Bobby van Jaarsveld se ma, Ronel Brink, het ’n foto wat van haar seun in Israel geneem is op Instagram gelaai en haar gebed vir hom geskryf.

“Wat is my gebed vir jou? Presies dit wat vasgevang is in hierdie foto van jou in Israel verlede jaar,” skryf sy.

Sy sê sy bid dat sy indentiteit in Christus vasgemaak sal wees en dat hy in sy roeping sal stap.

“Hierdie ma het jou lief met ’n liefde wat nie in woorde omgesit kan word nie. En dis hoe ek oor elkeen van my kinders voel,” skryf Ronel.

Bobby het ook ’n foto Maandag in die sosiale media gedeel om ’n nuwe haredos te wys en gesê dat dit die laaste aand van 30 vir hom sal wees. 

Hy skryf ook verder dat dit lekker is om by die huis te wees nadat hy vir sewe weke aan die nuwe kykNET-reeks Mense-Mense verfilm het, wat in April op die kassie sal verskyn.

Vroeg in Januarie het hy en sy vrou Annatjie hul sewende huweliksherdenking gevier. Hulle het twee seuns, Sion (6) en Leben (5), en ’n dogtertjie, Armani, wat môre twee jaar oud word. 

Veels geluk, Bobby!