Hy gesels met Huisgenoot oor die foon oor die viering van sy en die Vredendal-onderwyseres Danél Saayman se romanse. Albei het aan kykNET se Boer Soek ’n Vrou-deelgeneem, maar weg van die kameras by mekaar liefde gevind.

Carl is soggens al voor ses op en lande toe om die “skaapgoed bymekaar te maak,” vertel hy. Die ou ooie moes uit die troppe in ’n kampie ingekeer word saam met die vervangingskoeie. Later sal die ou ooie voerkrale toe aangejaag word om te slag. Daar is sowat 3 000 skape op sy en sy pa, Carl sr. (65), se plase.

“Dit het mooi oopgetrek,” vertel Carl. “Dis maar nog winderig en koelerig. Gewoonlik dra ek net ’n T-hemp en kortbroek, maar vandag dra ek ’n oortrektrui,” vertel hy in sy Namakwalandse bry.

Maar hy wil nie net oor weer praat nie. Sy wegbreeknaweek is iets waarop hy baie trots is.

Hy en ’n vriendin van Danél het allerlei bederfies oor die naweek vir haar gereël. “Dis moeilik om planne te maak as ek so ver is,” vertel Carl. Die plaas is 450 km van Vredendal, maar wanneer die boerdery dit toelaat, lê hy dit met ’n lied in sy hart af, soos dié naweek.

Dit was Saterdagaand die netbal- en rugbydans op die dorpie in die Olifantsriviervallei. Die vorige aand het hulle lekker by Danél se ouers gebraai. Hy het haar gewaarsku om Saterdagoggend vroeg-vroeg aangetrek te wees vir ’n “geheimpie”.

Hy het haar na die spoggerige Letsatsi Lodge naby Vanrhynsdorp geneem vir ’n ontbyt-buffet. Daarna het hy ’n massering vir haar bespreek by ’n spa op Vredendal.

“Op die platteland is daar tog sulke plekke, hoor,” vertel Carl. “Sy was heel uit die veld geslaan en dankbaar,” voeg hy by.

“Wanneer jy met skoolkinders werk, is dit nie altyd maklik nie. Daarom was dit lekker vir haar om die nuwe kwartaal meer ontspanne in te gaan,” sê hy.

Op die dans die aand het sy meer mense uit die Vredendal-gemeenskap ontmoet. Hulle is almal opgewonde oor die verhouding, vertel hy. Carl het die  Sondagmiddag weer plaas toe gery omdat hy dié week so besig is met die skape.

Ja, dit is moeilik om so ver van mekaar af te bly, maar sy is ’n onderwysbeurshouer en moet daarom vier jaar in ’n departementspos werk. Sy het nog twee jaar oor. Carl hou styf duim vas sy kry teen volgende jaar ’n pos op Carnarvon of Prieska.

En verloof raak?

Carl lag. “Stel dit so: Dit gaan baie goed en die vooruitsigte is rooskleurig.”