Toe sy die eerste keer huis toe kom, het die sneeu kuithoogte gelê langs die steil grondpad na haar ouerhuis op die skaapplaas in die berge naby Aberdeen in die Oos-Kaap.

Maar met verwarmers in die vertrekke het pa Fanie Marx gesorg dat die temperatuur in die huis tot 21 °C styg sodat klein Anya nie ’n sweempie van die snerpende koue voel nie.

“Sy gaan nou haar ogies oopmaak,” kondig die 33-jarige boer aan met daardie sonderlinge aksent wat hom in 2013 een van die gewildste deelnemers aan die sesde seisoen van Boer Soek ’n Vrou gemaak het.

Klein Anya begin knieserig raak. Saggies tel haar pa haar met sy growwe boerehande op en hou haar teen sy bors vas. “Dis haar gunstelingslaapplek,” sê hy trots.

Anya se gunstelingslaapplek is teen haar pa se bors.

Haar babakamer wemel van veral pienk geskenkies soos ’n gebreide lammetjie. Op ’n houtskaap staan die woorde: “100% Boeremeisie”. En in haar wiegie lê sy op ’n skaapvel.

“Dis haar pa se boerdery-vibe,” verduidelik ma Bernice (27). Fanie het ’n skaapplaas hier in die berge en ook een op die Karoovlakte nader aan Aberdeen.

“Moenie jou gesig so trek nie. Het jy iets suurs geëet?” terg hy sy dogter.

Kykers van kykNET se gewilde werklikheidsreeks het hom vyf jaar gelede as ’n opperste platjie leer ken wie se aksent en sêgoed hulle reeds laat giggel het nog voor hy ’n grappie gemaak het. Nou, terwyl die kamera flits, laat hy hoor: “Kyk hoe pose die ding.”

Oor ’n paar maande sal hy sommer vir Anya in haar babastoeltjie in die bakkie wil laai om saam plaaswerk te doen, voorspel Bernice. Maar nou waag hulle dit nie om haar in die ysige koue buitentoe te neem nie.

Hier waar die wit-en-groen plaasopstal hoog teen ’n bergwand staan, daal die temperatuur tot 12° onder vriespunt. Maar in haar ouers se bergvesting is die twee weke oue kleinding warm, geborge en gelief.

“Ek kan nie wag dat sy oud genoeg is om ’n geweer vas te hou nie. Dan moet sy gooi. Sy gaan eendag saam met my die reusekoedoes op die plaas jag,” vertel Fanie van sy planne vir Anya – of Anya Kapanya soos hy haar noem. Haar ander bynaam is Poppie.

“ ’n Dogter is mos maar haar pa s’n,” gee ma Bernice toe. “My ma het klaar gevra wanneer kom die boetie. Ek het gisteraand gedroom ek het nog ’n babatjie. Dan het ek darem iemand in mý span,” skerts sy.

Want Anya is duidelik pa se kind. Op haar hempie staan: “My dad is my hero.”

Op die 18 km lange bergpad na hul plaashuis slaan die regaf kranse en majestueuse valleie jou asem weg. Oral waar jy om jou kyk, lyk dit soos Otto Klar-skilderye.

Die plaashuis is verskuil agter ’n gordyn van populierbome. Jy ry verby ’n fontein wat ’n dammetjie voed, oortrek met rooi waterblomme.

“My pa het sy Tupperware hier verloor,” waarsku Fanie vooraf oor die ruwe paaie wat ’n motor uitmekaar kan skud.

“Niemand kom ooit ongenooid hier nie. Selfs my pelle sê ek is mal wanneer ek hulle nooi vir ’n braai. Die enigste las wat ek al gehad het, is bobbejane wat my sproeiers breek en selfs eenkeer my trekker se sleutel gesteel het,” gesels hy.

Binne die huis ruik dit na babapoeier en room. In die gang is ’n swart-wit foto van ’n glimlaggende Fanie. Op die oorkantse muur staan: “Every family has a story . . . Welcome to ours.

Deur die venster van die eetkamer sien jy ’n boom met pienk bloeisels. Hierdie deel van die Groot-Karoo gaan soos in ander dele van die land nou onder ’n kwaai droogte gebuk.

Tog het dit met Anya se geboorte op ?6 September in die Georgehospitaal gestortreën nes op Fanie en Bernice se troudag in Junie verlede jaar.

“Die bruilof wat reën kan bring,” het die opskrif van die artikel in Huisgenoot toe gelui.

En op hul eersteling se geboortedag het ook 30 mm op die onderste plaas geval – die eerste reën in vier dorre jare. Hier op die bergplaas het dit daardie dag gesneeu. Die wind was so sterk dat dit ’n standbeeld van ’n balkon afgewaai het.

Fanie borrel oor: “Dis ons kind van reën en seën.”

Haar naam beteken dan ook “God se geluksaligheid”.

Die plaas naby Aberdeen in die Oos-Kaap is met sneeu bedek.

Tot twee weke voor haar geboorte wou hulle haar Ava noem. Maar toe kom Bernice op die internet op die naam Anya af. Die betekenis daarvan het haar getref en daarby klink dit baie soos haar ouma Anna Strydom se naam.

“Ons het nie beplan om so vinnig kinders te hê nie,” vertel Bernice. “Maar ná die troue het dinge gebeur soos dit moes.”

Haar en Fanie se romanse het nie voor die TV-kameras ontvou nie.

Bernice, ’n rekenmeester, het nie destyds aan die gewilde kykNET-reeks deelgeneem nie, maar toe Fanie nie ’n vrou ontmoet wat so reg in sy kraal pas nie, het sy vir hom ’n boodskap op Facebook gestuur: “Hallo. Hierdie gaan random wees: Ek hou van hoe jy praat.”

Sy vriende moes help terugskryf op Facebook, want hy het nie geweet “hoe dié ding werk nie”.

Dit was toe vir hom nog ’n nuwigheid. Hy het by haar in Bloemfontein in die Vrystaat gekuier. En sy by hom in die Oos-Kaap.

“Sy het dadelik op die plaas aangepas,” het Fanie met hul troue aan Huisgenoot vertel.

Die getroude lewe pas hulle ook goed. “Hy verstaan my. Dis gaaf om altyd iemand aan jou kant te hê,” sê Bernice.

“Ek het heeltyd my maatjie saam met my,” sê Fanie op sy beurt. “Ek het altyd iemand om mee te praat. En dis lekker om pa te wees,” voeg hy by.

Hier in die stil plaashuis spits hulle nou hul ore vir elke geluidjie.

Anya maak selde haar ogies oop.

“Sy is baie soet,” spog Fanie met hul kleinding. “Die eerste vier nagte het sy niks geslaap nie, maar nou word sy net twee tot drie keer per nag wakker. Ons slaap maar een oog op ’n slag.”

Een nag het hulle hulle lê en bekommer omdat hulle gedink het hulle hoor haar hik.

“Ons vind toe uit dis die heater wat aan- en afskakel . . .”

Klein soos sy is, het Anya klaar hul lewe kom verander.

“Voorheen wanneer ek en Bernice iewers heen gereis het, was dit met een tas. Maar toe ons van George terugry, was die bakkie vol van die kind se goed. Waar dit eers ’n halfdag gevat het, is dit nou ’n hele dag se storie. Haastig is verby,” sug Fanie.

Sy pa, ook Fanie, is verlede jaar, twee maande voor hul troue, op 63-jarige ouderdom weens lewerkanker oorlede.

“Hy sou so opgewonde gewees het oor sy tweede kleindogter.’’

Hy dink al vooruit aan die dag wanneer Anya moet begin skoolgaan. Daar is nou ses nuwe babas op Aberdeen asook drie swanger vroue.

“Hulle sal almal die skoolkar kan deel,” meen hy.

Die nuwe ouers voor hul bergplaasopstal, sowat ’n uur se ry van Aberdeen.

Later sal Anya kosskool toe moet gaan – op Graaff-Reinet, sowat 100 km van die plaas, maar daaraan wil hy nie nou al dink nie.

Veel nader in die toekoms lê die dag dat sy ingeseën sal word. Pleks van in ’n kerk wil hulle die seremonie hier op die plaas hou. Hy gaan wys vir ons die plek anderkant die lusernland aan die einde van die populierbos.

“Hier wil ons haar inseën wanneer sy drie maande oud is. Dan sal ’n blaredakkie hier wees,” beduie hy.

Die fonteinwater wat hul huis ook bedien, kabbel rustig verby. Die natuur praat.

Dan sê Fanie in daardie wonderlike aksent van hom: “Wanneer die wind deur die boomtoppe waai, klink dit hier net soos by die see . . .”