Bobby van Jaarsveld
Die sanger Bobby van Jaarsveld het onlangs vir die 12de keer laserbehandeling ontvang om ’n tatoe te laat verwyder. Foto: Instagram/Bobby van Jaarsveld

Dis eintlik ’n lang storie, sê die sanger Bobby van Jaarsveld nadat hy vandeesweek vir die 12de keer laserbehandeling ontvang het om ’n tatoe aan sy regter-boarm te verwyder. 

Nadat Bobby vandeesweek ’n foto van homself en die ál ligter wordende tatoe – ’n kruis – in die sosiale media gedeel het, het honderde aanhangers soos een man gevra: “Hoekom?” 

Eintlik verbaas dit hom dat mense nog ’n bohaai daaroor maak, terg Bobby. 

“Man, ek het die tatoe van die kruis gekry toe ek 18 of 19 jaar oud was. Destyds het hulle my uitgetrap omdat ek die tatoe gekry het, maar nou baklei hulle weer omdat die tatoe wil laat verwyder,” sê hy, en lag.

Bobby van Jaarsveld. Foto: Facebook
Toe die tatoe aan Bobby se arm nog duidelik sigbaar was. Foto: Facebook/Bobby van Jaarsveld

Aanhangers kon tog nie help om kop te krap nadat Bobby Woensdag weer openlik gepraat het oor sy stryd om die tatoe te laat verwyder nie. By sy plasing op Facebook laat hy so ewe hoor: “Ek wou mos nie na my ma geluister het nie . . .”

Maar wat is die rede? 

“Dis tweeledig,” verduidelik Bobby. “Die eerste is omdat die eindproduk destyds baie slordig was en nie mooi uitgekom het nie. Ek het dus, in ’n poging om dit meer afgerond te laat lyk, drie keer oor dieselfde tatoe laat tatoeëer, maar elke keer was die eindproduk vir my lelik. So dis eintlik eenvoudig: Dit het my gepla omdat dit nooit goed gedoen was nie.”

Maar daar is ook ’n veel dieperliggende besluit daaragter om die tatoe van die kruis te laat verwyder, verduidelik Bobby.

“Ek het in ’n stadium van my lewe die kruis, in plaas van Christus, begin aanbid,” vertel hy. 

“Daar is ’n massiewe verskil. Die kruis is ons geloof se teken, dit weet ek, maar my God lewe nie in simbole nie. Hy lewe in die hier en in die nou en in ons harte. En as ons die kruisiging bekyk, gaan dit eintlik daaroor dat Hy vir ons gesterf het en weer opgestaan het – so as ons werklik ’n simbool soek, moet dit die oop graf wees. God het tog weer vir ons opgestaan.”

Bobby van Jaarsveld
Bobby toe hy in 2014 laserbehandeling vir dieselfde tatoe ontvang het. Foto: Facebook/Bobby van Jaarsveld

Dis sy eie persoonlike reis, sê Bobby ernstig. “Elke ou stap sy eie pad, elke ou het sy eie redes en sy eie keuses. In my wese weet ek wat moes verander, ek moes ophou om die kruis alles te maak. Maar nou is die kruis nie meer vir my soos ’n afgod nie, Jesus is nou alles.”

En nee, hy haat nie tatoes nie, keer Bobby. 

“Ek het absoluut niks teen tatoes nie. Ek gaan nog een laaste keer probeer om die tatoe te verwyder, maar as dit nie mooi afkom nie en ’n letsel maak, mag ek dalk ’n ander tatoe kry om die merk toe te maak, natuurlik iets wat ’n sterk betekenis het vir my.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe