Adriaan Geldenhuys en Helene.
Adriaan Geldenhuys en Helene. Foto: Corrie Hansen.

Klein Jacobus is op 13 Mei halfvyf die middag in die neonatale eenheid van die Mediclinic George in die Suid-Kaap gebore, vertel Helene vanuit Riversdal.

TV-kykers het in 2017 met Helene – toe nog Helene Retief – en boer Adriaan kennis gemaak toe hulle mekaar in seisoen 10 van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou leer ken en verlief geraak het.

Hulle het twee jaar later, in Oktober 2019, tydens ’n intieme seremonie op Riversdal afgehaak. Toe die bruid met die kanselpaadjie afstap, het Elandré se stem opgeklink met Lonestar se romantiese lied “Amazed”: I’ve never been this close to anyone or anything / I can hear your thoughts / I can see your dreams.

Boere-pappa Adriaan Geldenhuys en sy een maande ou
Pa Adriaan Geldenhuys en sy een maande oue seunskind, Jacobus. Foto: Verskaf

En klein Jacobus is een van hierdie drome wat nou waar geword het.

“Dit voel nou vir my of elke dag Vadersdag is,” laat Adriaan per stemboodskap weet met die bakkiegedruis op die plaas op die agtergrond. Die egpaar gesels eksklusief met Huisgenoot oor hul eersteling se koms.

“Om daardie mannetjie in ons lewe te hê is een groot voorreg. Ons is elke oggend so dankbaar as ons daai klein lyfie sien en dan glimlag die gesiggie ook nog. Dit maak alles net onbeskryflik,” voeg Adriaan by.

Baba Jacobus het Helene en Adriaan Geldenhuys se l
Baba Jacobus het Helene en Adriaan Geldenhuys se lewe verander. Foto: Verskaf

“Ons het gister vir Vadersdag by Adriaan se ouers gaan eet,” vertel Helene, ook per stemboodskap. “Dit was sommer ’n lekker kuier saam met die familie en die eerste keer wat ons baba Jacobus op ’n behoorlike uitstappie, buiten dokter toe, geneem het,” vertel sy.

Adriaan en Jacobus was dieselfde uitgetof in blou tie dye; pa met ’n hemp en Jacobus in ’n groeipakkie. “Hy het heeldag geslaap. Dis maar wat hulle op hierdie ouderdom doen. Ons neem hom nie kwalik nie.

“Dit was ook spesiaal omdat dit die eerste keer in 'n lang tyd was wat ons so lank gekuier het en uit was. Almal sê vir jou jou lewe gaan verander, maar jy kan jouself nie voorberei tot hierdie mensie in jou lewe is nie. Niks anders maak saak nie,” vertel Helene.

Baba Jacobus Geldenhuys, is bietjie meer as 'n maa
Baba Jacobus Geldenhuys, is 'n bietjie ouer as 'n maand. Foto: Verskaf

“Hy het ons weer laat besef hoe afhanklik jy van die Here moet wees. Ons is totaal verstom en in verwondering oor hoe goed die Here vir ons is,” vertel sy.

Adriaan kry darem tussen al die gekoer deur ook geboer op sy gemengde boerdery-plaas naby Riversdal. Toe hulle by die huis kom met klein Jacobus, was dit skeertyd. Dit was lekker bedrywig.

Adriaan vertel hy kan nie wag dat Jacobus op ’n ouderdom is waar hy saam kan boer nie. “Om saam te ry, deel te wees en saam te ervaar,” vertel Helene.

“Almal sê mos hul babatjie is die mooiste, maar ons familie stem saam hy is mooi en slim en die oulikste. Daar is ’n fan club op WhatsApp vir hom.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe