaroor sê nie. Maar die geleenthede is daar, en ons sal sien wat die toekoms inhou . . .”