Hy is ook die boer wat die meeste briewe gekry het. Sy deelname het egter heelwat omstredenheid onder sommige sosialemedia-gebruikers veroorsaak aangesien hy die eerste gay boer is wat aan dié reeks deelneem. 

1. Geniepsige kommentaar

Hoe voel die 37-jarige Damian oor hierdie omstredenheid?  “Ek het nie gedink in vandag se lewe is dit so dat seksualiteit nog aandag moet kry nie,” het hy aan Hannes gesê. Hy vertel dat die reaksie wat hy kry wissel van “van baie goed tot baie sleg”.

“Op sosiale media is daar mense wat met baie haat daarbuite rondloop en baie slegte goed sê. Soos jy moet gestenig word. Dan is daar die tannie wat op die kleindorpie sit en ’n baie goeie comment los. Dit oorskadu al hierdie slegte kommentaar. Vir my persoonlik, in elk geval.”

Hy meen “almal het altyd ’n opinie, maak nie saak of jy gay of straight is nie”.

2. Alle gay mans 'lyk nie eenders nie'

Volgens hom is daar ’n siening dat gay mense ’n sekere manier moet lyk. “En nou dat hulle agterkom normale mense kan ook gay wees, was dit bietjie van ’n skok.” 

3. Boer Damian se groot oomblik

Die hoogtepunt vir hom tot dusver in die reeks is om deur te dring na die topvyf.

“Ek was verbaas. Ek het eintlik nie gedink dat ek sal deurgaan nie. Maar dit is ’n baie lekker ervaring. Ek het my beste glimlag gegee!”

Hoewel hy nie self op ’n plaas grootgeword of een geërf het nie, wou hy nog altyd boer. Hy het wel as kind baie tyd op van sy familie se plase deurgebring.

4. Klein begin, groot drome

“Ek het eers grond gehuur en het maar onder begin met net 35 skapies, en die boerdery daarvandaan opgebou. Eintlik is ek nog ’n kleinboer, maar ek het groot drome.”

Vandag boer hy in die Bapsfonteindistrik in Gauteng met bees en skaap. 

5. Dís hoekom hy ingeskryf het 

Damian sê hy het vir Boer soek ’n vrou ingeskryf om liefde te vind, en verduidelik almal het al kanse gevat en probeer om op sekere platforms liefde te kry. 

“En ek soek ook maar net liefde.”

Hy het gedink kykNET se werklikheidsreeks “is dalk ’n goeie geleentheid om by mense uit te kom wat my nog nie gehoor of gesien het nie”. As jy op ’n plaas sit, al is dit naby aan Pretoria, is dit moeilik, som hy sy situasie op. “Nie almal wil tog hul karre elke nou en dan vol stof maak nie. So, om die regte een te kry, wat dalk ’n bakkie het en daai stofpad sal ry, is maar hoekom ek ingeskryf het.”

Maar TV-kykers sal tot vroeg in Januarie, wanneer die reeks tot ’n einde loop, moet wag om te sien of hy wel iemand gevind het wat bereid sou wees om daardie grondpad plaas toe te ry . . .