Maar nou wil die egpaar hulle “grootste seëning” met die wêreld deel: Monja (27) is swanger – en hulle kan nie meer wag vir die babadogtertjie om haar opwagting te maak nie.

Sy het al in Oktober verlede jaar gehoor sy verwag, vertel Monja telefonies aan Huisgenoot.

“Ons wou dit eers vir ’n tydjie stilhou omdat ons albei bang was daar sou iets skeefloop in die beginstadium van my swangerskap. En gelukkig kon ons – ek het tot na vyf maande nie eers ’n bababoepie gehad nie,” vertel sy.

’n Babatjie was nog nie op die kaarte nie . . . 

Maar, erken Monja, toe sy en André uitvind, was hulle albei in die wolke. 

“Ons het haar nie beplan nie, maar dis die regte tyd. Dis God se tyd. Ons weet dat dit presies is wat God vir ons beplan het,” sê Monja.

Die twee se warrelwind-romanse het kykers van die maatsoekreeks behoorlik na die snesies laat gryp. Maar nie omdat hulle met die eerste oogopslag ’n romanse aangeknoop het nie . . . 

André en Monja
André en Monja op hulle Karooplaas in die Noord-Kaap. Foto: Verskaf

Ja, albei was deelnemers op die maatsoekreeks, maar in verskillende seisoene van die program – Monja in die agtste seisoen en André die elfde seisoen. Maar nóg Monja nóg André het liefde voor die kameras gevind. 

Kupido het ander planne met hulle gehad en die egpaar se paadjies het eers later met ’n ompad – deur middel van Facebook – na mekaar gelei.

Hulle het in Februarie verlede jaar verloof geraak en het in Mei getrou.

“Alles het mos so vinnig vir ons gebeur,” vertel Monja. Hulle is steeds op die plaas in Colesberg in die Noord-Kaap, waar André met skape en angolabokke boer.

“Maar ons sou dit nie anders wou hê nie. Ons is net so dankbaar dat ons mekaar gevind het – dat ons nou geseën is met hierdie wonderlike geskenk.” 

Monja het aanvanklik ’n moeilike swangerskap gehad, vertel sy. Sy was konstant naar en het lyfseer ervaar. Maar nou, in die derde trimester, voel sy weer heeltemal gesond. 

Boer André van Zyl en sy verloofde, Monja Strydom,
Boer André van Zyl en sy verloofde, Monja Strydom, is dolverlief. Foto: Verskaf

Hulle het reeds ’n naam vir die pienkvoet gekies: Anne-Mieke.

“Dis nie ’n familienaam nie,” sê Monja. “Dis vir ons albei sommer net ’n mooi naam; ’n sterk naam. En dis wat ons vir haar wens: dat sy sal sterk wees.” 

Hulle het eers ’n paar weke gelede uitgevind dis ’n dogtertjie, sê Monja. 

“André het gehoop sy eerste kind sou ’n dogtertjie wees. ’n Mens sou nogal dink dis andersom: ’n seuntjie wat saam met hom op die plaas kan werk en so aan. Maar nie hy nie. En hy was so opgewonde toe ons hoor ons word met ’n dogtertjie verras.

“Vir my het dit nie saak gemaak of dit ’n seuntjie of dogtertjie is nie. Ek hoop net vir ’n gesonde babatjie.” 

Hulle het reeds begin om ’n babakamer aan te bou, vertel Monja. Maar nou, met die nasionale afsonderingsperiode wat steeds voortduur, is die bouwerk vir eers op ys.

“Ek sal jok as ek sê ek is nié effens angstig nie. Ek dink die hele lockdown sorg maar vir onvermydelike vrae en vrese. Maar ag, as die kamer nie klaar kom nie, rig ons vir haar die spaarkamer in. 

“Ek dink ’n mens moet in hierdie onsekere tyd meer as ooit vasklou aan hoop en aan die Here – ons weet alles wat vir ons beplan is, sal ten goede meewerk.”