Demi Lovato

Bulimie

Demi Lovato Foto: Gallo Images/Getty Images
Demi Lovato Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Sorry Not Sorry-sangeres speel al jare lank oop kaarte oor haar stryd teen die eetsteuring bulimie.

Haar slegte eetgewoontes het op nege begin, het Demi (25) al vertel.

“Ek het werklik nie gedink ek sou 21 haal nie,” erken sy.

Sy het behandeling daarvoor ontvang. In 2016 het sy weer ’n terugslag gehad toe sy en haar kêrel in daardie stadium, die akteur Wilmer Valderrama (38), ná ses jaar uitmaak, maar sy is nou weer op die regte pad.

Winnie Harlow

Vitiligo

Winnie Harlow Foto: Gallo Images/Getty Images

Die velsiekte vitiligo is op ses by dié Kanadese model gediagnoseer en op skool is sy name soos “koei” en “sebra” genoem.

Die gespot het so erg geword dat sy tuis onderrig moes word. Maar sy het haar nie deur afjakke laat onderkry nie. Die langbeenskoonheid (23) was in 2014 vyfde in die werklikheidsreeks America’s Next Top Model.

Deesdae val ontwerpers soos Marc Jacobs oor hul voete om vir haar werk aan te bied en sy pryk op al wat ’n loopplank en tydskrifvoorblad is.

“Ek het geleer om lief te word vir wie ek is ten spyte van wat mense van my sê,” vertel Winnie.

“Dit het my die moed gegee om teen enigeen op te staan en enige struikelblok in my lewe te oorkom.”

Kendall Jenner

Aknee

Kendall Jenner Foto: Gallo Images/Getty Images
Kendall Jenner Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe die beeldskone Kendall vanjaar by die Golden Globes-prysaand met puisies en al aan haar gesig op die rooitapyt verskyn, het sy aan die wêreld gewys sy het velprobleme nes ander mense.

Die model (22) het kort daarna getwiet: “Moet nooit toelaat dat daai k** jou stop nie!”

Sy het in gr. 8 of 9 aknee begin ontwikkel en dit het haar selfbeeld geknou, het sy al erken.

Maar sy het duidelik piekfyn aan die ander kant uitgekom.

Kristen Raath

Sproete wil sy dra

7de Laan se Amorey inspireer gereeld haar Insta-aanhangers om hulself te aanvaar nes hulle is.

Op dié sosiale netwerk beskryf Kristen (21) haarself as die “ambassador of awkward”. Sy poseer gereeld sonder grimering vir foto’s en beskryf haar sproete as sterre op haar vel.

Jaden Smith

Geslagsneutraliteit

Jaden Smith Foto: Gallo Images/Getty Images
Jaden Smith Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié 19-jarige model, akteur en rapperseun van die Hollywood-glanspaar Will Smith en Jada Pinkett Smith is in 2016 gekritiseer toe hy in ’n romp vir ’n advertensieveldtog vir Louis Vuitton verskyn.

Hy dra geslagsneutrale klere om stereotipes af te breek en jonges aan te moedig om te dra wat hulle wil, sê hy.

“Glo in jouself. Die wêreld gaan my aanhou afkraak oor wat ek doen en ek gaan aanhou om nie om te gee nie.”

Kylie Jenner

Voorkoms

Kylie Jenner Foto: Gallo Images/Getty Images
Kylie Jenner Foto: Gallo Images/Getty Images

Om op 20 ’n sakevrou, miljoenêr en boonop lid van een van die beroemdste families ter wêreld te wees, klink dalk soos ’n droom maar roem is soms vir Kylie ’n bitter pil om te sluk.

“Ek is my lewe lank afgeknou,” het dié werklikheidster al teenoor die kletsprogramaanbieder Ellen DeGeneres erken, en dit boonop oor haar voorkoms.

Daarom het sy verlede jaar haar I Am More Than-veldtog op Instagram van stapel gestuur.

Daarmee moedig sy tieners aan om ook hul ervarings met boelies in die sosiale media te deel.

Selena Gomez

Lupus en depressie

Dié sangeres en aktrise moes vir ’n ruk uit die kollig verdwyn terwyl sy ’n stryd teen die chroniese outo-immuunsiekte lupus gevoer het. Selena (25) het chemoterapie ondergaan en verlede jaar bekendgemaak sy het ’n nieroorplanting gehad.

Haar vriendin Francia Raísa (langs haar regs bo) het aan haar ’n nier geskenk.

Selena Gomez Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy was ook openlik oor haar stryd teen depressie wat haar al in ’n rehabilitasiekliniek laat beland het.

Sy sê sy praat oor haar probleme om ander te “inspireer om goed te voel”.

Zayn Malik

Eetsiekte en angs

Zayn Malik Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Let Me-sanger het al vertel hoe hy in sy One Direction-dae aan angstigheid en ’n eetsteuring gely het.

Dit was so erg dat hy soms drie dae lank sonder kos gebly het. Zayn (25) het die groep in 2015 verlaat en dit het hom goed gedoen, meen hy.

Hy het verlede jaar vertel hy is weer in beheer van sy eetgewoontes en ly nie meer aan geestesgesondheidsprobleme wat hom van die verhoog weghou nie.

Sy raad? “Mans moenie bang wees om hul gevoelens uit te druk nie.”

Ruan Wessels

Boelies

Ruan Wessels Foto: Ed Lombard
Ruan Wessels Foto: Louis Daniel Botha

Die Erfsondes- en Binnelanders-akteur het al vertel hoe hy op skool afgeknou is toe hy as akteur begin naam maak.

“Dit was tough,” het Ruan (21) in 2016 aan die tydskrif Sarie gesê.

“Eers het ek voorgegee ek hoor dit nie, maar dit werk nie regtig nie. Wat wel gewerk het, was om hulle in liefde en vrede te approach.

"Ek het net vir hulle gesê: ‘Ek gee jou nie moeilikheid oor jy rugby of krieket speel nie; moet my nie moeilikheid gee oor ek toneelspeel nie.’ ” 

Bronne: Teenvogue.com, Fitnessmagazine.com, Thisisinsider.com, Blackdoctor.org, YouTube, Independent.co.uk, TheSun.co.uk,Eonline.com,HomeBT.com, HelloMagazine.com, CNN.com