Boer Damian Engelbrecht
Damian Engelbrecht van Boer soek ’n vrou sê hy is dolverlief op sy “doodnormale boerseun,” Flippie van den Berg (links). Foto: Verskaf

Weke lank al word gegis oor die geheimsinnige man aan die sjarmante boer se sy; die een wat in elke foto niks meer as net ’n skadufiguur bly nie. 

Almal wou weet: Wie is die kêrel oor wie boer Damian Engelbrecht van Boer soek ’n vrou-faam so koer?  Die man aan wie hy op Instagram liefdesbriefies skryf wat lees: “Koffie op die stoep is soveel beter met jou hand in myne.” 

Maar wie dié man is wat hom so laat glimlag, wou Damian (39) nie verklap nie – tot nou.

Vandag erken Damian in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot trots: Hy is dolverlief op Flippie van den Berg (28), sy “doodnormale boerseun”. 

“Ek is ontsettend gelukkig en erg verlief op hom,” vertel Damian en gooi sy arm om Flippie, ’n onderwyser, se nek. Dan vra hy speels: “En jy, my lief?” 

Boer Damian Engelbrecht
Flippie het sommer dadelik op die plaas Rietenbosch by Bapsfontein ingespring. Foto: Verskaf

Flippie, bloedrooi soos hy bloos, antwoord skaam: “Ek is ook!” 

Die nuwe liefde van die eerste gay boer van die reeks het in Desember verlede jaar met ’n enkele boodskap begin. Flippie was in Taiwan waar hy ’n Engels-onderwyser was en het aanlyn by Damian vlerk gesleep. 

“Ek het nooit Boer soek ’n vrou gekyk nie, maar ek onthou ek het Damian in die loodsepisode gesien en toe al gedink hy is my soort mens; ek het baie van hom gehou,” vertel Flippie.

Damian onthou: “Ons het kort ná daardie eerste boodskap sommer elke dag begin gesels; later het ons koffie-dates oor video-oproepe gehou, soms vir drie ure aaneen. En toe laat hoor Flippie in ’n stadium: As hy terug is in Suid-Afrika en ek is nog enkellopend, wil hy saam met my gaan koffie drink,” vertel Damian.

Toe Flippie op 4 Julie op die lughawe land, het Damian hom daar ingewag. 

“Ons het nog vooraf gespot oor hoe ons mekaar gaan groet,” onthou Damian. “Maar toe die deure oopswaai en ek hom daar sien . . . Sjoe, dit was asof alles in plek geval het. Hy was selfs mooier in lewende lywe. Ek het hom ’n helse lang drukkie gegee.” 

Net ’n drukkie? Damian lag. “Oukei, en ’n soen.” 

Die plan was eintlik dat Flippie net ’n week by Damian sou woon op die plaas Rietenbosch by Bapsfontein waar hy met beeste en skape boer. Maar saam op die plaas het hulle so onafskeidbaar geword dat die enkele week later twee maande geword het. 

Vandag woon en boer hulle saam wanneer Flippie nie in Pretoria is waar hy ekstra klasse as vryskutonderwyser aanbied nie. En hul lewe saam bring groot vreugde, sê die twee.

“Ek het vir my twee boran-beeste en ’n trekker gekoop,” vertel Flippie. “Ek is mal oor die lewe hier op die plaas, veral saam met hom.” 

Damian blom. “Vir my,” sê hy dan, “is die lekkerste om nou saans te gaan slaap en soggens wakker te word langs iemand wat jou laat glimlag; iemand vir wie jy omgee. En om te weet jy kry daardie selfde omgee en liefde elke dag terug.” 

Boer Damian Engelbrecht
Flippie boer alte lekker saam met Damian. Hy het sy eie beeste – en selfs sy eie trekker. Foto: Verskaf

‘Dis regte, egte liefde dié’

Dis ’n warm, winderige dag toe Damian vanuit sy sitkamer op die plaas net anderkant Pretoria oor ’n video-oproep met ons gesels.

Damian, geklee in ’n gemaklike T-hemp en ’n kortbroek, skuif eers alleen voor die kamera in voor hy Flippie later aanmaan: “Kom man, gesels saam.” 

Toe verskyn Flippie half skaam voor die kamera en gaan sit neffens Damian; dié vleg sy vingers met Flippie s’n en glimlag vir hom. 

“Flippie is baie skaam,” vertel Damian. “Nè?” sê-vra hy, maar Flippie antwoord net met ’n lag.

Toe hy en Flippie in Desember verlede jaar oor Instagram begin gesels het, het hy sommer gou agterkom dié blondekop is “anders as ander ouens”, sê Damian. En natuurlik het dit gehelp dat Flippie die vergestalting van die “blouoog, blondekop knaap” vir wie Damian “nog altyd ’n sagte plekkie het”. 

“Flippie was . . . Alles waarop ek gehoop het. Ordentlik; gaaf en opreg. Ons is albei lief vir die natuurlewe en vir die plaas; ons het albei gesoek na ’n doodnormale verhouding sonder tierlantyntjies of fieterjasies – net iemand saam met wie ons die lewe kan deel.” 

Dít het hulle nou by mekaar gekry, al was daar ook vrese dat hul aanlyn romanse dalk nooit in ’n “regte, egte” liefdesverhaal sou ontpop nie.

“Toe ek nog in Taiwan was, was dit nie vir ons vreemd om elke dag ure lank te praat nie,” vertel Flippie. “Maar dit was ’n moeilike tyd: Daar was die covid-19-pandemie en reisbeperkings en ek het nie geweet wanneer en óf ek sou kon terugkom Suid-Afrika toe nie.” 

Daarby saam was albei senuagtig oor die ander een se reaksie wanneer hulle mekaar eindelik op die lughawe sou ontmoet, vertel Damian. “Ons het teen daardie tyd al gevoel dat ons ’n goeie fondament gelê het; dat ons mekaar ná ses maande al goed geken het. Maar ’n mens is ook mos maar op jou senuwees, dis menslik.” 

En dis nie asof die noodlot dit makliker probeer maak het nie . . .

“Net voor ek by die plaas gery het, het my voertuig ’n pap band gehad. Toe ek daar aankom, het die vervoerband gebreek waar Flippie sy tasse moes kry. Nou kan jy jou eers indink hoe gestres ons was,” sê hy en hulle lag.

Boer Damian Engelbrecht
In sy “blouoog-, blondekopknaap” het hy iemand gevind met wie hy sy lewe kan deel, sê Damian. Foto: Verskaf

Maar die senuwees was verniet, vertel albei, want toe hulle mekaar eers sien, het die vonke ook in lewende lywe gespat. 

“Die idee was dat ek ’n week saam met Damian hier op die plaas deurbring sodat ons mekaar beter kon leer ken,” verduidelik Flippie. “Maar weens covid-19 in die familie, kon ek nie ná die eerste week terugkeer huis toe, na die Limpopo toe, nie. Ek wou my eie woonstel kry, maar . . . dinge het net nie so uitgewerk nie.” 

Damian val in: “Ek het gesê: Kom ons gee hierdie ding tussen ons ’n behoorlike kans en as ons ná twee maande sien dit werk nie, dan praat ons weer daaroor.” 

Dit het gewerk. Want kort nadat Flippie by Damian ingetrek het, het die blondekop sy boertjie tydens ’n wegbreeknaweek op Dullstroom, in Mpumalanga, gevra om te kys. 

“En ek was nog nie een oomblik spyt nie,” sê Damian en Flippie lag. 

Flippie het sommer gou-gou op die plaas ingespring, vertel Damian. En wanneer hulle nie gewerk het nie, het die twee lang ente gaan stap, kwadfiets gery en saam op die stoep gesit om die uitgestrekte vlaktes om hulle in te neem.  

“Ek het gou besef ons vul mekaar goed aan,” sê Damian. “Dis asof die legkaart net gepas het; alles het natuurlik vir ons in plek geval.” 

So goed het dinge op Rietenbosch gegaan, dat Damian op een slag ’n paar weke gelede “per ongeluk iets laat glip het,” skerts hy. 

“Ek het vir hom gesê ek is lief vir hom,” vertel Damian, en nou vorm ’n gesonde blos op sý wange. “Maar ek dink hy het geskrik, want hy het nie dadelik daarop reageer nie.” 

Maar later, ’n bekommerde Damian nog skrikkerig oor die groot woorde wat per ongeluk op sy lippe gevorm het, het Flippie laat hoor: “Ek is lief vir jou ook.” 

Ja, hul verhouding is dalk nog ’n kalwertjie, maar van een ding is hulle oortuig: Dis regte, egte liefde dié. “Dis asof ons nog altyd bedoel was om saam te wees,” sê Damian. “Want ek weet sonder twyfel: Ek en my doodnormale boerseun gaan nog ’n lang, opwindende pad saam stap.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe