Elf jaar gelede het sy lewe op ’n wintersaand onherroeplik verander.

Die oomblik toe sy motor en dié van drie tieners laataand in 2010 met mekaar by ’n kruising in Centurion bots, het meer as ’n dekade se hel vir die akteur Arno Marais begin.

Nie net moes hy aanvanklik in die hospitaal in ’n koma vir sy eie lewe baklei omdat hy ernstige kop- en inwendige beserings opgedoen het nie, hy moes ook daarna ’n aanklag van strafbare manslag trotseer omdat een van die tieners in die ongeluk oorlede is. 

Terwyl kykers hom die afgelope dekade gereeld oënskynlik sorgvry op die kassie gesien het – eers as die sepie Isidingo se stoutseun Benjamin le Roux en meer onlangs as die sagmoedige boer Herman Mouton in die dramareeks Die boekklub en die prokureur Thinus de Wet in die sepie Getroud met rugby – het Arno se eie lewe in ’n donker doolhof beland, erken hy vandag in sy eerste openhartige onderhoud in jare. 

Die akteur Arno Marais vertel hy voel vir die eers
Die akteur Arno Marais vertel hy voel vir die eerste keer in sy lewe vry. Foto: Sharon Seretlo/Gallo

“Ek het lekker gewerk, maar ek het altyd na iets meer gesoek. Ek was nie vervuld nie. Ek het nie moeilikheid gemaak of nonsens aangejaag nie, maar saam met die ongeluk het die depressie gekom,” vertel hy per video-onderhoud vanuit sy nuwe huis in Centurion.

Terwyl kykers van Die boekklub onlangs moes sien hoe die kleurryke karakters van Merweville op Herman se begrafnis van dié geliefde karakter afskeid neem, voel dit egter vir Arno asof hy self ’n nuwe lewensblaadjie omgeslaan het en nou vir die eerste keer léwe. 

“Ek voel vir die eerste keer in my lewe vry,” vertel Arno. “Ek het nou vrede gemaak met myself. Ek was voorheen baie op my eie. Ek het nooit gevoel ek kan enigiemand enigiets bied nie. Ek het deur ’n baie diep depressie gegaan . . .” 

Die omwenteling het in Oktober verlede jaar gekom toe hy opnuut in ’n Centurion-kerk tot bekering gekom en gedoop is. 

“Ek is op ’n goeie plek. Ek bars sommer in trane uit, dis vir my net so real,” sê hy, en vee die trane van sy wange af. 

Die akteur Arno Marais vertel hy voel vir die eers
Die akteur Arno Marais vertel hy voel vir die eerste keer in sy lewe vry. Foto: Sharon Seretlo/Gallo

“Ek wil nie meer in die verlede leef nie, maar dit ís deel van my testimony. Oktober het my lewe verander; dit is hoe lank dit my gevat het. Toe God my kom haal het, toe verander alles. Hy het die nonsens uit my lewe weggevat, want Hy moes net gedink het dis nou genoeg . . .” 

Moeilike kinderjare

Die Marais-gesin het dit nie breed gehad tydens Arno se grootwordjare nie – en dit het veral swaar gegaan ná sy ouers, Corrie en Johan, se egskeiding toe hy 11 was. 

Daarna het hy en sy ouer suster, Liané, saam met hul ma in die skoolkoshuis van die Hoërskool Brebner in Bloemfontein gewoon, waar sy ma onderwyseres en koshuismoeder was.

“Ek het ’n minderwaardigheidskompleks gehad. Ek dink dit kom maar oor aanvaarding van jou pa af, want ek het dit nie gehad nie. Kyk, hy wás lief vir my, maar hy het nie geweet hoe om liefde te wys nie . . .”

"Ek dink dit kom maar oor aanvaarding van jou pa af, want ek het dit nie gehad nie. Kyk, hy wás lief vir my, maar hy het nie geweet hoe om liefde te wys nie..."

Arno het as kind reeds met depressie geworstel, maar vertel dit was met die regte medisyne onder beheer – selfs toe hy direk ná skool twee jaar in Engeland en Wallis gaan werk het om geld te spaar vir sy dramastudie. Met die geld wat hy gespaar het en die hulp van familie, het hy in 2006 by die Tshwane- universiteit van Tegnologie begin studeer, en was net besig om in sy eerste groot rol vir homself ’n naam te vestig in Isidingo, toe die ongeluk gebeur. 

Die gruongeluk

Sy lewe het weke lank aan ’n draadjie gehang en dokters moes hom vyf keer bybring. Teen sy keel sien ’n mens vandag nog die letsel van die masjien wat hom moes help asemhaal. Dit sou hom eindelik sewe maande neem voor hy weer op die Isidingo-stel kon begin werk. 

Ná die ongeluk het Arno hom ál meer van mense onttrek.

Daarmee saam het die depressie gekom.“Ek het deur ’n moeilike tyd gegaan. Ek het met God baklei; ek het Hom en alles en almal om my blameer. Maar ek het deur God se genade by ’n punt gekom waar ek besef het: Ek wil net almal om my lief hê.”

Toe hy in 2012, twee jaar ná die ongeluk, van strafbare manslag aangekla is, was dit asof die foltering opnuut begin. Dit is duidelik dit is 11 jaar ná die ongeluk steeds vir Arno moeilik om oor die gebeure te praat.

Die akteur, Arno Marais, saam met Stian Bam, sy me
Die akteur, Arno Marais, saam met Stian Bam, sy mede-akteur in Die Boekklub. Foto: Rapport

Die trauma sit vlak, en die worsteling in sy gemoed is steeds daar. Huisgenoot het destyds berig Arno het op die aand van die ongeluk nog met sy destydse vriendin oor die foon gepraat voor hy by sy vorige kothuis in Centurion weg is om by McDonald’s ’n wegneemete te gaan koop. Hy skud nou sy kop.

“Ek kan dít nie eens onthou nie.”

Vir ’n oomblik is hy ontsteld.

“Ek wens net ek kon méér onthou!”

Toe hy later van strafbare manslag aangekla word, en daar word beweer dat hy die ongeluk veroorsaak het, het die hel waarin hy hom bevind het, ál erger geword.

“Mense sê dit was jy, en eintlik weet nie een wat werklik daar gebeur het nie.”

Die saak is in 2013 weens ’n gebrek aan bewyse uit die hof gegooi. Hy het gesukkel om die gebeure te verwerk, vertel Arno, en moes in dieselfde tyd ook worstel met ’n gebroke verhouding met sy pa, Johan. 

Met Johan se dood vier jaar gelede, was pa en seun steeds nie op goeie voet nie. 

“Hy was ’n great prokureur, suksesvol, maar hy het baie verkeerde keuses gemaak. Ek wens hy het vandag nog geleef dat ek nou die goud in my hart met hom kon deel, want nou eers loop ek in die lig,” sê Arno.

Vir Arno self het “God die geleentheid geskep” sodat hy verlede jaar weer gedoop kon word in sy ma se kerk.

“Ek het net dadelik geweet ek moet dit doen,” sê hy. En sedert dié dag in Oktober voel dit vir die eerste keer sedert die ongeluk asof ’n groot las van sy skouers af is. 

“Al die slegte dinge is weg – die depressie, finansiële foute, mense wat jy seergemaak het . . . ”

Hoewel hy in die jare ná sy ongeluk duisende rande se medisyne moes drink, drink hy vandag nie meer antidepressante nie. 

“Ek is nie perfek nie. Ek het vandag ’n moeilike dag gehad, want my kar het op pad stel toe gebreek, maar ek het met die Here se genade deur dit gekom. Dit beteken nie ek is die hele tyd gelukkig nie. Maar ek stap hierdie pad met God.”

“Ek is nie perfek nie. Ek het vandag ’n moeilike dag gehad, want my kar het op pad stel toe gebreek, maar ek het met die Here se genade deur dit gekom."

Hy drink ook sedert Oktober glad nie meer alkohol nie. “Ek het nie soggens wakker geword en gedink ‘nou moet ek drank kry’ nie, maar ja, as daar ’n geleentheid was, het ek dit gevat. Ek voel ek het genoeg gekuier in my lewe. Ek het dit nie meer nodig nie.”

Groot drome

Oor sy toekomsplanne wil hy nie nou veel verklap nie, behalwe om jou te verseker dat hy nog groot drome koester.

“Ek wil nog alles doen en leer. Ek is geseënd. God doen reeds ongelooflike dinge vir my.”

Ja, hy sal die werk aan Die boekklub mis – die geleentheid om saam met gesoute akteurs soos June van Merch en Jana Cilliers te speel, én sy eie karakter. 

“Dit is sy goedhartigheid, sy onskuld, waarby ek aanklank gevind het,” sê hy oor Herman. 

Intussen geniet hy die werk op die Getroud met rugby-stel voluit. “Ek sal daar bly so lank as wat hulle my daar wil hê!” vertel hy. 

Die akteur, Arno Marais, saam met Adrian Steyn, sy
Die akteur, Arno Marais, saam met Adrian Steyn, sy mede-akteur in Getroud met Rugby. Foto: KykNET

Oor sy karakter, ’n prokureur, vertel hy: “Thinus is ’n goeie ou – dít het ons gemeen. Hy het ’n sagte hart teenoor mense en luister ook goed, maar hy kry ook baie seer as mense hom misbruik.”

Weg van die kameras droom Arno van ’n lewensmaat.

Hy was in 2014 laas in ’n verhouding.

 “Dit het nie gewerk nie, want ek was nie op die regte plek nie, en sy ook nie. Maar dit sou met niemand gewerk het nie, want ek was nie gelukkig in myself nie,” erken hy.

“Ek glo ek is nou eers reg om die regte persoon te ontmoet. Ek kan nou gee. Al wat ek in die verlede gedoen het, was om te vat. Ek moes wakker word en besef niemand skuld my iets nie en ék skuld niemand enigiets nie, behalwe om lief te hê.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe